Verdoem tot armoede
2012-02-20 22:40
Suid-Afrika staan op die rand van ’n afgrond wat die versorging van sy wit bejaardes betref. ’n Mens kan selfs praat van ’n verskynsel van skaamte-armoede, skryf Piet Muller. Hy reageer op Transnet-pensioentrekkers wat net R1 van hul pensioen uitkry.
My eerste reaksie op Saterdag se hoofberig in Beeld oor Transnet-pensioentrekkers wat net R1 van hul pensioen kry, is dat dit net die oortjies van die seekoei is.
Dit raak dikwels ook mense wat hoë betrekkinge in die staatsdiens gehad het, wat belangrike dienste aan die samelewing bewys het; wie se huise afbetaal is en ou motors nog goed lyk; maar in werklikheid skaars geld het om kos te koop.
’n Mens kan dit skaamte-armoede noem omdat sulke mense meestal onwillig is om oor hul geldelike penarie te praat omdat hulle dikwels onder die wanindruk is dat dit met hul vriende en kollegas beter gaan as met hulle.
Hierdie situasie het twee oorsake: die verpligte vervroegde aftrede van duisende amptenare in die laat 1980’s en vroeë 1990’s; en die moderne langlewendheid wat gaan veroorsaak dat meer as 40% van hierdie mense na raming tussen 90 en 100 jaar oud gaan word en sowat 20% selfs tot 120 kan lewe.
Maar toe hulle uit diens gestel is, was dit nog die veronderstelling dat pensioene ’n mens vir sowat 15 tot 20 jaar ná jou aftrede moet kan dra.
As mense in 1990 in hul 50’s uit diens gestel is, is hulle nou reeds 22 jaar op pensioen en het hulle reeds die punt bereik waar hulle nie meer geldelik selfversorgend kan wees nie.
Om die waarheid van hierdie teoretiese model te toets, het ek met sulke mense afsprake probeer reël, maar elkeen wat ek deur ’n tussenganger probeer bereik het, het ’n onderhoud geweier – uit vrees dat hul vriende hulle sal kan identifiseer.
Dit is eers toe ek oor RSG se program Kopskuif ’n beroep op mense gedoen het om desnoods anoniem met my in aanraking te kom, dat ek letterlik honderde briewe ontvang het.
Al die briewe vertel dieselfde verhaal: Hoe versigtig mense ook al met hul geld gewerk het en hoe hulle ook al probeer afskaal het, hul pensioene kan net nie meer die stygende verpligtinge dra nie. (Brief hiernaas).
Nodeloos om te sê, mense wat onderwysers was, se situasie is nog veel desperater omdat hul salarisse soveel laer was as ander staatsamptenare s’n.
Ironies genoeg is dit vandag net relatief “welvarende” bejaardes wat kan bekostig om in gesubsidieerde ouetehuise te woon, waar die tariewe per maand normaalweg wissel tussen R7 000 en R11 000 per persoon.
’n Afgetrede egpaar wat albei ’n staatsouderdomspensioen ontvang (sowat R1 020 per persoon) sal nie eens die meeste metropole se tariewe en belastings kan bekostig nie; en hoegenaamd geen plek kan bekostig in ’n normale ouetehuis nie.
In die geval van skaamte-armoede is die mense gedwing om vroeg af te tree.
Mense wat in hul vyfde dekade verplig word om af te tree, is besonder weerloos omdat hulle dikwels nog huise het wat nie afbetaal is nie en kinders op skool of universiteit het.
Maar veral omdat hul pensioene nog nie “ryp geword” het nie.
Omdat pensioene afhanklik is van die krag van saamgestelde rente, bou dit baie stadig op om in die laaste paar jaar drasties te groei.
Dit is niks vreemds dat iemand se pensioen tussen die jare 60 en 65 kan verdubbel nie. Dit is hierdie groei wat mense ontneem word wat voortydig uit diens gestel word.
Tog is dit nog ’n gunsteling-metode van maatskappye wat vinnig hul bottom line beter wil laat lyk.
’n Suid-Afrikaans geregistreerde multinasionale maatskappy het ’n jaar gelede sowat 3 000 mense bo 50 laat loop.
Dit het direkteure in staat gestel om hulself bonusse van tot 120% te gee en die dividend van die maatskappy kon op ’n rekordvlak bly.
Maar duisende mense is tot armoede verdoem om dit reg te kry.
Eerstewêreldlande is besig om hul aftree-ouderdom tot 70 te verhoog omdat ’n mens deesdae soveel kennis onder die knie moet kry voordat jy uitnemende prestasies kan lewer dat ’n groeiende aantal mense besig is om die beste intellektuele prestasies van hul loopbaan te lewer tussen die jare 60 en 70.
Let maar op hoeveel mense met Nobelpryse bekroon word in hul vroeë 70’s.
