’n Helder kol in die geskiedenis

2010-02-01 23:14

FW de Klerk het een van die moedigste en selfs mees  heroïese politieke dade van die vorige eeu uitgevoer met sy 2 Februarie-toespraak, skryf prof. Hermann Giliomee.


Twintig jaar ná die historiese toespraak van oudpres. FW de Klerk op 2 Februarie 1990 bly een feit staan: Die tree wat hy en sy party gegee het, was een van die moedigste en selfs mees heroïese politieke dade van die laaste eeu.

Dat die onderhandelde skikking vir die etniese minderhede in baie opsigte erg skeefgeloop het en dat De Klerk vandag erken dat hy teleurgesteld is, vat niks daarvan weg nie. Die drastiese stappe wat gedoen moes word, het De Klerk met flair en oortuiging gedoen.

Daar is natuurlik mense wat De Klerk sy oomblik in die geskiedenis misgun. In 2007 het sewe Britse professore in ’n brief aan The Guardian daarteen beswaar aangeteken dat die koerant hom gevra het om ’n artikel oor oudpres. Nelson Mandela se bekende toespraak van 1964 in die Rivonia-verhoor te skryf.

Hulle was veral gegrief oor sy aanspraak dat hy die oorgang na ’n inklusiewe demokrasie geïnisieer het en dat die vernaamste agent van verandering nie die ANC was nie, maar maatskaplike prosesse soos dramatiese bevolkingsaanwas en verstedeliking, die groei van swart mag met die groei van geskoolde werkers en verbruikers in hul geledere, en die inkrimping van die wit deel van die bevolking van 20% in die eerste helfte van die vorige eeu tot 13% teen die einde van die 1980’s.

Om te antwoord op hierdie brief was nie moeilik nie. ’n Mens kon Mandela gewoon aanhaal wat oor die toespraak van 2 Februarie geskryf het. “It was a breathtaking moment, for in one sweeping moment he had virtually normalised the situation. Our world was changed overnight.”


De Klerk se toespraak van 2 Februarie 1990 staan in direkte teenstelling met die Rubicon-toespraak van oudpres. PW Botha op 15 Augustus 1985, wat, indien dit die regte aanslag gehad het, die geskiedenis anders kon laat verloop het.

In die geval van laasgenoemde was daar geen konsensus onder kabinetslede oor wat hulle op ’n buitengewone vergadering twee weke vroeër besluit het nie, van die ministers se insette vir die toespraak het vooraf uitgelek, uitermate hoë verwagtinge is gewek (selfs vir die vrylating van Mandela) en in die groot uur het Botha met ’n vertoning van barse kragdadigheid gesorg dat die wêreld sy regering afskryf.

Met die 2 Februarie-toespraak was dit radikaal anders. In die voorafgaande ses weke van die toespraak het die kabinet eensgesindheid oor die wettiging van die ANC en die Kommunistiese Party en die onmiddellike vrylating van Mandela bereik.

Kabinetslede het die stilswye oor die drastiese skuiwe bewaar en De Klerk het alleen aan sy toespraak gewerk. Die toespraak het alle verwagtinge ver oortref en die regering het amper twee jaar lank die inisiatief gehad.


Die uitspraak word soms gehoor: “PW het die tafel vir onderhandelinge gedek, FW en Mandela hoef net te kom aansit het.”

Soms word as stertjie bygevoeg dat De Klerk ’n sterk hand baie swak gespeel het. Om die stellings te beoordeel, moet daar gekyk word na Botha se erfenis.

Hierdie erfenis word dikwels geringgeskat. In 1988 het Simon Jenkins, ’n skerpsinnige Britse joernalis, geskryf dat die staat in Botha se bewindstyd die orde grootliks herstel het sonder die spiraal van bloedvergieting wat elders in etniese konflikte gesien is (in verhouding tot die bevolkingstal was die politieke sterftes die laagste van alle groot onlangse konflikte).

Verder was daar onder Botha ’n substansiële herverdeling van inkomste weg van dié wat kon stem na die stemloses. Nietemin het die NP die verkiesing van 1987 oortuigend gewen. Soos Jenkins opgemerk het: “What Botha did, was no mean feat – State of Emergency or no. It demands every bit of pragmatism in a leader.”

Die staat was nie op sy knieë nie. Die ekonomie was geknou, veral deur finansiële sanksies, maar nuwe handelsvennote in die Ooste is gevind. Teen die einde van die 1980’s was die omvang van buitelandse handel groter as wat dit voor die sanksies van 1985-’86 was. In 1989 het die president van die Reserwebank oor die ekonomie verklaar: “Die krisis is afgeweer.”

Die ANC het die inisiatief wat dit in 1985-’86 gehad het, verloor en die val van die Berlynse Muur was ’n groot terugslag, maar Botha het in belangrike opsigte daarin misluk om die ANC te knak. Indien hy Mandela met sy Rubicon-toespraak in 1985 vrygelaat het, sou daar moontlik groot spanning tussen die buitelandse en die binnelandse vleuels ontwikkel het. Hy het mnr. Mangosuthu Buthelezi, potensieel die NP se belangrikste swart bondgenoot, vervreem.

