Waarom tree ons af op 60?
2012-01-26 21:37
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
As beleggingsadviseur en joernalis wat die afgelope 30 jaar oor aftreebeplanning praat en preek, is dit nie meer vir Magnus Heystek’n kwessie van of daar ’n krisis is nie, maar hoe groot dit gaan wees.
Dit is kommerwekkend dat ondanks soveel jare se waarskuwings daaroor – veral in die afgelope 20 jaar – is daar amper ’n hele generasie afgetredenes en diegene na aan aftrede wat steeds wil aftree soos ’n generasie of twee gelede.
Hulle wil ophou werk hier rondom 60 en dan staatmaak op ’n pensioengeldjie, hetsy uit ’n pensioenfonds of vaste deposito, wat geldelik sal sorg tot in lengte van dae.
Ons weet nou dié model werk nie meer nie. Dis ’n resep vir ’n geleidelike, maar onafwendbare afdraande na armoede.
Ek het geen welbehae om te sien en te hoor van soveel mense wat reeds afgetree het of aftrede nader met ’n sigbare gebrek aan genoeg kapitaal/inkomste nie.
Die “aftreemodel” van die middel tot laat 20ste eeu word steeds deur baie mense en selfs deur die owerheid en die korporatiewe wêreld toegepas.
Dié model werk kortliks soos volg: Maak skool/universiteit klaar hier om en by 25, werk vir 30 tot 40 jaar en tree dan af hier teen 60, tensy ’n mens gelukkig was om ’n Griekse staatsamptenaar te wees wat kan aftree met ’n lewenslange pensioen op 55 ...
Met die uitsondering van ’n paar lande, meestal in Afrika, het die gemiddelde lewensverwagting oral ter wêreld deur die 20ste eeu drasties toegeneem, met bykans ’n jaar per
dekade.
Die gemiddelde lewensverwagting in die Weste is 77 vir mans en 82 vir vroue en dié syfer styg steeds.
Vanuit ’n aktuariële oogpunt is dit ’n demografiese kernbom.
Dis een van die redes hoekom maatskappye reeds jare gelede begin het om hul pensioenfondse oor te skuif van ’n gedefinieerde voordelefonds, waar voordele gedefinieer en gewaarborg is, na gedefinieerde bydraefondse, waar net die bydraes bekend is en nie die eindbedrag nie.
Wêreldwyd het groot maatskappye reeds lankal bereken dat die aktuariële verpligtinge in dié ou fondse hulle bankrot kan maak.
Suid-Afrika is ook deur hierdie fase, veral in die laat 1990’s, toe letterlik duisende maatskappye na die nuwe model oorgeskakel het.
Die gevolg is dat by aftrede die lid verantwoordelik sal wees om daardie geld te belê om te sorg vir ’n groeiende inkomste vir die res van sy/haar lewe.
En dit kan 30 of selfs 40 jaar wees.
In die meeste gevalle gaan daar eenvoudig nie genoeg geld wees daarvoor nie.
Baie mense kan net hulself verantwoordelik hou vir die situasie waarin hulle hul bevind.
Daar word nie gespaar nie, beleggingsplanne word te maklik gekanselleer en dies meer.
Ons almal is skuldig daaraan.
By verandering van werk onttrek meer as 80% van mense hul geld en bestee dit, aldus Ou Mutual.
Toe ek in 1995 as joernalis bedank het om my eie onderneming te begin, was daar R149 000 in die pensioenfonds.
Ek het amper geswig voor die versoeking om die geld te onttrek.
Vandag is die waarde amper R2,3 miljoen, ’n groeikoers van duskant 17% per jaar.
Ek kan nou elke jaar R149 000 trek sonder om aan die kapitaal te raak.
Teen 2050 sal die getal mense ter wêreld ouer as 100 styg tot 6 miljoen.
Kom ons draai die syfer om: Oor 39 jaar sal baie mense wat vandag 61 is steeds hier wees, maar dit bly verstommend dat groot maatskappye ondanks dié snelle styging in lewensverwagting hul mense steeds dwing om op 60 af te tree.
Verlede maand het Pat Davies van Sasol afgetree omdat hy 60 geword het.
Wat ’n ongelooflike vermorsing van kundige mannekrag.
Suid-Afrika sit met ’n tekort aan opgeleide vakkundiges van 800 000, aldus Adcorp, maar ons tree mense af op 60!
