Waterhel onder aarde
2010-03-09 22:29
Water, wat ’n seën is vir mens, dier en plant, is vir die bestuur en werkers by die Grootvlei-myn ’n vloek, berig Elise Tempelhoff.
Die geskiedenis van dié beleërde goudmyn, een van die laastes aan die Oos-Rand, is vervleg met water, soveel water as wat daar in twee of drie Vaaldamme is, sê mnr. Sibusiso Sidu, omgewingsbeampte by Aurora se Grootvlei-myn.
Sidu sê Grootvlei sit op ’n “tydbom”. Die myn se toekoms is (soos soveel kere tevore) in die weegskaal.
En daar is seker geen plek in die land waar die stryd wat die mens teen die natuur voer ter wille van welvaart vir ’n klein groepie en oorlewing vir duisende ander so sigbaar is soos by Grootvlei nie.
“Niemand besef wat ons deurmaak nie,” sê Sidu. Hy is moedeloos. Net soos al die ander werkers van die goudmyn, wat deesdae deur mnre. Zondwa Mandela, kleinseun van oudpres. Nelson Mandela, en Khulubuse Zuma, neef van pres. Jacob Zuma, bestuur word, weet hy nie of hy die einde van die maand betaling vir sy werk gaan kry nie.
Benewens die myn se stryd teen die water is hy boonop bankrot. Hy skuld glo byna R90 miljoen. Aurora het die myn glo vir R390 miljoen gekoop deur R5 miljoen se deposito te betaal en die res in vooruitgedateerde tjeks.
Oorlewingstryd
Grootvlei is sedert April verlede jaar, toe dit nog aan Pamodzi behoort het, in likwidasie. In September verlede jaar het Aurora, ’n swartbemagtigingsgroep, besluit om dit oor te neem. Sedertdien is die myn in ’n oorlewingstryd gewikkel.
Miskien weet niemand buite die ou, geroeste heining van die beleërde goudmyn presies wat daar aangaan nie, maar die paar duisend werkers weet.
Húlle voer net soos die myn ’n oorlewingstryd. Mense daar buite, veral dié in Springs en Nigel, sien net die geroeste skagte, vervalle geboue en die water in die Blesbokspruit wat snags rooi “gloei” en bedags lyk asof liters melk daarin uitgegooi is.
Maar diep onder in die donker gange van skag 4 is die werkers, soos Ben*, Jan* en Fazel*, besig om “stof” (goud) uit te haal terwyl hul kollegas in skag 3 verbete teen die water veg wat die afgelope vier maande dreig om die hele myn te verspoel.
Skag 3 bestaan uit 12 reuse-waterpompe wat tot 130 megaliter water diep onder die grond kan uitpomp sodat die werkers by die goudriwwe kan uitkom.
Die water wat uitgepomp en in die Blesbokspruit gestort word, word deesdae weens ’n geldtekort nie behoorlik gesuiwer nie.
Omgewingsmisdaad
“Dis ’n omgewingsmisdaad,” sê ’n woedende mnr. Stan Madden, lid van die nie-regeringsorganisasie Wildlife and Environment Association of South Africa (Wessa).
Wessa is woedend omdat die regering nie teen die myn optree ondanks die feit dat hy nou al byna drie maande nie die voorwaardes in sy waterlisensie nakom nie.
Besmette water beland in die Blesbokspruit en bedreig die voortbestaan van die Marievale-Ramsar-gebied ’n paar kilometer stroomaf.
Van die besmette water beland wel in skag 4 (byna ’n kilometer onder die grond) en werkers kla dat die mynbestuur hulle nie met waterskoene toerus nie.
“Ons voete brand van die suur water waarin ons moet loop.
“Ons hou die myn aan die gang, maar ons het nie eens kopligte nie,” vertel Fred.
“Ons leen mekaar se kopligte. As die een skof boontoe kom, gee hulle hul lampies vir ons. Ons kan skaars ’n skof voltooi, dan is die kopligte dood. Hoe moet ons in die donker goud uithaal?”
