Vadertjie Staat kan nie
2012-02-06 22:08
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Die afgelope vier jaar is die kapitalisme in ’n krisis. Was Karl Marx dan tog reg toe hy voorspel het dat die stelsel aan sy eie interne teenstellings onder sou gaan? Leopold Scholtz ondersoek die saak.
Toe die Berlynse Muur in 1989 verkrummel en die Sowjetunie twee jaar later uiteenval, was daar in die Weste ’n triomfantelike atmosfeer. Die kommunisme is dood, is gejuig; die kapitalisme het finaal en vir altyd die stryd gewen.
Twee dekades later is die kapitalisme self in ’n krisis. Amerika sit met ’n skuldlas van triljoene dollars, verswelging bedreig ’n groot deel van Europa, die maatskaplike onrus groei en waarnemers fluister tot oor revolusie of minstens straatgeweld soos dié wat dele van die Arabiese wêreld teister.
Is die toekoms van die kapitalisme nog wat dit 20 jaar gelede was?
Kom ons kyk eers na die krisis self en die oorsake daarvan.
Dit het in 2008 begin, toe die eiendomsmark in Amerika in duie gestort en die reuse-bank Lehman Brothers omgeval het. Daarvandaan het dit soos ’n tsoenami na die res van Amerika en Europa oorgespoel en talle regerings moes miljarde bestee om ander banke van bankrotskap te red.
Met dié gevaar kwalik agter die rug het die Weste net begin asem skep toe die volgende krisis losbars. Griekeland, het dit geblyk, steier op die randjie van die afgrond en Portugal, Spanje en Italië beweeg ook gevaarlik in dié rigting.
Weer moes Europese regerings woes rondskarrel om ’n noodfonds in die lewe te roep om Griekeland orent te hou. En steeds het die gevaar nie gewyk nie.
Die twee krisisse bymekaar het heelwat maatskaplike plofstof opgelewer wat yslike skade kan aanrig as die probleem nie taamlik spoedig opgelos word nie.
Wat die Europese en Amerikaanse Jan Alleman met ’n gemiddelde inkomste in die afgelope vier jaar gesien het, het hom nie vrolik gemaak nie.
Enersyds het hy ’n groep skatryk, gierige bankiers en sakelui gesien wat geen snars omgee vir die algemene welsyn nie en net kyk na hul eie bonus en beursie (en ja, daar is meer as genoeg van hulle in Suid-Afrika ook, wit en swart).
Uiteindelik is daardie banke en ondernemings met belastinggeld orent gehou. As hulle omgeval het, sou dit ’n ekonomiese katastrofe beteken het, maar dit het wel beteken Jan Alleman moes die gelag betaal – en niks dui daarop dat daardie gierigaards intussen hul les geleer het nie.
Andersyds het Jan Alleman gesien hoe sommige regerings, veral dié in Amerika en Suid-Europa, geld rondsmyt asof dit confetti is. Begrotingsdissipline was vreemde woorde in die Amerika van die Bush- en Obama-administrasie – toe dié woorde geskryf is, was die Amerikaanse staatskuld volgens die webwerf usdebtclock.org $15 301 388 000 – en met elke sekonde styg dit met etlike duisende dollar.
In lande soos Griekeland, Italië, Spanje, Portugal en in ’n mindere mate ook Frankryk en België het die regerings ook miljarde meer bestee as wat hulle ingekry het.
Ofskoon die EU se reëls bepaal dat die begrotingstekort nie meer as 3% mag wees nie, het Griekeland byvoorbeeld skaamteloos daaroor gelieg en in werklikheid begrotingstekorte van by die 15% weggesteek.
Nou ja, elke verstandige huisvrou weet maar alte goed dat sy nie onbepaald lank kan voortgaan om meer geld te bestee as wat die huisgesin kollektief verdien nie. Die tekort kan slegs aangevul word deur geld te leen – wat egter met rente terugbetaal moet word.
Uiteindelik dreig bankrotskap, tensy daar op die uitgawes besnoei word. Dis wat nou in Griekeland gebeur.
Op aandrang van veral Duitsland en Nederland, wat streng begrotingsdissipline handhaaf, het die EU nou nuwe reëls afgespreek om begrotingsdissipline te handhaaf. Maar die sondaars leer nou wat die alternatief is vir geld leen, naamlik besnoeiings.
En daardie besnoeiings is pynlik. Daar is nie meer geld vir rojale maatskaplike toelaes nie, die kunste word kwaai getref, weermagte word uitgehol, staatsbesteding word op talle verskillende terreine uitgestel of afgestel.
Die Europeërs, wat gewoond geword het aan die feit dat Vadertjie Staat sal sorg as dinge skeefloop, is dit ’n bitter pil om te sluk.
Die rykes – dié wat die eerste krisis aan die gang gehelp het – word nie getref nie; hulle het meestal genoeg in belastingparadyse weggesteek om in weelde te kan oorleef.
Die armes is eintlik al gewoond daaraan om aan die kortste ent te trek. Maar die middelklas – dís waar die maatskaplike plofstof lê. Die middelklas dreig nou om ook arm te word.
In Spanje is die werkloosheidskoers al 23%, en onder die jonges onder 25 jaar is dit selfs byna 49%. In Griekeland is die ooreenstemmende syfers 19 en 48.
Dit is die hoogste sedert 1998, luidens Eurostat, die EU se buro vir statistieke. En alles dui daarop dat Griekeland nie gered kán word nie; die land sal ’n beheerde bankrotskap moet ondergaan en moontlik selfs uit die euro tree.
As die eerste domino val, sal die ander kan staande bly? Dit is die vraag op almal se lippe, een wat egter nie beantwoord kan word nie.
Die Amerikaanse politikoloog Francis Fukuyama wys in ’n ontstellende onderhoud met die Duitse nuustydskrif Der Spiegel daarop dat ’n demokrasie sonder ’n stabiele, welvarende middelklas maklik die slagoffer van linkse of regse ekstremistiese populiste kan word.
Dis wat Adolf Hitler in 1933 aan die bewind gehelp het, en ook die relatiewe gewildheid van regs-ekstremistiese partye in Europa en die Tea Party in Amerika help verklaar.
Dis almal groepe wat nie konserwatief genoem kan word nie.
Hulle wil nie sake behou soos dit is nie; hulle wil ’n radikale revolusie teweeg bring – en Jan Alleman se onsekerheid maak van hom ’n goeie teiken.
Kan die kapitalisme gered word? Die antwoord is ja, mits.
Mits die rykes minder gierig word en meer klem lê op dinge soos diens en die algemene belang, pleks van wins en hul eie bonusse.
Mits Jan Alleman weer op sy eie bene kan leer staan en nie bakhand by die staat bedel nie.
Mits regerings kan ophou om stemme te koop met maatskaplike toelaes en begrotingsdissipline kan handhaaf.
So nie, wag swaar tye op die kapitalisme.
En as die kapitalisme ondergaan, is dit twyfelagtig of die liberale veelparty-demokrasie sal kan oorleef.