Verraaier? Daai naam pla hom nie
2010-08-26 22:51
Die stem waarin hy oor sy vrou praat; oor die “bietjie heimwee” na hul plaas; oor die keer toe hy by die dood omgedraai het – dít is ’n sagte stem.
Die stem van ’n man wat ook ’n foto van sy ma langs sy lessenaar het.
’n Man wat sy geliefde Latyn-onderwyser in herinnering roep.
Maar wanneer oudpres. FW de Klerk gevra word om terug te kyk op Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie wat nou ’n jong volwassene van 20 jaar is, praat hy met ’n ander stem.
Ineens hoor ons daardie stem wat op die oggend van 2 Februarie 1990 uit die parlement in Kaapstad alle uithoeke van die wêreld bereik het: “Die tyd vir onderhandeling het aangebreek.”
Dit is die stem wat ook in die Victor Verster-gevangenis buite die Paarl gehoor is deur ’n man wat gesit en TV kyk het.
“Dit was ’n asemrowende oomblik, want in een ingrypende daad het hy die situasie in Suid-Afrika feitlik genormaliseer. Ons wêreld het oornag verander.”
Oudpres. Nelson Mandela het destyds gesê: “ ... vir die eerste keer in amper 30 jaar gaan my foto en my woorde, en dié van my kamerade, in Suid-Afrikaanse koerante verskyn.”
Ironies is dit dan dat die man wat “die situasie in Suid-Afrika feitlik genormaliseer het”, nou sê: “Ek meen daar is rede tot groot kommer vir alle gebalanseerde Suid-Afrikaners wat ’n hoë prys op ons demokrasie plaas.
“Die elemente van federalisme in die Grondwet is in gevaar; die vryheid van die pers is in gevaar; die vryemarkekonomie is in gevaar; en die onafhanklikheid van die regbank is in gevaar.
“As daar ooit ’n tyd was vir die burgerlike gemeenskap om toe te tree tot die debat en tot aktiewe optrede met betrekking tot hierdie vier sake, dan is dit nou.”
Ons gesprek vind plaas in ’n konferensievertrek in die gebou in Plattekloof, noord van Kaapstad, vanwaar De Klerk se FW de Klerk-stigting bedryf word.
Die vertrek word onder meer versier deur groot doeke van Bettie Cilliers-Barnard en Cecil Skotnes en ’n bronsbeeld van ’n aanstormende olifant.
Op die tafel waarby ons sit, is nog ’n bronsbeeld: van ’n hand waarin ’n vrouefiguur lê.
Dit simboliseer die geboorte van iets nuuts in die hand van God, sê De Klerk.
“’n Vriend van my, Fana Malherbe, het dit gedoen. Toe ons nog ons plaas Wildepaardejacht (in Klein-Drakenstein, naby die Paarl) gehad het, het my vrou (Elita) my ’n slag verras.
“Sy het hom gevra om twee lewensgrootte perdekoppe te maak wat in die wind hardloop soos wilde perde.
Toe ons die plaas verkoop, het ons daai twee koppe wel na ons nuwe huis in Kaapstad gebring.”
Hulle was tien jaar lank op die plaas en woon die afgelope twee jaar in Fresnaye.
“Ons was baie lief vir die plaas, maar vier jaar gelede was ek amper dood. Ek het ’n kolonoperasie gehad (weens kanker), maar uiteindelik goed daardeur gekom. Maar ek was twee weke lank in ’n koma.
“En toe ek nou begin beter word, het ek myself begin afvra: As ek nou iets sou oorkom ... my vrou, synde ’n Griekse burger, maar wat sal aanbly in Suid-Afrika, kan sy alleen op die plaas bly? En die antwoord was néé.
“Toe het ons besluit om die plaas te verkoop en stad toe te trek. Ons is baie gelukkig in ons nuwe huis.
“Daar is nog so ’n bietjie heimwee by my na die plaas, maar nou ja, ons ry ook minder en kan meer tyd tuis deurbring en minder op die pad.”
In sy hoedanigheid as voorsitter van die FW de Klerk-stigting sowel as die Global Leadership Foundation tree De Klerk oor die wêreld heen op as spreker en neem hy deel aan vredeskonferensies.
“Aan die begin was die hooftema: Hoe het die wonderwerk in Suid-Afrika gebeur? Die wêreld het dit beskou as ’n wonderwerk. Maar ekself het ook moeg geword daarvoor en die pad was al stofgetrap ná ’n stadium.
“Toe het ek begin praat oor die bestuur van multikulturele gemeenskappe. Oor die uitdaging.
“Want ten grondslag van die meeste van die gewelddadige stryde deur die wêreld lê in die mislukking om multikulturele gemeenskappe behoorlik te orden en te bestuur.”
Hy praat ook oor die lesse wat ons geleer het met betrekking tot onderhandeling. En oor leierskap.