Op simboliese vlak het die ANC deurslaggewende oorwinnings behaal. Ten spyte van al die NP- en Westerse druk het die organisasie nooit geweld afgesweer nie en nooit sy bande met die Kommunistiese Party van Suid-Afrika of met die Sowjetunie verbreek nie. Mandela kon as die groot oorwinnaar uit die tronk stap wat oor geen enkele kwessie sy beginsels versaak het nie. Die ANC het uit die staanspoor die simboliese stryd gewen en hoewel hy later die vryemarkstelsel teen wil en dank moes aanvaar, kon die beweging homself bemark as beginselvas en onverskrokke.


Met Mandela, wat soos mnr. Oliver Tambo lojaliteit teenoor die party sy hoogste politieke beginsel gemaak het, kon die NP geen wig in die ANC indryf nie. Dit was eintlik iets nuuts in ons geskiedenis. Deur die jare heen kon die betreklik klein getal wit mense die swart mense net beheer omdat hulle verenig was en swart mense verdeeld was.

Dit sou gou ná De Klerk se toespraak blyk dat die ANC deur oorreding, maar ook deur brute geweld, die swart mense (met uitsondering van Inkatha) agter hom sou verenig. ’n Groot deel van die wit Engelssprekende meningsvormers sou gou hul gewig agter die ANC ingooi. Die Westerse lande het spoedig die ANC-leiers as prinse met ’n reg op die troon beskou. Die ANC was heelwat sterker as die skyn van versukkelde bevrydingsbeweging, terwyl die NP, wat sy ideologie verloor het, heelwat swakker was.


In Januarie 1990, net voor sy groot toespraak, het De Klerk aan die top-polisie-offisiere gesê hy wil die polisie uit die politiek uithaal sodat die beamptes hulle op gewone wetstoepassing kan toespits. Die ironie was, soos genl. Johann van der Merwe, hoof van die polisie, later sou sê, dat die polisie in die volgende vyf jaar meer as ooit tevore in die politiek betrokke geraak het.

Waar De Klerk en die wit mensewou ophou veg en ’n kontrak wat geldig bly met die ANC wou beding, wou die ANC aanhou veg, sy swart mededingers uitskakel en wit mense opsaal met ’n vernietigende skuldbesef. In plaas van ’n kontrak het die leiers meer aan ’n nimmereindigende proses van transformasie gedink.

)))

Toe De Klerk sy groot toespraak op 2 Februarie 1990 gehou het, het hy gedoen wat noodsaaklik en reg was. Hy wou verhoed dat die wit-swart-stryd bloedig en met groot bitterheid besleg word. Hy wou waardes met ras as die grondslag van die politiek vervang.

Dit was ’n edele visie en dat die wit mense en die Afrikaners in die besonder hom gevolg het, is ’n helder kol in hul geskiedenis.

Die probleem was net: Die wit mense het te lank gewag en die feit dat hulle in Afrika is, het hulle uiteindelik ingehaal.

Die vraag is of hulle genoeg murg en vindingrykheid het om hulle polities opnuut te laat geld.

)?Hermann Giliomee is die skrywer van The Afrikaners: Biography of a People.

- Beeld

Lewer kommentaar op hierdie artikel
46 reaksies
Kommentaar is gesluit vir hierdie artikel

Binne Beeld

Weather
Lottery
Cpt: 14-20°C Scattered clouds. Mild. Pta: 7-21°C Sunny. Refreshingly cool.
Jhb: 4-18°C Sunny. Cool. Bloem: 3-19°C Sunny. Refreshingly cool.
Dbn: 16-26°C Sunny. Mild. PE: 15-25°C Sunny. Warm.
7 day forecasts...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

OPEL

Corsa 1.4 Sport Utility MY04 PU
2008
R 99,900.00

TOYOTA

Corolla 140i MY05
2006
R 104,990.00

AUDI

A3 2.0 FSi Attraction Tiptronic 3-dr
2007
R 207,000.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Chobe Marina Lodge

Spend 2 nights on the banks of the banks of the Chobe river at Chobe Marina Lodge from R6717 per person sharing. Includes return flights, taxes, transfers and accommodation. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Avengers nou beskikbaar

Marvel Avengers-aksiekarakters nou beskikbaar vanaf R189,95. Koop dit nou.

Toshiba-tabletrekenaar AT-100

Bespaar R1 000 op dié fantastiese tabletrekenaar. Nou slegs R2 999,95. Koop dit nou.

Massiewe speletjie-uitverkoping

Kry tot 65% afslag op speletjies. Alle voorraad moet verkoop word. Terwyl voorraad hou. Koop dit nou.

Meng & Pas

Meng en pas twee albums vir die prys vir R149. Nuwe albums het so pas ingekom. Koop dit nou.

Moet-lees-boeke vir tieners

Die gewildste boeke vir tieners en jong volwassenes. Hunger Games, The Flappers & meer. Koop dit nou.

Aanbod van die week

PS3 speletjies vanaf R149.95

Plus PS2 en PSP speletjies vanaf R99.95. Slegs terwyl voorraad hou. Koop nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...
Daar is vars stories op ons tuisblad. Kliek hier om hulle te lees.