Kaap op 9 jaar, moor op 13 jaar
2010-07-20 22:50
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
'n Nuwe generasie geweldmisdadigers het Suid-Afrika aan die keel beet. Hulle huiwer nie om dood te skiet nie, berig Virginia Keppler.
Van dié uiters gevaarlike misdadigers was tussen 9 en 13 jaar oud toe hulle hul eerste misdade gepleeg het.
Dit maak van hulle van die gevaarlikste oortreders nog, sê prof. Rudolph Zinn, ’n senior dosent in forensiese ondersoek aan Unisa en voormalige polisieluitenant.
Zinn het studies onder huisrowers en motorkapers in die land se tronke gedoen en sê dié misdadigers het geen respek vir ander nie en berei hulle voor die tyd voor om te moor.
Dit is ook nie net mans nie.
Volgens Zinn is daar tans 11 vroue wat in die Johannesburg-vroue- en Pretoria-vroue-gevangenis wat vonnisse weens gewapende rooftogte uitdien.
Prof. Anne Hesselink, ’n kriminoloog aan Unisa wat met gevonniste rowers, moordenaars en verkragters in tronke werk, sê dié bloedvergieting en menseslagting is nog lank nie verby nie.
“Suid-Afrika is een van die gewelddadigste lande. Máár als is nie verlore nie. Met die aanstelling van genl. Bheki Cele, die nasionale polisiehoof, het daar hoop gekom. Misdadigers hou nie van hom nie en hy haat hulle.”
Sy sê Afrika-immigrante dra ook by tot misdaad en geweld.
“Ons oop grense dra ook by tot misdaad, want dit is juis die armoediges wat hierheen kom in die hoop dat hulle werk gaan kry. As hulle nie werk kry nie, raak hulle by misdaad betrokke.
“Baie van hulle is in hul eie land aan brutaliteit blootgestel. Hulle was al gemartel of het gesien hoe iemand gemartel en gemoor word, so hulle voel niks vir die volgende mens nie,” sê Hesselink.
Zinn sê: “By hul terugkeer na hul eie lande sit hul dan hierdie misdade voort. Gevolglik is daar selfs in Malawi nou huisrooftogte waar dit voorheen totaal onbekend was.
“Dit wil dus voorkom of hierdie soort misdade soos ’n aansteeklike siekte is wat vanuit SA versprei.”
Volgens Zinn berei rowers hulself goed voor en is “bereid om geweld te pleeg”.
“Die meerderheid huisrowers het gesê hulle sal skiet, sou die slagoffer probeer om hom teen te sit. Een misdadiger sê as hy by ’n huis instap, skiet hy onmiddellik die man, maak nie saak of hy niks gedoen het of hom teengesit het nie.
“Hy stuur ’n boodskap uit dat hy ernstig is. Die rowers sê: ‘Moor of jy word vermoor.’
“Een huisrower het gesê: ‘Daar is nie so iets soos ’n nice rower wat ’n vuurwapen in sy hand het nie’,” sê Zinn.
Hy meen huisrowers is uiters aggressief en wil hê hul slagoffers moet hulle respekteer, terwyl hulle geen respek teenoor die slagoffer toon nie.
“Hulle neig ook al hoe meer om vroue en kinders te martel om mans te dwing om saam te werk. Van die oortreders het gesê eers toe hulle in die tronk beland het, het hulle besef wat hulle aan hul medemens gedoen het.
“Tog kry ek die indruk dat min van hulle regtig berou getoon het. Dit is bevestig deur sielkundiges wat in tronke met oortreders werk. Sielkundiges sê die oortreders wil eerder oor hul eie sielkundige probleem gesels en nie hul oortredings nie.”
Zinn sê die hoë getal gevangenes wat keer op keer terug tronk toe gaan, toon ook dat hulle geen berou het nie.
Volgens hom is sowat 83% van die veroordeelde huisrowers in die land se tronke. “90% van dié oortreders is swart en 10% is wit of bruin mense. Net 20% van dié rowers het matriek.
“Dit mag wel wees dat ’n groter persentasie buitelanders by huisrooftogte betrokke is, maar dit is vir die polisie moeiliker om hulle op te spoor omdat dit vir buitelanders maklik is om ná ’n rooftog oor die grens te vlug.
“Hulle het ook nie vaste woonadresse in Suid-Afrika nie. Hul vingerafdrukke is waarskynlik ook nie geboekstaaf of op ’n stelsel hier nie.”
Hy sê van dié oortreders het goeie werk gehad, maar het dit bedank omdat hulle gou ryk wou word.
“Die kriminologiese teorie sê hoe jonger die persoon is wanneer hy die eerste keer misdaad pleeg – en nie gestop word nie – hoe meer gewelddadiger is hy wanneer hy ouer word.
“Dit is ’n teorie wat ook internasionaal bewys is. Volgens my studie was die jongste respondent in ’n motorkaping nege jaar oud toe hy die eerste keer ’n misdaad gepleeg het.
“Die jongste kaper wat ook ’n moord gepleeg het tydens ’n kaping, was 13?jaar oud.”
Hy sê misdadigers jonger as 26 jaar sal tussen 103 en 105 misdade pleeg voordat hulle aangekeer word.
“Dié jong misdadiger begin met minder ernstige misdade soos diefstal, winkeldiefstal en raak dan waaghalsiger.”
Hesselink meen die waardes en moreel in ouerhuise speel ’n groot rol in hoe kinders hul lewens as volwassenes sal lei.
“Baie ouers weet hul kinders pleeg misdaad, maar hulle doen niks. In Zinn se studies is dit bevestig.
“Die meerderheid van die respondente se familie, vriendinne en vriende geweet waarmee hulle besig was en tot in die inkomste uit misdaad gedeel.
“Dwelms en drankmisbruik speel ook ’n rol in misdaad,” sê Hesselink.
Volgens haar is rowers ook meer gewelddadig wanneer hulle uit huise kom waar geweld aan die orde van die dag was.
“Politieke rolmodelle soos mnr. Julius Malema, die ANC-jeugleier, hits ook geweld aan met sy uitsprake.
“Politieke rolmodelle wat wegkom met korrupsie en misdaad is ook nie goeie voorbeeld vir die jeug nie.”
Hesselink sê daar is ook geweldmisdadigers wat hulself van mekaar onderskei.
Die gewone gewapende rowers wat “jou net ’n bietjie rondklap en beroof, voel hy is die beste”.
“Dan kry jy die ou wat mense martel en ernstig beseer en skiet. Hy voel weer hy is weer beter as die ou wat jou doodskiet en kinders en vroue verkrag en martel.”
Hesselink sê die gewone rower sê: “Ek is nie so sleg nie want ek het niemand seergemaak of vermoor of verkrag nie.”
’n Rower is
Kenmerke van ’n geweldmisdadiger:
- Gewetenloos en aggressief;
- Het ’n gebrek aan liefde;
- Het geen integriteit of respek vir ander nie;
- Het ’n “jy skuld my”-houding;
- Kom uit ’n ouerhuis sonder norme en waardes;
- Kom uit ’n ouerhuis waar geweld aanvaarbaar was;
- Hy/sy toon selde of ooit berou;
- Kom uit ’n ouerhuis waar dwelms en drank misbruik is;
- Hy/sy is van jong af verwaarloos en arm; en
- Hy/sy wíl gerespekteer word.