Tuks: ‘Sêr-gevoel’ terug
2011-08-17 09:20
Zeus-dames het Vrydagaand eindelik Sêr-glorie geproe deur as die vrouewenners van Tuks-Sêr aangewys te word. Boekenhout is die derde opeenvolgende jaar as die manswenners aangewys.
Die Zeus-dames, wie se tema sigeuners was, was in ekstase: “Ons is opgewonde, verlig en sommer reeds ’n bietjie op ons senuwees vir die Nasionale Sêr,” sê Louise Clark, een van die lede van die groep.
Die manne van Boekenhout het soos gewoonlik al die toertjies uitgehaal met kostuums en dekor. Sneeuballe, ’n YouTube-video en die eerie klanke van swaaiende swembadpype het die gehoor in die leefwêreld van die Boekenhout-Eskimo’s ingetrek.
“Die sang was goed en ons het vir die eerste keer in jare baie volume. Ons het daardie ‘Sêr-gevoel’ terug,” het Henk Otto van Boekenhout gesê.
Daar is elke jaar ’n paar verrassings by Tuks-Sêr en vanjaar s’n was dat verlede jaar se wenners, Vividus-dames, nie deurgedring het na die eindronde nie.
In die mansafdeling moes Vividus-mans die derde opeenvolgende jaar met ’n tweede plek tevrede wees. “Dit is toe nou nie third time lucky nie,” sê Jason de Kock van Vividus.
Gesoute Sêr-ondersteuners was nie vanjaar so beïndruk met die gehalte van die kompetisie as vorige jare nie.
“Die standaard is vir my deur die bank laer. Dit is asof niemand so hard voorberei het as vantevore nie,” sê Louise Anderson, wat vir die derde keer aan Vividus-dames se Sêr deelgeneem het.
Barbara Tellinger, ’n beoordelaars van die eindronde, meen egter die standaard van vanjaar se temas was hoër as verlede jaar.
Die-hard Sêr-aanhangers kan nou nie meer wag vir die Nasionale Sêr wat vanjaar van 2 tot 4 September by Tuks plaasvind nie.
Die Tuks-wenners sal onder meer te staan kom teen Vergeet My Nie en Patria van die Noordwes-Universiteit en Annirand en Afslaan van die Universiteit van Johannesburg.