Of oor globalisering vanuit ’n Afrika-perspektief. Maar soms praat hy oor iets heeltemal anders.
“Ek het verlede Saterdag opgetree by wat genoem is Survivor’s Day van kankerpasiënte. Want ekself is ’n oorlewende van kanker.
Daar was 300 mense in Durbanville in ’n skoolsaal bymekaar wat almal kanker gehad het of nog behandel word daarvoor, maar wat as gevolg ook van die moderne wetenskap daarin slaag om ’n normale lewe te lei ondanks die kanker.”
Kanker dwing jou tot diep nadenke.
“As ’n mens ’n dodelike siekte kry en as gevolg van mediese ingryping en met die genade van die Here gespaar word en teen verwagtinge in selfs herstel, soos dit met mý die geval was, dan kom die besef by jou tuis: Maar ek het ékstra tyd gekry!”
Sy stem is hees.
“En ek het myself afgevra wat gaan ek dóén met daardie ekstra tyd. En dit het vir my ’n nuwe inspirasie gegee om te sê ek is gespáár.
“Om wát te doen? Om pósitief ’n bydrae te probeer lewer. ’n Mens kan natuurlik nie op élke lewensterrein ...
“Jy moet volgens jou talente en jou ervaring.
So ek het met nuwe energie my begin toewy aan wat ons doen hier by die FW de Klerk-stigting en by die Global Leadership Foundation waar ons internasionaal advies gee aan regerings – nie vir wins nie – in die ontwikkelende wêreld ten opsigte van goeie regering en om beter ekonomiese vooruitsigte te skep.”
Het die Suid-Afrikaanse regering al van hierdie dienste gebruik gemaak?
Stadig plooi ’n glimlag oor sy gesig.
“Nee. En ek twyfel of hulle mý sal nader.
“Ek dink hul oordeel sal wees dat ek bevooroordeeld is. Hulle weet dat ek op partypolitieke vlak oortuig is dat die ANC te groot en te sterk is en dat opposisiepolitiek in Suid-Afrika versterk moet word.
Ons het ’n mooi demokrasie op papier. Ons sal eers ’n werklik gesonde demokrasie hê as daar onsekerheid ontstaan oor wie die volgende verkiesing gaan wen.
“Om dít te bereik glo ek die ANC moet skeur en ek dink hy gáán skeur.”
Ja, stem hy saam, hy kan ’n stywe pas handhaaf.
“Ek is geseën met baie energie. Ek word nie gou moeg nie. Ek kán hard werk en ek geniét dit om hard te werk.
“Dit klink ’n bietjie selfverheffend om dit so te stel ... Ek voel baie jonger as wat ek is en ek handhaaf ’n tempo van ’n ietwat jonger mens. Tewens, ek het besluit ek wil leef asof ek 69 is.
“Ondanks die feit dat ek volgende jaar 75 word. Vir my is dít die norm:
“Hoe was ek toe ek 69 was? En ek probeer my aktiwiteit op dieselfde vlak hou as wat dit toentertyd was en nie in ’n mate selfbejammerend te word – ek is nou ’n ou man nie.”
Hy glimlag.
“Maar ek wil nou darem ook nie te jonk wees nie; daarom het ek 69 gekies en nie 59 nie.”
Hy en Mandela “het nogal goeie vriende geword”.
“Omdat hy oud is, pla ek hom nie, maar ons bel op verjaardae mekaar.
“Ons het al by mekaar geëet aan huis. Ons sou nóú by hulle gaan kuier het toe ek ’n slag opgegaan het hier rondom die Wêreldbeker, maar toe is my vlug vertraag en moes ons die afspraak kanselleer. Ons het ’n goeie verhouding.”
Hy het al baie verguising beleef; is al vir ’n verraaier uitgekryt.
“Ek is oortuig dat wat ons gedoen het, nie ék nie – ons, van 1989 af tot 1994 in die béste belang van almal in Suid-Afrika was en dat ons ’n katastrofe afgeweer en voorkom het; dat ons honderdduisende lewens gered het wat ingeboet sou word in ’n vernietigende stryd wat hierdie land tot stóf sou vernietig.
“En daarom,” sê hy “as iemand my ’n verraaier noem, ontstel dit my nié, want ek glo ek het niemand verraai nie, maar met my foute en al, my wérklike bes probeer om juis almal se belange ten beste te dien.”
Hy en sy vrou het ’n “fantastiese verhouding”.
“Ek deel alles met haar. En dikwels as ek te juridies raak, is sy die een wat sê: ‘Maar wat hiervan? En wat daarvan?’
En sy vul my aan op ’n wonderlike manier.
“Sy gaan órals waar ek gaan saam met my. Dwársdeur die wêreld. Want ek het min tyd oor as ek na my ouderdom kyk en élke oomblik saam met haar is kosbaar.”