Tuks: Jool is baie meer as om net te jol
2011-07-20 08:30
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Onderhoude vir joolkomiteelede sal binne die eerste twee weke ná die vakansie gehou word.
Jool is veel meer as drink en partytjie hou en die Universiteit van Pretoria (UP) se joolkomitee organiseer veel meer as die jooloptog.
Hulle woeker regdeur die jaar om geldinsamelingsprojekte vir verskeie liefdadigheidsprojekte te reël.
“Die komiteelede deel maandeliks sop en brood aan afgetredenes uit by die Mnakaunyane-sopkombuis. Ons het ook vanjaar op Mandela-dag die Brooklyn-polisiekantoor in Pretoria opgeknap,” sê Lesego Moeketsi, die voorsitter van die joolkomitee.
Volgens Moeketsi sal die joolkomitee later vanjaar ook verantwoordelik wees vir die organisering van Lentedag en Pot en Pons.
Intussen is vanjaar se joolkoningin, Petroné Snyman, ook hard aan die werk.
Snyman, wat in Februarie as joolkoningin gekroon is, was tot dusver by ’n reeks spesiale projekte betrokke.
“Ek het vroeg vanjaar met die hulp van die Hoërskool Garsfontein se Mnr. en Mej. Garsfontein-deelnemers ’n pretdag by die
Jakaranda-kinderhuis gereël en aan Kansa se Shavathon deelgeneem.
“Om Tukkies se joolkoningin te wees is ’n eer en geskenk van God.
“Dis vir my ’n wonderlike ervaring om te kan sien hoe klein en eenvoudige dinge in die lewe baie vir ander kan beteken,” het Snyman bygevoeg.
Moeketsi moedig alle studente aan om deel te word van die
joolkomitee as hulle ’n verskil in die gemeenskap wil maak.
Om uit te vind hoe jy aansoek kan doen om in die joolkomitee te dien kan jy gaan aanklop by die joolkantoor op die hoofkampus (hul kantoor is oorkant Pie City in die Studentesentrum). Besoek www.tuksrag.co.za.