Pols: Die prys van eerste plek

2012-02-09 22:43

Sommige laerskoolleerlinge probeer eerste plekke soos speelgoed bymekaarmaak, soos Susan (Melissa Massyn) in die fliek Hoofmeisie. Foto met vergunning van The Film Factory

Foto's   ·   Lesersfoto’s   ·   Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

‘Wil jy hoofmeisie of hoofpuisie wees?” vra ’n ma haar gr. 6-dogter in die fliek Hoofmeisie.

Die skool se leerlingraadsverkiesing wink en dié ma gebruik al haar energie om te sorg dat sussie die balkie sal verower.

Dis op die oog af ’n snaakse toneel, maar die rolprentmakers het iets daarmee vasgevang wat daagliks in laerskole landwyd afspeel: Die kompetisie om altyd eerste, beste, mooiste te wees.

Dr. Ezette du Plessis, al 18 jaar lank ’n sielkundige in private praktyk, sê sy kry byna daagliks te doen met kinders wat voel hulle kan nie aan hul eie verwagtinge of dié van ouers en skole voldoen nie.

“Hulle vergelyk hulself pal met ander en voel onder druk. Ek praat ook dikwels met ouers wat saamstem dat skole te veel druk op kinders plaas. Ouers wie se kinders in dié kompeterende milieu vasgevang is, is magteloos omdat enige kritiek van hul kant af as afguns beskou word.”

Wag ’n bietjie

Sy meen die “buitensporige kompetisiegees” by baie laerskole het veroorsaak dat talle kinders nie meer veilig voel by die skool nie.

“Dit is jammer dat vele skole kinders se prestasies gebruik om hulle te bemark,” sê Du Plessis. “Dít het daartoe gelei dat kinders wat graag wil deelneem aan sport of ander aktiwiteite soms doelbewus van deelname uitgesluit word as hulle nie ‘die bestes’ is nie.

Dié kinders kry ’n negatiewe assosiasie met sport, voel uitgesluit en onttrek dikwels lewenslank uit sportdeelname. As kinders te vroeg in sport kompeteer, is hulle teen die tyd dat hulle
hoërskool toe gaan nie meer lus om deel te neem nie.

“Laerskole is tans kortsigtig in hul benadering tot sport. Wanneer hulle net dink aan die ‘wen’ van wedstryde of galas vergeet hulle soms dat dit uiteindelik gaan oor die langtermyn-deelname van die meerderheid kinders in die skool.”
Navorsing toon kinders behoort voor 12 tot 13 eintlik glad nie aan kompeterende sport deel te neem nie.

“Daar is talle sport- en motoriese vaardighede wat eerder voor hierdie ouderdom aandag behoort te geniet. Die enigste doelwit van deelname aan aktiwiteite soos sport of redenaars voor 13 moet wees om dit te geniet en om op ’n genotvolle manier te ontwikkel.”

Die sportwetenskaplike prof. Tim Noakes beaam dié standpunt. “Ons moedig sportdeelname aan, maar om al die nodige vaardighede, soos belangrike bewegings, te ontwikkel,” sê hy. “Laat jou kind dus aan talle sportsoorte deelneem sodat hulle kan leer vang, of swem, of beweeg.”

Hoewel hy meen kinders behoort al op vier hierdie vaardighede te begin aanleer as hulle op lang termyn aan sport gaan deelneem, maan hy ouers om nie perspektief te verloor nie.

“Ouers moenie hul kinders gebruik om hul ego’s aan te blaas nie.

As jou kind as o.9 ’n top-rugbyspeler is, is dit amper seker dat hy nié eendag ’n Springbok-speler sal wees nie. Dit is eerder die seuns wat as o.16-spelers uitblink en dus verder is in hul ontwikkeling wat later op dié vlak uitstyg.”

Vir ’n goue sterretjie


As daar al in die grondslagfase (gr.1 tot gr. 3) op prestasie gefokus word, kan dit verskeie nadele inhou vir sowel die “wenners” as “verloorders”, sê Du Plessis.

“Dit is [byvoorbeeld] veral nadelig met sport soos rugby. In so ’n span is daar gewoonlik net een of twee ‘sterre’ wat moontlik deur ouers, blootstelling of ouer broers redelik vaardig is om drieë te druk. Wanneer dié kinders in ’n ‘wedstryd’ speel, sal die ‘ster’ dan gewoonlik die bal vir homself toeëien en die verantwoordelikheid hê om al die drieë te druk omdat die ander spanlede nog nie die vaardighede aangeleer het nie.

Gewoonlik juig die ouers en loof hulle die kinders, maar in werklikheid het niemand daarby baat gevind nie. Die ‘ster’ leer niks van samespel of om vir maats te gee nie. Die ander spelers verloor belangstelling, raak passief en begin later glo hulle kan of hoef nie drieë te druk nie. Die ‘wenspan’ het ’n vals idee van hul waarde en die ‘verloorspan’ begin almal dink: ‘Ek is nie goed genoeg nie.’”

As kinders van kleins af gedruk word om te presteer, is die gevolg dikwels angstigheid.

Du Plessis beaam: “Dit veroorsaak onder meer dat onsekerheid, gespanne interpersoonlike verhoudings, druk deur ouers, aggressie en minderwaardigheid in laerskole posvat,” sê sy.

“John Holt (’n opvoedkundige) sê dit so mooi: ‘We destroy the love of learning in children which is so strong when they are little, by compelling them to work for petty and contemptible rewards, gold stars, honor rolls... All for that ignoble satisfaction of being better than someone else.”