Om mense in hul 50’s uit diens te stel, is immoreel. Dit is ook ’n gruwelike verkwisting van die een ding waaraan die wêreld se nuwe ekonomie ’n chroniese skaarste het: hoëvlakkennis.
Sonia Arrison, Amerikaanse toekomskundige en ekonoom, het in ’n onderhoud met die tydskrif The Futurist beweer dat state binnekort met mekaar gaan begin meeding om hul bevolkings langer te laat lewe omdat dit ekonomiese sin maak.
Magnus Heystek is heeltemal reg: Ons kan nie meer bekostig om hooggeskoolde mense te laat aftree voor 80 nie.
Veral in ’n land waar so ’n klein minderheid die belasting moet voorsien wat so ’n groot meerderheid moet onderhou.
Die probleem van skaamte-armoede is nie net beperk tot mense wat in die vorige eeu afgetree het nie. Dit kan met enige van Beeld se huidige lesers gebeur.
’n Finansiële raadgewer het onlangs bereken dat as ’n mens voorsiening moet maak vir ’n pensioen totdat jy 100 jaar oud is, mense nie meer as R4 000 per maand inkomste behoort te trek op elke R1 miljoen pensioengeld wat hulle het nie.
As ’n mens darem ’n inkomste van R20?000 per maand wil hê, behoort jou pensioen dus sowat R5 miljoen groot te wees.
Ongelukkig tree die gemiddelde Suid-Afrikaner af met ’n pensioen van minder as R1 miljoen.
Die regering het die afgelope 16 jaar die langlewendheidsprobleem heeltemal geïgnoreer omdat sy standpunt is dat bejaarde-versorging deur mense se eie families gedoen moet word – soos wat dit tradisioneel deur swart families gedoen is, vandaar die klem op baie kinders om jou te kan versorg.
Dit is waarskynlik jong swart mense wat ná 1994 die arbeidsmark betree het, wat die meeste daardeur benadeel gaan word.
Hierdie stedelinge het meestal net so min kinders as wit mense.
Boonop word meer en meer vroue tot hoë posisies bevorder en hulle sal beslis nie geneë neem om hul werk te bedank om bejaarde ouers te versorg nie.
Ons sit eenvoudig op ’n tikkende tydbom wat niemand gaan ontsien nie.
Dr. Piet Muller is ’n toekomskundige met ’n spesiale belangstelling in die gevolge van veroudering en langlewendheid.
Verkeerd belê
Ná 35 jaar diens by plaaslike owerhede het ek in 2000 op 56 afgetree.
Ons het die keuse gehad om ’n kontantbedrag te neem of ’n kwart van die bedrag plus maandelikse pensioen te kry.
Dit was ’n baie moeilike keuse. Ek sou nog 10 jaar kon aangaan, maar sou van spanning doodgaan voor aftrede.
Verder is ons wysgemaak dat pensioenfondse genasionaliseer gaan word. Uiteindelik het ek die volle kontantbedrag geneem en in ’n effektetrustfonds belê. Ná 10 jaar is niks daarvan oor nie.
Ná baie trane het ons besluit om ons huis te verkoop. Weer eens het ek die geld in effektetrustfondse belê en ontvang dus geen rente nie.
Daar is tans geen groei nie. Die fondse stagneer. Volgens my bere-kenings sal die geld nie langer as 5 jaar hou nie.
Daar is geen oplossing vir my probleem nie.
Ek lê snags wakker of skrik wakker van angs. As ’n mens jonger is, kan jy jou nie indink hoe om sonder geld voort te bestaan nie. Selfs ’n ouetehuis is buite die kwessie as ek net ’n staatspensioen het om aan te bied.
Om selfmoord te pleeg, is ook nie ’n oplossing nie, want my vrou moet dan in ellende agterbly. Enige sielkundige sal sê ek moet die gedagte uit my kop kry, maar geen sielkundige sal in die volgende 20 jaar vir ons kan sorg nie.
Ek is nou 68, nog baie gesond en sal nog maklik 15 tot 20 jaar kan leef.
Ons kinders woon oorsee en ons hoor maar min van hulle.
My motor is ’n wrak. Ek het my geld so beskerm dat ek nie eens ’n nuwe motor gekoop het soos my kollegas wat ook afgetree het nie.
Ons het nooit rojaal gelewe nie.
100 nie meer oud
Dit is sedert ’n Franse vrou, madame Jeanne Calment, in 1977 in die ouderdom van 122 jaar gesterf het dat toekomskundiges byna met ’n skok die implikasies van die moderne langlewendheid begin besef het.
Sy was ’n meisie van 13 toe die Nederlandse skilder Vincent van Gogh in haar tuisdorp, Arles, in Frankryk kom woon het.
By die 100ste herdenking van sy dood kon sy die wêreld vertel hoe die dorpenaars die stugge kunstenaar beleef het.
In Japan neem 100-jariges toe teen ’n tempo van 12% per jaar. Daar is reeds ’n groter mark vir doeke vir bejaardes as doeke vir babas.