Wêreld sien wit armoede
2010-07-05 22:55
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Onder die opskrif “Poverty, and little sympathy in South Africa” berig die koerant oor een van die talle wit plakkerskampe wat sedert 1994 in Suid-Afrika ontstaan het.
Finbarr O’Reilly (39), ’n bekroonde Kanadese fotograaf vir die nuusagentskap Reuters, het mense in Kroningspark in Krugersdorp gaan afneem om met sy foto’s die ander kant van Suid-Afrikaanse armoede aan die wêreld te wys: Die wit kant.
“Die algemene persepsie is dat wit Suid-Afrikaners lewens van voorreg en relatiewe rykdom geniet,” het O’Reilly aan The New York Times gesê.
Sy belangstelling in wit armoede in Suid-Afrika het begin toe hy in 1994 hier was en opgelet het dat daar ook wit mense by verkeersligte bedel. “Ek het begin rondvra: ‘Wat gaan hier aan?’”
Wit armoede is volgens hom nie ’n nuwe verskynsel in die land nie, “maar dit lyk asof dit meer is as in die verlede”.
In sy navorsing het hy vasgestel dat meer as ’n halfmiljoen wit Suid-Afrikaners onder die bestaansminimum leef en dat baie van hulle ’n sukkelbestaan in minstens 80 wit plakkerskampe in die Pretoria-omgewing voer.
(Sommige demograwe in Suid-Afrika meen tot 800 000 wit mense leef onder die bestaansminimum).
Om die sowat 400 mense van Kroningspark se vertroue te wen, het O’Reilly vir ’n week lank tussen hulle gaan bly.
In hul gehawende tente en aangelapte hutte het hy tekens van ’n vervloë middelklasbestaan gekry: muurbehangsels, houtlepels, kantdoilies.
Maar ook vullis, rondloperdiere, alkoholisme en geweld.
Sy reeks foto’s van Kroningspark word tans in Italië vertoon in ’n uitstalling getiteld After A.