Nie lank gelede nie het die 70-jarige Neil Diamond ’n gehoor van meer as 100 000 mense hier vermaak, Jane Fonda (75) laat steeds die manne se monde kwyl, terwyl Clint Eastwood op 80 steeds die maaifoedies alle hel gee.
Maar dié artikel gaan nie soseer oor die historiese aanloop van die krisis op hande nie: Dit gaan oor praktiese raad indien moontlik aan die menigtes wat in dieselfde bootjie sit.
Hopelik sal ’n volgende generasie waardevolle lesse hieruit kan leer.
Ek herhaal my raad van ’n week of wat gelede: Afgetredenes moet léér om beleggers te word, eerder as om spaarders te bly.
Om te spaar in die bekende vaste deposito’s en spaarrekeninge by banke waarborg net een ding: ’n stadig kwynende koopkrag.
Dit beteken nie dat beleggers waaghalsig met hul geld moet word soos Botha voorgestel het nie.
Daar is baie aanvaarbare beleggings wat oorweeg kan word wat broodnodige opbrengste sal verhoog met ’n paar persentasiepunte sonder om die kapitaal noemenswaardig in gevaar te stel.
Dié beleggings staan bekend as bate-allokasie-fondse met ’n wisselende graad van aandele-blootstelling.
Enige belegger wat dié soort beleggingstrategie die afgelope tien jaar of selfs langer gevolg het, het geen kapitaal verloor nie en het ook hul opbrengs met tussen 3% en selfs 6% per jaar hoër as geldmark/vaste deposito verdien.
Die beleggings is almal by groot instellings geplaas met die hoogste kredietgradering (meeste AA) en is boonop 100% likied.
Ons praat van maatskappye soos Ou Mutual, Sanlam, Coronation, Investec en Allan Gray om net ’n paar van die bekendstes te noem.
Een van die redes hoekom hierdie beleggings nie so aktief bemark word nie is juis die gebrek aan groot kommissies en tariewe, soos met die ander gewilde beleggings, onder meer eiendomsindikasies wat nou met soveel skade en skandes in duie stort.
Enige gekwalifiseerde beleggingsadviseur met integriteit sal dié fondse aan sy kliënte aanbied.
Spaarders moet ook nie dink dat ’n belegging in ’n vaste deposito of spaarrekening nie enige “tariewe” of “kommissies” meebring nie.
Spaarders “leen” hul geld aan die bank teen 5% wat dit op sy beurt weer uitleen aan iemand anders teen koerse wat wissel van 9% tot soveel as 18% per jaar.
Banke maak staat op dié goedkoop geld vir die finansiering van ’n groot deel van hul bedrywighede. Die aandeelhouers word ryk en die spaarders word arm.
’n Tweede wenk aan afgetredenes: By aftrede moet dadelik ’n tweede keer begin spaar word vir jou “oudag” deur gereelde bydraes te maak aan ’n uittree-annuïteit.
Vandag se moderne uittree-annuïteit kan regstreeks in ’n effektetrust geplaas word en tot en met 15% van jou inkomste, selfs nadat jy afgetree het, kan herbelê word.
Dit het veral wenslik geword nadat die ouderdomsperk op dié beleggings (dit was voorheen 69) ’n paar jaar gelede geskrap is.
Dit kan eendag ’n waardevolle neseier word wat in die laaste dekade van ’n mens se lewe gebruik kan word as ’n welkome inkomste-aanvulling.
Ander wenke:
Raak aktief betrokke by jou beleggings. Hoop is nie ’n beleggingstrategie nie.
Wees bereid om te betaal vir kundige advies. Hoe beoordeel jy die waarde van iemand wat jou afgeraai het om nie in Sharemax te belê nie?
Probeer om so lank moontlik te werk. Daardie ekstra vyf of selfs tien jaar van inkomste verdien, geld by die pensioen te voeg en niks te trek nie, is jou beste belegging.
Indien moontlik, gaan soek onmiddellik ’n ander werk.
Trek by jou kinders in of laat hulle by julle intrek. Wêreldwyd word daar toenemend gepraat van drie-generasie-huishoudings.
Dink daaraan hom jou huis te verkoop en te verhuur. In ander lande kan bejaardes kontant ontsluit uit ’n huis deur ’n “omgekeerde verband” uit te neem. Miskien sal dit hier ook posvat.
Heystek is die skrywer van verskeie boeke oor aftrede en beleggings. Hy is bestuurshoof van die welvaartmaatskappy Brenthurst Wealth.