Pukke: Kom haal hárd asem saam met dié 2 op Bult
2011-08-15 09:57
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Die Haal Asem Kwagga-toer wat einde verlede maand in Kaapstad begin het, maak volgende week ’n draai in Potchefstroom.
Vir dié toer span Van Coke Kartel, wenner van die MK-toekenning vir beste lewendige optrede in 2010 en beste Afrikaanse rock-album, kragte saam met die manne van Zebra & Giraffe, wat in 2009 die Sama-toekenning vir beste Engelse rock-album ontvang het.
Dié vertoning beloof om ’n plofbare mengsel van Engelse en Afrikaanse rock te wees met Van Coke Kartel se klipharde vertonings en Zebra & Giraffe se eklektiese klanke.
Dié twee groepe het albei onlangs van oorsee af teruggekeer.
Zebra & Giraffe was in Mei in Hollywood, Los Angeles, waar hulle saam met groepe van Europa en die VSA by die Musexpo opgetree het.
Van Coke Kartel was in dieselfde maand in Londen en Amsterdam om saam met die Springbok Nude Girls op te tree.
Dié Afrikaanse rockers was ook verlede maand in Taiwan by drie vertonings in Taipei te sien.
Kyk uit vir Vir almal, die eerste single van Van Coke Kartel se nuwe album. Dié liedjie gaan begin September uitgereik word en jy sal dit gratis kan aflaai.
- Die show vind op 24 Augustus in Memphis Rock op die Bult plaas en toegang kos R40 per persoon. Die deure maak om 18:00 oop.