Tuks: Petisies steun tradisies
2011-08-24 08:37
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Jool, Serrie en Lentedag se voortbestaan is glo in die gedrang. Daarom het AfriForum Jeug die afgelope paar weke ’n petisie van stapel gestuur om dié hoogtepunte op die studente-kalender by Tuks te beskerm.
AfriForum beoog om binne 30 dae 10 000 handtekeninge te kry en dit aan die UP-raad en die rektor, prof. Cheryl de la Rey, te oorhandig. Teen Vrydag het hulle al sowat 3 000 handtekeninge ingesamel.
Die petisie is begin nadat verskeie AfriForum-lede wat in die verteenwoordigende studenteraad (VSR) gedien het, op ’n komiteevergadering met bestuurslede van die universiteit verneem het die Universiteit van Pretoria (UP) is veral negatief oor sekere Tukkie-tradisies.
Die nasionale voorsitter van AfriForum Jeug en die voorsitter van die VSR, Charl Oberholzer, het gesê dit is vir AfriForum duidelik dat dié aktiwiteite in gevaar is, al mag studente nie so dink nie.
“Die doel van AfriForum is om pro-aktief op te tree om te verseker studente neem standpunt in voordat die besluit oor die aktiwiteite geneem word.
“En as minstens ’n derde (10 000) van die Hatfield-kampus se studente sê hulle steun dit, kan die UP eenvoudig nie die tradisies afskaf nie,” het Oberholzer bygevoeg.
Die UP het egter by navraag gesê gerugte dat die toekoms van Jool, Serrie en Lentedag in gedrang is, is onwaar.
Volgens die UP is dit belangrik om deurentyd saam met studenteleiers en strukture die toepaslikheid van die studenteleweprogram te oorweeg. Daar is egter geen sprake dat die geleenthede waarvoor AfriForum die petisie opgestel het, gestaak gaan word nie.
“Die universiteit doen alles in sy vermoë om die nuwe Joolkomitee te help in sy beplanning vir die jaarlikse Lentedagvieringe en die 2012-Jool,” het Nicolize Mulder, die UP se woordvoerder, gesê.
Neil van Heerden, ’n derdejaar in uitgewerswese, sê dit sal bitter jammer wees as Jool wel eendag by Tuks verdwyn.
“Dit is ’n ou tradisie en dien ’n goeie doel,” sê hy.
Leanne Venter, ’n derdejaar- joernalistiek-student, sê om ontslae te raak van belangrike tradisies sal onregverdig wees teenoor toekomstige geslagte Tukkies.
- Besoek www.afriforumjeug.co.za as jy AfriForum se petisie wil onderteken.