Wanneer kinders geleer word dat wen alles is, vertoon hulle dikwels al op ’n vroeë ouderdom ongunstige “verloor-eienskappe”. “Hulle raak dikwels aggressief of depressief weens die druk wat hul ouers, skole of afrigters (soms onwetend) op hulle plaas. Hierdie kinders geniet reeds nie meer die aktiwiteit nie. Fokus eerder op die prosesse gedurende die aktiwiteit, byvoorbeeld ‘mooi getackle’ of ‘goeie vangskoot’.”

Ék is goed genoeg


Daar ís egter plek vir kompetisie, sê Du Plessis, maar dit behoort die laaste stap in die beoefening van aktiwiteite te wees.

“Skole moet eers sorg dat die kinders die basiese vaardighede (skop, gooi, beweeg, balanseer, oog-hand-koördinasie) bemeester het voordat hulle aan kompetisie blootgestel word; hulle moet kinders leer van samewerking met spanmaats en fokus op die inoefening van vaardighede. Wanneer dié vaardighede bestaan, kan kinders begin kompeteer.

“Wat skole nou doen, is om kinders op ses of sewe onmiddellik te laat kompeteer. Kinders van dié ouderdom is nog nie in staat om ‘verloor’ te sien as aansporing om hul vaardighede te verbeter nie. Die doelwit behoort te wees om kinders so lief te maak vir sport, of redenaars, of musiek, of akademie dat hulle vir die res van hul lewens daarmee wil volhou. Dit gebeur nie as hulle onmiddellik met mislukking gekonfronteer word nie,” meen sy.

“As kinders reg aan kompetisie blootgestel word, begin hulle geleidelik besef waarmee hulle goed en minder goed is sonder om uit die staanspoor te voel hulle is ’n mislukking. Ook dié wat op ’n vroeë ouderdom al vaardig is of dalk dikwels ‘wen’, begin sodoende teen hulself te kompeteer en probeer dan hulself verbeter, onafhanklik van die prestasie van ander, dan is die moontlikhede onbeperk!”

Neem só deel

My kind is meer werd as wen

Me. Trudie Swanepoel, ’n Pretoriase ma, het onlangs haar kinders (gr. 3 en gr. 6) van ’n kompetisie-gedrewe skool oorgeplaas na ’n skool wat op deelname fokus.

“Dit [kompetisie-gedrewenheid] het hul entoesiasme gesteel. Hulle is nou weer hulself, spontaner en het die vrymoedigheid om deel te neem sonder om bang te wees dat hulle nie die beste gaan wees nie,” sê sy.

Volgens Swanepoel kan kompetisie-druk kinders later huiwerig maak om deel te neem, veral omdat hulle geleer is prestasie en deelname moet hand aan hand gaan.

“By my kinders wat op deelname fokus, sien ek egter dat dit nie ’n gegewe is dat deelname en prestasie saam moet gaan nie. Hulle kompeteer steeds, maar vir sukses vir hulself en nie vir die toeskouers nie. Ek kan sien hoe hulle hul potensiaal as individue verwesenlik.”

Sy sê sy moes dikwels toekyk hoe ander kinders, wat nie noodwendig die “beste” spelers was nie, teleurgesteld op die kantlyn moes sit terwyl die sogenaamde “beste” spelers altyd op die baan was. Die gevolg is kinders wat gespanne en verstote voel en deur die groep uitgesluit kan word.

“Uitskieter-kinders is wonderlik, maar skole is opvoedkundige instellings, nie sport- of kultuurinrigtings nie. As skole nie meer opvoedkundig te werk gaan nie, versaak ons ons kinders. Dit is onregverdig om die meerderheid kinders nie te laat ontwikkel nie.”

 

Binne Beeld

Weer
Lotto
Ksd: 10-18°C Mostly sunny. Mild. Pta: 6-20°C Sunny. Refreshingly cool.
Jhb: 2-17°C Sunny. Cool. Bfn: 1-15°C Sunny. Quite Cool.
Dbn: 14-20°C Mostly sunny. Cool. PE: 13-19°C A few showers. More sun than clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

IT MANAGER

Cape Town, South Africa
MBA Service Holdings Pty Ltd
R50000 - R70000

Magic Developer

Johannesburg, South Africa
E-Merge IT Recruitment
R384000

Systems Developer- Ruby Rails

Johannesburg, South Africa
E-Merge IT Recruitment
R400000

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

BMW

118i (E87)
2007
R 200,600.00

VOLKSWAGEN

CitiGolf 1.4i 5-dr MY04
2007
R 72,995.00

AUDI

A4 2.0 TDi Dsl 103kW MY05
2006
R 255,000.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Chobe Marina Lodge

Spend 2 nights on the banks of the banks of the Chobe river at Chobe Marina Lodge from R6717 per person sharing. Includes return flights, taxes, transfers and accommodation. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Avengers nou beskikbaar

Marvel Avengers-aksiekarakters nou beskikbaar vanaf R189,95. Koop dit nou.

Toshiba-tabletrekenaar AT-100

Bespaar R1 000 op dié fantastiese tabletrekenaar. Nou slegs R2 999,95. Koop dit nou.

Massiewe speletjie-uitverkoping

Kry tot 65% afslag op speletjies. Alle voorraad moet verkoop word. Terwyl voorraad hou. Koop dit nou.

Meng & Pas

Meng en pas twee albums vir die prys vir R149. Nuwe albums het so pas ingekom. Koop dit nou.

Moet-lees-boeke vir tieners

Die gewildste boeke vir tieners en jong volwassenes. Hunger Games, The Flappers & meer. Koop dit nou.

7'' gobii LCD e-leser met kleur

Nou slegs R899

Sluit in e-boek geskenkbewys ter waarde van R160, swart omslag en USB muur laaier. Aanbod eindig 27 Mei 2012. Koop nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...
Daar is vars stories op ons tuisblad. Kliek hier om hulle te lees.