Kuier so uit die boek
2011-11-03 23:00
Daar’s nie verrassings om elke draai nie; daar’s een op elke tafel. Jan-Georg Solms, baas van die gasteplaas Halfaampieskraal naby Napier, hou van groepeer.
Ek brand om te vra wat kom uit sy ma se huis en wat hy en Cobus Geldenhuys self op hul reise bymekaargemaak het.
Dwaal jy deur die huis, kom jy agter Jan-Georg (streng op Afrikaans uitgespreek) hou van aardbolle en landkaarte, opgestopte voëls, sy plaashonde, horings sonder fieterjasies, ou boeke, koraal en ’n tikkie marmer.
Ek sien ook tafels waarop ’n oormaat glas gerangskik is, verskeie voetstukke met verskillende style en wit porselein in gelid op ’n donkerhout-dresser van ouds. Mure is versier met ou borde en skilderye wat baie mense lankal sou weggegooi het. Daar is kaarte wat nie besonder netjies geraam is nie. ’n Opgestopte pou, tarentaal en uil loer na gaste. ’n Ronde spieël spog met ’n horingraam.
Twee plaashonde lyk na besems, ’n derde maak dorings in sy pels bymekaar, maar is deel van die huis. Een hond is Adamastor, genoem na die wind wat by L’Agulhas waai en klaarblyklik ook na Strandveld Vineyards se internasionaal bekroonde sauvignon blanc.
In die hoofhuis kry jy die idee die dekor verander gereeld. As jy blaai deur die plaas se kookboek, Halfaampieskraal vier fees, wat pas bekend gestel is, sien jy hier en daar dat Jan-Georg soms deur sy huis dwaal en hier iets skuif, daar iets ’n nuwe lewe gee.
Die aandag aan detail is verstommend. Aan ’n mini-driehoekkassie hang ’n Britse houtvlaggie. Op ’n ornamentele leeutjie se kop is ’n piepklein goue- en-rooi kroontjie.
’n Overbergse resepteboek
By die bekendstelling van Halfaampieskraal vier fees is die gaste op vrygewige mini-porsies getrakteer.
Sigeunerkasserol is in wit boepenspotjies uit ’n reuse-pan geskep; Marokkaanse kofta op stokkies was besonder geurig; en alles is voorafgegaan deur plomp ciabatta met van gekaramelliseerde uie tot strepies murgpampoentjies. Komkommer is eers in mentsous gedoop en daarna met mentblare, koljander en komyn bestrooi en toe op sosatiestokkies geryg. Die grand finale was baklava, oordadig met naeltjies gegeur.
Net voordat almal oppak, bring ’n gas ’n lap met blaarmotiewe te voorskyn. Met die losbind en ooprol verhelder Jan- Georg se gesig.
Hy sê dit nie, maar daar staan op sy gesig geskryf: “Een kleed kan mij in vervoering brengen.” Hierdie lap gaan Plantasiekamer toe!
Speel jy’s Kubaans
Club Havana, wat in ’n ou trekkerskuur gehuisves word, is vir spesiale geleenthede te huur. Van troues tot dekadente partytjies is al hier gehou.
’n Fees vir die oog
- Halfaampieskraal vier fees: Kos en geselligheid op ’n plaas in Suid-Afrika: ’n Fees vir die oog deur Maia du Plessis en Simon Scarboro word deur Human & Rousseau uitgegee. Ook in Engels beskikbaar as Halfaampieskraal Celebrates. Prys: Sowat R265. ISBN: 9780798152419.
- Lees meer en kyk na die foto’s op die webwerf www.kraal.biz.
Sigeunerkasserol met bone en wors2 x 500 g-pakkies haricot-boontjies, oornag geweek
800 g gekruide bees- of varkwors
kanola-olie om die uie in te braai
4 uie, gekap
1 e suiker
1 e witwynasyn
sout
1 e brandrissievlokkies
1 e fyn komyn
6 knoffelhuisies, gekap
2 e gerookte paprika
2 k olyfolie
1 liter ham- of hoenderaftreksel
’n groot hand vol gekapte platblaar-pietersielie
swartpeper
- Dreineer en kook die bone sowat 40 minute in heelwat water tot sag, maar nie pap nie.
- Verhit die oond tot 180 °C.
- Braai die wors tot bruin in ’n groot paella-soort pan. Skep uit die pan en hou eenkant.
- Verhit die kanola-olie in dieselfde pan en braai die uie met die suiker, asyn en sout totdat dit gekaramelliseer het.
- Voeg die rissievlokkies, komyn, knoffel en paprika by.
- Voeg die bone saam met die helfte van die olyfolie by en bedek dit met die aftreksel.
- Sny die wors diagonaal in 1 cm-skywe en voeg dit ook by. Bedek die pan met foelie en bak vir sowat ’n uur.
- Verwyder die foelie en bak totdat ’n kors gevorm word.
- Rond af met die gekapte pietersielie, die res van die olyfolie en baie swartpeper.
- Sit warm of teen kamertemperatuur voor.