Die werkers besef as hulle staak (soos wat hulle die afgelope jaar dikwels gedreig het om te doen omdat hulle nooit betyds salarisse kry nie), sal die water die skagte oorstroom en dan sal die myn vir altyd gesluit moet word.
“As die pompe onder water is, is dit verby met die myn,” sê Sidu.
Die pompe loop dag en nag – teen ’n geweldige prys. En weens die baie reën die laaste tyd is die Oostelike kom, waarin Grootvlei geleë is, tot oorlopens toe vol.
Volgens Sidu is die hoeveelheid water in die Oostelike kom – wat nou feitlik uitgemyn is – gelykstaande aan twee of drie Vaaldamme.
Regering ignoreer probleem
Mnr. Fazel Bhana, raadgewer by die myn, sê Grootvlei se kragrekening is maandeliks tussen R5 miljoen en R7 miljoen. Die regering betaal sporadies ’n pompsubsidie van sowat R1?miljoen per maand.
Hy kan egter nie verstaan waarom geen pompsubsidie nog betaal is nie sedert Aurora die myn oorgeneem het.
Sidu sê daarop die regering besef nie hy speel met vuur nie. Die regering ignoreer die probleem. As die myn gesluit word en die dolomitiese kom (Oostelike kom) vul op met water, sal die hele Nigel wegspoel.
En dit sal nie met gewone, skoon water wees nie, maar met suur mynwater soos dié wat nou aan die Wes-Rand uitborrel, sê hy.
Sidu sê niemand weet hoe die myn die mas volgende maand gaan opkom as Eskom sy kragprys met meer as 20% verhoog nie.
“Die werkers, wat elke dag op hul pos is, werk soos slawe,” sê mnr. Jan du Plessis, die vakbond Solidariteit se verteenwoordiger by die myn. Baie is al huise en motors kwyt omdat hulle nooit betyds betaal word nie.
Hy praat en smeek by die mynbestuur om die werkers te betaal, maar hulle trek net hul skouers op.
Aan die ander kant is Solidariteit se lede by Grootvlei vies vir hom omdat hy “niks” vir hulle doen nie.
“Ek kan tog nie die mynbestuur met ’n baseball bat oor die kop slaan nie. Hulle het nie geld nie.”
Mnr. Pieter van Rensburg, ook ’n verteenwoordiger van Solidariteit by Grootvlei, sê hy is raadop.
Van sy kollegas woon in motorhuise. “Groot mans huil by my omdat hulle nie hul kinders se skoolgeld kan betaal nie. Hoe troos ek so iemand? Ek weet self nie hoe ek vanaand kos op my tafel gaan kry nie.”
Teen gister het hulle nie ’n sent van hul Februarie-salaris gekry nie.
Die dag van Beeld se besoek het al die werkers salarisstrokies gehad, maar geen geld was nog in hul bankrekenings inbetaal nie. Van die werkers het die strokies opgeskeur en weggegooi.
Die werkers meen die goud wat hulle uithaal, word verkoop om die myn se kragrekening en die salarisse van die nuwe direkteurs te betaal.
“Ons is bitter. As ons ná ’n skof by skag 4 uitloop en regs kyk (na die parkeerterrein by die myn se hoofkantoor) staan die blink motors – Land Rovers, swart Mercs en 4x4 BMW’s – ingeryg.”
Boonop is daar geen kommunikasie tussen die mynbestuur en die werkers nie. “Ons kry net waardelose briewe en leë beloftes.”
Die mynbestuur het sedertdien briewe gestuur waarin belowe word dat die mense hul salarisse vir Februarie op 17 Maart sal ontvang.
Intussen werk Grootvlei se mense elke dag en elke nag. “Ons lewe van hoop. Die bestuur het beloof einde April sal dinge beter gaan. Daar is glo ’n Maleisiese belegger wat geld beloof het,” sê Van Rensburg.
Die finale likwidasie van Pamodzi is vir einde April beplan.
Aurora sê hy besit nie die myn nie, maar bestuur dit net sodat dit uit die likwidasieproses kan kom.
* Skuilname