Pols: Die ‘gif’ wat jou kind inkry
2012-01-29 21:36
Dit is dalk vir jou al te oulik wanneer jou kind aan sy sagte plastiekspeelding kou dat die spoeg spat.
Sommige plastiekspeelgoed kan egter skadelike chemikalieë bevat wat gesondheidsgevare vir jou kind kan inhou. Carla van Niekerk het gaan uitvind wat ouers te doen staan.
In Suid-Afrika is ouers in die donker wanneer hulle speelgoed koop, sê dr. Carl Albrecht, navorsingshoof van die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa).
“As jy speelgoed koop vir ’n kind wat dit moontlik in sy mond gaan druk, sal jy nie weet of dit veilig is nie.
“Daar is geen aanduiding op die speelgoed of dit ftalate bevat nie – veral ook nie of dit die ses ftalate bevat wat deur die Europese Unie (EU) verbied is nie.”
Ftalate is plastiseermiddels wat gebruik word om plastiekitems soos rubberbadeendjies en bytringe vir babas sag te maak.
Dié chemikalieë word ook algemeen gebruik in mediese toestelle en ander huishoudelike artikels, berig www.cansa.org.za.
“Die enigste oplossing is wetgewing wat leweransiers verbied om speelgoed op die rakke te sit as dit enige van dié (skadelike) plastiseerders bevat,” sê Albrecht.
“Kinders sit speelgoed in hul monde. Die speeksel in hul monde, die koubeweging en die druk wat op die plastiek uitgeoefen word, kan die vrystelling van molekules verhoog.”
Hoekom dit gevaarlik is
Hy verduidelik plastiseerders is water- en vetoplosbaar en kan dus deur membrane beweeg en in die liggaam opgeneem word.
Ftalate kan dan jong kinders se voortplantingstelsels beskadig.
Volgens Albrecht het Kansa al in die verlede ’n vertoë aan die regering gerig om sagte speelgoed te verbied, maar sonder sukses.
“Ons beplan om vanjaar ’n skrywe aan die departement van gesondheid te rig. Ons gaan inligting inwin en dit aan die regering gee wat hulle kan gebruik as hulle wil optree.”
Me. Monya Vermaak, woordvoerder van Plastics|SA, die sambreelliggaam vir die plastiekbedryf in Suid-Afrika, sê daar is in dié stadium geen wetgewing in die land wat speelgoedvervaardigers of -verspreiders verplig om op die verpakking aan te dui waarvan die plastiekspeelgoed gemaak is nie.
“Die polimeer-identifiseringskodes is nie verpligtend nie, hoewel meer en meer vervaardigers dit internasionaal begin gebruik.”
Die EU het drie ftalate, DEHP, DBP en BBP uit alle speelgoed en kindersorgitems verbied.
’n Verdere drie ftalate, DINP, DIDP en DNOP, is verbied uit speelgoed en kindersorgitems wat kinders in hul monde kan sit, berig dié unie se webwerf (http://europa.eu).
Geen wetlike vereistes
Volgens me. Verna Schutte, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS), is daar geen wetlik verpligte spesifikasies waaraan speelgoed moet voldoen nie.
“Oorsee is daar verpligte vereistes. As speelgoed dus na Europa of die VSA uitgevoer word, moet dit (onderskeidelik) aan sekere vereistes voldoen.”
Schutte sê speelgoedvervaardigers of -verspreiders kan die SABS vrywillig versoek om hul speelgoed te toets indien hulle dié merk op hul produkte wil aanbring.
Tans is daar egter geen speelgoed wat die SABS se merk dra nie, voeg sy by.
Die SABS toets die speelgoed op versoek teen drie standaarde om seker te maak dit is veilig vir kinders.
Een van dié standaarde spesifiseer die maksimum aanvaarbare vlakke van sekere elemente wat uit speelgoedmateriaal en dele van speelgoed mag migreer.
Dié elemente is antimoon, arseen, barium, kadmium, chroom, lood, kwik en selenium.
Die ander twee standaarde toets die veiligheid rakende die vlambaarheid en die meganiese en fisieke eienskappe van die speelding.
Die departement van gesondheid kon nie teen druktyd vir kommentaar bereik word nie.
Pasop hiervoor
Albrecht verduidelik sagte plastiekspeelgoed bestaan uit plastiek (soos PVC) en ’n plastiseerder, wat verhinder dat die speelgoed kliphard is.
Volgens hom word plastiseerders gewoonlik by PVC gevoeg.
“Nie alle plastiseerders is skadelik nie. Die ftalate is die sondaars. Dit kom gewoonlik in sagte plastiekspeelgoed voor.”
Vermaak sê Plastics|SA steun net materiaal wat nie die gebruiker sal skaad nie.
“Daar is meer as 40 verskillende plastiseerders wat gebruik kan word om PVC sag en soepel te maak. PVC (3) is die soort plastiek (polimeer) wat gebruik word om sekere plastiekspeelgoed van te maak.
“Van die 40 verskillende plastiseerders is daar net ses plastiseerders wat moontlike gevaar kan inhou met hoë en langdurige blootstelling. Daar is egter baie ander plastiseerders wat veilig is vir mense, ook kinders.”
Sy voeg by slegs speelgoed vervaardig van PVC bevat ftalate.
Albrecht sê net ’n lae konsentrasie ftalate is nodig om ’n invloed op jou kind se gesondheid te hê. “Ftalate werk op die hormone. Jy het amper net ’n druppel in ’n Olimpiese-swembad nodig om ’n uitwerking te kry.
“Ek dink nie dit is so erg dat elke kind wat so ’n speelding in sy mond druk eendag sal siek word nie. Maar ek hou nie van die idee dat mensgemaakte molekules, wat bewys is om ’n hormonale uitwerking te hê, in kinders ingaan nie. Wees eerder veilig as later spyt.”
Volgens Kansa kan die ftalaat DEHP, byvoorbeeld, onder meer tot vervrouliking onder seuns lei en tot vroeë puberteit in meisies, dit kan ook kanker veroorsaak en fetale ontwikkeling en estrogeen-metabolisme ontwrig.
Wat kan ouers doen?
Vermaak gee dié wenke:
Wees op die uitkyk vir ’n driehoeksimbool met ’n identifiseringskode daarin op speelgoed. PVC is kode 3.
Die meeste sagte, rubberige speelgoed word ingevoer. As die speelding in ’n Europese land of die VSA vervaardig is, sal dit gewoonlik op die verpakking staan dat dit nie ftalate bevat nie. Dit is dan veilig.
Harde speelgoed bevat nie plastiseerders nie en dus ook nie ftalate nie.
“’n Goue reël vir ouers: Dis beter om weg te doen met ou plastiekspeelgoed wat taai raak. Moenie sagte speelgoed onnodig aan hitte blootstel nie. Was dit met koue water en vee dit met ’n lap met seep af – nie met huishoudelike skoonmaakmiddels nie.”
Dr. Carl Albrecht, navorsingshoof van Kansa, se wenke:
Koop eerder speelgoed wat van polipropileen, poli-etileen en poli-uretaan gemaak is – pleks van PVC.
Wees veral versigtig om speelgoed te koop wat vanuit die Verre-Ooste ingevoer is.
Die kanse is kleiner dat speelgoed van natuurlike produkte soos hout karsinogenies sal wees.
Vermy kinderjuweliersware wat kadmium bevat.
“Die Chinese is lief daarvoor om dit in die plek van silwer te gebruik. Dit is ’n sterk karsinogeen. As ’n kind dit insluk, vergiftig dit die liggaam.”