Daar ís hoop op ouerskap
2010-05-26 08:16
Die worsteling met onvrugbaarheid kan ’n hartseer- en dikwels ’n alleen-ervaring wees. Daar is egter hoop, skryf Riëtte Grobler.
Dit beteken:
Onvrugbaarheid is die onvermoë van ’n paartjie wat gereeld gemeenskap het om binne ’n jaar ’n baba te verwek, sê dr. Georg Hogewind, ’n infertiliteit-spesialis by die Kloof-fertiliteitskliniek in Pretoria.
Dit beteken nie ’n paartjie sal glad nie kan ouers word nie, skryf dr. Ken Gelman, ’n voortplantingsendokrinoloog, in die gesondheidsgids Die vrou se gesondheidsbybel.
“Die voordeel van vrugbaarheidsbehandelings is dat die meeste paartjies daardeur sal swanger word,” sê Hogewind.
Dís wat dokters doen as jy nie swanger raak
As jy graag kinders wil hê, maar sukkel om natuurlik swanger te raak, is die meeste kenners van mening jy kan ná sowat ’n jaar by ’n vrugbaarheidspesialis aanklop.
“Moenie ná vier tot ses maande van probeer senuweeagtig begin raak as jy nie natuurlik swanger kan raak nie,” sê Hogewind.
Jy kan intussen jou huisdokter of ginekoloog raadpleeg.
’n Paar ondersoeke wat jou dokter sal doen
Bloedtoetse om jou progesteroonvlak vas te stel en of jou eierstokke reg funksioneer.
Die nagaan van sekere relevante hormone.
’n Sonar om jou baarmoeder (uterus) en eierstokke (ovarium) te ondersoek.
’n Laparoskopie. Dié toets word onder meer gebruik om die Fallopiusbuise te ondersoek.
’n Ontleding van die man se sperm.
Eenvoudige dinge eerste
Volgens die ginekoloog en verloskundige dr. Johan van der Wat van die Netcare Park Lane-hospitaal in Johannesburg moet jy seker maak jou dokter doen al die basiese toetse wanneer jy sukkel om swanger te raak.
Hy sê dit sal nie noodwendig nodig wees om dadelik met duur vrugbaarheidsbehandelings te begin nie.
As taamlik eenvoudige probleme, soos hormonale wanbalanse, reggestel kan word, is die kans dat jy deur omgang swanger kan raak veel hoër, meen hy.
Die wenke oor wanneer om jou dokter te besoek en behandelingsmetodes wat in hierdie artikel bespreek word, is slegs riglyne. Raadpleeg jou dokter.
Faktore wat dalk onvrugbaarheid kan verooroorsaak
Die probleem met vrugbaarheid kan 50% by die man en 50% by die vrou lê, sê dr. Georg Hogewind.
Mans se spermgehalte het die laaste paar jaar baie afgeneem weens talle omgewingsfaktore in veral nywerheidsgebiede, soos minder suiwer kos en meer vroulike hormone in drinkwater.
In Vroue, bly gesond lewenslank skryf dr. Sarah Jarvis ander faktore kan te min sperms, abnormaal gevormde spermselle of sperms wat nie goed kan swem nie, insluit.
Probleme met vrugbaarheid wat deur vroue ondervind word, soos hormonale kwessies, is nie nuut nie, sê Hogewind.
Jarvis sê ovulasie vind dalk nie plaas nie en die eierstokke stel geen eiers vry nie. In ander gevalle is die serviksslym te dik vir sperms om deur te dring.
Vroue kan ook probleme met hul Fallopiaanse buise ondervind, sê Hogewind.
Dit word volgens Jarvis buisonvrugbaarheid genoem en beteken die buise is verstop of beskadig. Eiertjies kan dus nie daardeur beweeg om by ’n spermsel uit te kom nie.
Soms is daar geen mediese verklaring waarom swangerskap nie moontlik is nie. Dit word volgens Jarvis as “onverklaarbare onvrugbaarheid” beskryf.
Hogewind sê dit kom in net sowat 3% van alle gevalle voor.
Neem ook dié faktore in ag
Vroue wat swanger wil raak, moet hul gewig dophou, sê Hogewind. As ’n vrou 20% of meer swaarder as haar ideale liggaamsgewig is, neem die gehalte van die eiers af weens die abnormale metabolisme.
