Tuks: Trek jou kruisie nou twee keer
2011-08-24 08:45
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
In die aanloop tot die VSR-verkiesing op 5 September woed daar steeds ’n debat oor of studente met bepaalde politieke-affiliasies en agendas op die Verteenwoordigende Studenteraad (VSR) behoort te dien.
Dié debat het in 2009 veroorsaak dat ongelukkige studente en organisasies ’n protesaksie geloods het wat tot die vertraging van die verkiesingproses gelei het.
Charl Oberholzer, die huidige VSR-voorsitter, meen sake gaan vlot verloop omdat studente twee stemme kry en daar plek op die studenteparlement is vir organisasies én individuele kandidate.
Oberholzer waarsku dat die toelating van organisasies en individue meer insette van studente se kant vereis.
“Dit is makliker vir studente om vir ’n organisasie te stem, omdat dit duidelik is waarvoor hulle staan.
“In die geval van individuele kandidate moet studente moeite doen om te kyk of hulle saamstem met die kandidaat se standpunt,” sê hy.
Jordan Griffiths, ’n lid van die DA-studente-organisasie (DASO) sê die feit dat elke student twee stemme het, beteken die parlement sal baie verteenwoordigend wees, omdat daar vir ’n wye verskeidenheid studente voorsiening gemaak word.
Griffiths sê DASO gaan ’n groot poging aanwend om minstens een setel in die studenteparlement te verkry.
Dineo Siko, ’n voormalige lid van die Tydelike Studente-komitee (TSK) (wat gestig is na die VSR-verkiesing in 2009) en ook lid van die Suid-Afrikaanse Studente-kongres (Sasco) sê dié organisasie het nie vanjaar ’n posisie op die VSR gewerf nie.
Hy meen dit maak nie saak wie op die VSR dien nie, solank die kandidate die studente suksesvol verteenwoordig.
“Die probleem met politieke organisasies, is dat baie van hulle nie studente se belange op die hart dra nie en hul eie politieke agendas deurvoer,” sê Siko.
Leentjie Shannon, ’n LLB-student by Tuks, het nie erg aan die rol wat politiek speel in die verkiesing van studente om ander studente te verteenwoordig nie.
“Dit is alles net ’n grap X amper soos kinders wat politiek-politiek speel,” sê sy.