Werp brood op die waters
2012-01-23 22:34
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Die organisasie Gallup het verlede jaar ’n uitgebreide peiling onder 150 000 mense in 153 lande gedoen.
As deel van ’n groter peiling oor liefdadigheid en filantropie is gevra: Het jy in die afgelope maand ...
1. geld aan ’n liefdadigheidsorganisasie geskenk?
2. vrywilligerwerk gedoen?
3. ’n vreemdeling gehelp?
Op grond daarvan het die internasionale nie-regeringsorganisasie Charities Aid Foundation (CAF) ’n Wêreldskenkingsindeks opgestel. Dit lys die gemiddeld van die respondente wat ja op een van bogenoemde drie vrae geantwoord het.
Nommer een is die VSA, waar ’n gemiddeld van 60% van die Amerikaners een van die drie aksies uitgevoer het. Tweede was Ierland (59%).
Heel laaste is Madagaskar, waar net meer as een uit tien mense (12%) ja op een van die vrae geantwoord het.
En Suid-Afrika?
Volgens Gallup/CAF het net 10% van ons in die maand voor hul peiling geld aan ’n liefdadigheidsorganisasie geskenk en net 14% het vrywilligerwerk gedoen. ’n Bietjie meer as die helfte van ons (53%) het darem ’n vreemdeling gehelp.
Prof. David Everatt meen die Wêreldskenkingsindeks het die “laagste gemene” inligting gebruik wat oor al die lande beskikbaar is en gedetailleerde plaaslike studies geïgnoreer.
Everatt is die mede-outeur van so ’n studie, volgens hom die omvangrykste wat in die afgelope dekade in Suid-Afrika uitgevoer is. Dis in 2008 as deel van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) se boek Giving and Solidarity:
Resource flows for poverty alleviation and development in South Africa gepubliseer en was verbasend genoeg ’n mede-opdrag van CAF Southern Africa.
Daarin het Everatt en sy kollega Geetesh Solanki bevind 93% van 3 000 respondente oor die land heen het in Oktober of November 2003 tyd, geld of goedere geskenk. Destyds het 54% van die respondente aangedui dat hulle in die vorige maand geld aan ’n liefdadigheidsorganisasie of ander saak geskenk het.
Everatt sê: “Die resessie kon moontlik geldelike skenkings geraak het, maar dit beïnvloed nie goed soos kerktiendes of zakat (’n soortgelyke Moslem-gebruik), wat moontlik nie deur respondente (in die Gallup-peiling) as ’n liefdadigheidskenking gesien word nie.
“Bowendien, die veelvuldige en komplekse maniere waarop die armes mekaar help, gaan nie so blootgelê word nie,” sê hy.
Everatt en Solanki het onder meer die skenk van kos, klere en ander goedere gemeet, wat die CAF/Gallup-peiling byvoorbeeld nie doen nie. Die Gallup-studie het net die “help ’n vreemdeling”-kategorie, maar ’n respondent kan ja daarop antwoord as hulle iemand oor die pad gehelp het, meen Everatt.
“Om te sê dat Suid-Afrikaners nie filantropies is nie, is bog,” sê hy. “Ek dink die peiling is ’n oppervlakkige stuk werk.”
Everatt hoop om binnekort afgevaardig te word om deel II van sy studie uit te voer sodat ’n mens minstens twee punte in tyd kan vergelyk.
Want in 2003 was die ekonomie aan die groei, maatskaplike toelaes het ingeskop en werkloosheid was aan die afneem.
Dit is dus moeilik om appels met appels te vergelyk.
Me. Colleen du Toit, hoof van die plaaslike CAF, meen Everatt-hulle se studie was “baie goeie navorsing”, maar verouderd en die metodologie verskil van die Wêreldskenkingsindeks.
“Dis ’n momentopname, hoewel ek dink dat veel meer gebeur as wat noodwendig weerspieël word,” sê sy.
Haar organisasie beywer hom vir verdere navorsing oor die stand van liefdadigheid en voer ook ’n veldtog sodat ons regering meer doen om ’n kultuur van gee en vrywilligerwerk te bevorder.
Die plaaslike tak van CAF wil ook hê die Suid-Afrikaanse Inkomstediens moet dit makliker vir individue maak om geld aan liefdadigheid te skenk.
Du Toit-hulle wil hê alle nie-regeringsorganisasies moet belastingvoordele aan hul skenkers kan bied.
Verder wil hulle maatskappye aanmoedig om dit vir werknemers moontlik te maak om direk van hul betaalstaat ’n bydrae tot liefdadigheid te lewer.
Daarby is CAF Southern Africa een van ’n groep organisasies wat die regering ter verantwoording wil roep oor die induiestorting van die Nasionale Lotery.
In die Everatt-studie het 68% van die respondente saamgestem met die stelling: “Om ’n Lotto-kaartjie te koop, is ’n manier om die armes te help.”
Tans is dit betwyfelbaar of dít die geval is en CAF Southern Africa publiseer later vanjaar ’n verslag waarin hy verduidelik wat by die Lotery verkeerd loop.
Of Suid-Afrika vrot of fantasties is wat filantropie betref, kan ons altyd meer doen om ander te help.
“Hoekom gee?” sê Du Toit.
“In ’n ideale wêreld sou ons almal gelyk gewees het en dan sou dit nie nodig wees nie.”
Dis volgens haar nodig om te gee sodat Suid-Afrikaners ’n volhoubare demokrasie kan vestig.
Luidens die CAF-verslag behoort elkeen van ons minstens 1,5% van ons inkomste weg te gee.
Du Toit sê sy stem nie heeltemal daarmee saam nie omdat dit van elkeen se land, kultuur en omstandighede afhang.
Sy hoor gereeld van Suid-Afrikaners wat graag meer wil gee, maar nie weet waar en hoe nie.
“Ek dink Suid-Afrika is regtig ’n ‘nasie van skenkers’, maar ons kan meer en meer doeltreffend skenk,” sê Du Toit.
In die maand voor die wêreldwye Gallup-peiling het:
81%
van die respondente in Liberië ’n vreemdeling gehelp.
85%
van die respondente in Thailand geld aan liefdadigheid gegee.
61%
van die respondente in Toerkmenistan vrywillig werk gedoen.

Suid-Afrika vaar power in ’n nuwe internasionale studie wat meet of mense in ’n sekere maand geld, tyd of hulp geskenk het. Slegs 26% van Suid-Afrikaanse respondente het so gedoen in Oktober/November 2011, volgens die peilingsorganisasie Gallup.
Foto: Lauren Mulligan