Rook kan eiers en spermselle op lang termyn beskadig.
“’n Vrou se vrugbaarheid bly tussen 18 en 32 so te sê onveranderd. Dit begin dan afneem en teen 37 is die afname drasties,” sê Hogewind.
Wees bewus van seksueel oordraagbare siektes wat vrugbaarheid kan beïnvloed, sê Hogewind.
Wetenskap kan só help
Hogewind sê die drie algemeenste behandelings vir onvrugbaarheid is:
Om die vrou se siklus te monitor en dan probeer die paartjie tuis, met gemeenskap, swanger raak;
Om die vrou se siklus te monitor en dan haar eiers te bevrug deur inseminasie met die man se sperm;
In-vitro bevrugting (IVB), wat behels dat bevrugting buite ’n vrou se liggaam plaasvind voordat die bevrugte eiertjie in haar baarmoeder teruggeplaas word, aldus dr. Sarah Jarvis in Vroue, bly gesond lewenslank. Jy kan ook skenker-eiers of -spermselle oorweeg.
Ander opsies vir behandeling sluit volgens Jarvis medikasie of hormooninspuitings in wat ovulasie verbeter, asook chirurgie om die Fallopiusbuise skoon te maak.
Onvrugbaarheid vir albei ewe swaar; steungroepe help
“Ek het ’n primitiewe drang gehad om ’n ma te word,” sê die Kapenaar Tertia Albertyn.
Dié drang het haar bly aanspoor om, ondanks talle terugslae, nege in?vitro-bevrugtings (IVB) te ondergaan. Sy het die boek So Close! oor dié ervaring geskryf.
Ná vier en ’n half jaar van mislukte probeerslae en talle terugslae het sy uiteindelik die ma geword van die tweeling Adam en Kate (5).
Verlede jaar het sy onverwags op 40 natuurlik swanger geraak met Max.
Hartseer en stilte
“Niemand kan die pyn en hartseer verstaan wat ’n onvrugbare persoon beleef nie,” sê sy.
“Daarom is dit nie iets waaroor onvrugbare paartjies sommer praat nie, al sukkel een uit elke ses met onvrugbaarheid.”
Volgens Albertyn hanteer mans en vroue onvrugbaarheid verskillend, maar dit is in die meeste gevalle vir albei ewe moeilik.
Emosionele ondersteuning is daarom uiters belangrik. Albertyn stel voor jy kry terapie tydens en ná vrugbaarheidsbehandelings of sluit by ’n steungroep aan.
Omdat sy self oor die internet na steun gesoek het, het sy in 2004 ’n blog (www.tertia.org) begin om oor haar ervarings te skryf.
Daarna het sy ’n steungroep, die South African Infertility Support Forum, (www.fertilicare.org) begin saam met ’n vriendin, me. Maritza Botha.
Vroue kan hier raad kry en gee en lees oor klinieke en behandelings.
Haar belangstelling in vrugbaarheid het haar ook laat besluit om ’n eierbank-en-surrogaatprogram, Nurture, saam met nog ’n vriendin, me. Melany Bartok, te begin.
Sit ’n wag voor jou mond
Albertyn waarsku vriende en familielede van paartjies wat sukkel om swanger te raak om sensitief te wees oor wat hulle sê.
Jy dink dalk jy help, maar jy doen dalk meer skade.
“Ek het in ’n stadium so gebroke gevoel en dan was daar jou waarlik mense wat vir my gesê het: ‘Ontspan net, dan sal dit gebeur,’?” vertel sy.
“Dít is soos ’n rooi vlag vir ’n vrou wat sukkel om swanger te raak en baie ontstellend omdat jy reeds soos ’n mislukking voel.
“Hoe kan jy nié die hele tyd dink aan iets wat vir jou so belangrik is nie? Hoe moet jy afskakel?”
Vir haar was die ontstellendste opmerking dat God dalk nie wou hê sy moes ’n ma word nie.
“Maar waarom sou ek dan so ’n sterk drang na moederskap gehad het? Dit is uiters onsensitief.”
www.tertia.org; www.fertilicare.org; www.nurture.co.za
Sê jou sê
SMS jou kommentaar na 41748. Begin jou SMS met LEEFSTYL. ’n SMS kos R1,50.