Om meer te bereik wyl almal twyfel
2012-02-01 06:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Toe Richard Kelley (23) se ouma hoor haar kleinseun gaan opheffingswerk in Suid-Afrika doen, het sy hom gewaarsku dat slange, leeus en kapers sy einde sou beteken.
“Toe sê ek vir haar: ‘Ouma, ek dink darem nie dié drie is in dieselfde span nie.’”
OPHEFFINGSWERK
Dié onderwyser, wat ’n graad in kultuurstudies van Harvard het, het die Mamelodi Initiative-stigting in 2010 in samewerking met die Universiteit van Pretoria (UP) op die been gebring en het nog net goeie dinge oor Suid-Afrika te sê.
Die stigting doen, met behulp van Suid-Afrikaanse en Amerikaanse studente-vrywilligers, opheffingswerk onder hoërskoolkinders in Mamelodi. Die een been van die projek is somer- en wintervakansieskole op die UP se Mamelodi-kampus waarin lewensvaardighede ontwikkel word. Die ander been is ’n rekenaargeletterdheidsprogram wat tydens die skoolkwartaal aangebied word.
“Die hoofdoel van die Mamelodi-somerprogram is om die skoolstelsel aan te vul en leerlinge die noodsaaklike vaardighede vir hul skoolloopbaan, toekoms en die lewe te gee,” sê Kelley.
WAAROM NIÉ?
Kelley is ’n “glas halfvol”-persoon en terwyl sy ouma en baie van die Suid-Afrikaners met wie hy te doen kry vooropgestelde idees gehad het oor wat hy in Mamelodi sou teëkom, het Kelley besluit om vooraf geen verwagtings te koester nie.
Die werk wat hy hier kom doen het – om die gemeenskap te help om sy ideale te bereik en om hoërskoolleerlinge te bemagtig – was boonop vir hom so belangrik dat daar in elk geval nog nooit tyd was om ’n leeu in die oë te kyk nie.
“Dit was belangriker vir my om deel te word van die gemeenskap as om die land te sien. Mense het my al dikwels gevra wat my besiel het om juis in Mamelodi te kom werk. Dan sê ek vir hulle: ‘Waarom nie?’”
“Vrywilligers wat in enige gemeenskap betrokke raak, besef gou dat sommige van die verskille wat hulle verwag het nie bestaan nie, terwyl ander nie onoorkombaar is nie,” sê Kelley.
“As mense my vra of goed dan nie elke dag gesteel word in Mamelodi nie, is die antwoord ook maklik: Nee! Die kinders wat aan die projek deelneem is behulpsaam en gretig om te leer.”
Hy praat soos ’n trotse pa oor die byna 120 gr. 8- en gr. 9-leerlinge wat verlede maand die somerskool bygewoon het; geen sweempie meerderwaardigheid te bespeur nie.
Inteendeel, vir Kelley gaan dit juis daaroor om die kinders wat aan die vakansieprogramme deelneem te laat glo hulle kan veel meer bereik as wat enigiemand van hulle verwag; soos hy diegene verkeerd bewys het wat hóm destyds onderskat het.
“Ek kom van ’n lang lys moeilikheidmakers en was die eerste persoon in my familie wat universiteit toe gaan,” sê hy.
“Vir my het opleiding altyd ’n soort ontsnapping gesimboliseer van die verwagtings wat mense vir my gehad het. Kennis was die manier waarop ek my gemeenskap sou kon verander.”
HY KÁN
Die doelwit van die Mamelodi-vakansieprogram is om ’n soortgelyke positiewe denkrigting by tieners te vestig. Die deurlopende tema van die vakansieskole is “Die keuse is mýne”.
“So baie van die kinders in Mamelodi is geleer dat hulle nie kan presteer nie, ten spyte van hul talente.
“Hulle word gebombardeer met statistieke oor swak matriekuitslae en werkloosheid. Ek glo jy kan soveel meer wees as jy deurdruk, ten spyte van uitdagings.”
Daarom laat hulle kinders altyd op die een of ander stadium tydens die program hardop sê: “Ék sal die uitsondering wees.”
Dis klaarblyklik ’n boodskap waarvan die tieners baie hou, want, sê Kelley, meer as 70 kinders het ’n sertifikaat vir 100%-bywoning ontvang en al was die program stampvol het sommige tieners hul maats saamgebring om na sprekers te luister, klasse by te woon en in klein groepies uitdagings aan te pak.
Hoewel hy die een was wat die projek ontwikkel en help groei het, wys Kelley telkens daarop dat dit nie oor hom gaan nie.
“Die Mamelodi-gemeenskap het eienaarskap geneem van die projek en ek is bly om te sê ek is glad nie meer nodig nie,” sê Kelley, wat uit die staanspoor die beeld wou vermy dat hy hier is om Afrika “te red”.
Hulp het ook van elders ingestroom soos toe ’n Blou Bul-rugbyspeler verlede maand per toeval daar verby ry tydens ’n rugby-oefensessie waaraan sommige van die leerlinge deelgeneem het.
Die volgende dag het hy daar opgedaag saam met drie van sy spanmaats om die kinders te help afrig.
“As jy enige verandering wil bewerkstellig moet jy doodeenvoudig staatmaak op die vaardighede en kennis van ander. Alleen sou ek niks hiervan kon regkry nie,” sê Kelley.
Lees meer oor die Mamelodi Initiative by www. mamelodi.org/beta.
Enigiemand wat betrokke wil raak, kan Kelley kontak by rkelley@post.harvard.edu.

Richard Kelley, ’n Amerikaanse onderwyser wat ’n opheffingsprojek in Mamelodi begin het, glo nie daaraan om mense te onderskat nie. Foto: Lisa Hnatowicz