Pols: Kry ’n plan om kilo’s af te skud
2012-02-01 22:50
Dit is al Februarie en die feestyd se vetjies klou nog hardnekkig vas. Karla Janse van Vuuren het meer uitgevind oor drie gewigsverliesmetodes wat tans gewild is onder dié wat hul figuur wil herontdek.
’n Alles-in-een-eetplan
Die program: Diet in a box
Wat jy moet weet: Deon van der Merwe het in Desember 2007 met ’n laekoolhidraat-eetplan begin en 77 kg in sewe maande afgeskud.
Hy het toe Diet in a box saamgestel op grond van die dieet wat hy gevolg het.
Diet in a box is presies wat dit sê: ’n Boks met klaarbereide etes vir ’n week (sewe ontbyte, sewe middagetes en sewe aandetes) wat net verhit moet word.
’n Tipiese ontbyt is laekoolhidraat- roosterbrood, middagete is ’n kaasburger en aandete geroosterde hoender en slaai.
Een keer per maand verander die maaltye in die boks. ’n Boks kos R445.
Dit het verlede jaar op die Good Food & Wine Show in Johannesburg die prys vir die produk van die jaar gewen.
“Die program is gegrond op ’n laekoolhidraat-dieet. Deur jou koolhidraat-inname te beperk tot sowat 20 g per dag begin jou liggaam vet verbrand vir energie.
“Dit is ’n natuurlike liggaamsfunksie en Diet in a box aktiveer dit sodat vet gebruik kan word vir energie,” verduidelik Van der Merwe.
Die maaltye word van topgehalte vars produkte in twee fabrieke in Roodepoort gemaak en bevat geen preserveermiddels nie, sê hy.
“Ons meen dit is ’n baie bekostigbare program. Elke maaltyd kos minder as R20 per ete.”
Lila Bruk, ’n geregistreerde dieetkundige, sê: “Ek stem saam dat die liggaam ’n natuurlike vermoë het om gebergde vet te verbruik; dit is die basis van enige gewigsverliesprogram.
“Dit is ’n goeie idee om klaarbereide maaltye te gebruik, veral vir enkellopende mense en dié met ’n baie besige leefstyl.
“Tog is dit belangrik om jou leefstyl te leer verander en beter koskeuses te maak, want Diet in a box kan nie ’n langtermynstrategie wees nie.”
Vir meer inligting oor Diet in a box besoek www.lowcarbsa. co.za
Volg net dié bord
Die program: The Diet Plate
Wat jy moet weet: Dié bord (daar is ook ’n bakkie beskikbaar vir onder meer sop en ontbytkos) is in 1995 in Brittanje ontwikkel en help met porsiebeheer.
Die korrekte hoeveelheid van elke voedselgroep word op die bord aangedui en daar is verskillende borde vir mans, vroue en kinders.
Jy skep die verskillende voedselgroepe (soos koolhidrate en proteïen) in die afskortings en weet dit is die regte porsiegrootte.
The Diet Plate Com- plete System (’n bord en ’n bakkie) kos R450.
“Dit is volhoubaar om gewig só af te skud, want daar is geen spesiale dieetkos nie – jy eet die korrekte porsies gewone kos.
Die bord werk vir almal en daar is klinies bewys dat dit kan help om tipe-2-diabetes en cholesterol te beheer,” sê Gail Galvin, eienaar van The Diet Plate in Suid-Afrika.
Sy voeg by dat die bord ’n mens op ’n prettige manier leer van die verskillende voedselgroepe en hoe om gesonde keuses te maak.
“Sodra jy jou teikengewig bereik het, kan jy die bord op weekdae gebruik en naweke ontspan. Die meeste mense kan hul nuwe, gesonde gewig só handhaaf.
“Nadat jy die bord ’n paar weke gebruik het, sal jou oog “in” wees sodat jy dadelik sal sien as porsies te groot is wanneer jy uiteet.
’n Dieetkundige sê: “Die bord kan beslis help om porsiebeheer toe te pas. Die gebruiker moet ook opgevoed word oor gesonde eetgewoontes.
Al het jy die regte porsiegrootte, maar jy kies elke keer vetterige vleis, gaan jy waarskynlik nié die gewenste resultaat kry nie.
Dis goed dat daar verskillende borde vir verskillende mense is; dit maak voorsiening vir die voedingsbehoeftes van verskillende geslagte en ouderdomme,” sê Bruk.
Vir meer inligting oor The Diet Plate besoek www.thedietplate.co.za
Wat van ’n internasionale eetprogram?
Die program: Celebrity Slim
Wat jy moet weet: Met dié program vervang jy sekere etes met Celebrity Slim-skommels, -sop en -stafies.
“Aptekers en voedingkundiges het die program sowat ses jaar gelede ontwikkel en gebaseer op kliniese navorsing uit die VSA.
Vandag word dit wêreldwyd verkoop en is in Suid-Afrika by Clicks beskikbaar,” sê Dusty Stringer, hoofbestuurder van bemarking, per e-pos uit Australië.
Volgens Stringer is die program gebaseer op eenvoudige voedingsbeginsels en help mense om versadig te voel.
“Dit is moeilik genoeg om gewig af te skud, jy wil nie nog heeltyd honger wees ook nie,” sê Stringer.
“Celebrity Slim help mense om gesonde eetgewoontes aan te kweek, soos om ontbyt te eet, gereeld klein maaltye te eet, water te drink, porsiegroottes te verstaan en lae-GI-kos te kies. Só help dit langtermyn-, volhoubare gewigsverlies aan.
“Dit maak die proses om gewig af te skud makliker, maar jy moet ook gedissiplineerd eet. Die idee is om ’n gesonde leefstyl aan te kweek, maar jy moet toegewyd wees vir permanente verandering.”
Die program is nie geskik vir swanger vroue of kinders onder 16 nie. ’n Beginnerspak met genoeg skommels, stafies en sop vir sewe dae kos R279.
’n Dieetkundige sê: “Ek dink nie Celebrity Slim is ’n gesonde eetplan nie. Dit gebruik maaltydvervangers soos skommels, sop en stafies en is gebaseer op ’n baie laekoolhidraat-dieet.
Jy kan nie vir altyd van sop en stafies leef nie en dus reken ek nie die gewigsverlies gaan volhoubaar wees nie,” meen Bruk.
Vir meer inligting besoek www.celebrityslim.co.za
Voordat jy ’n gewigsverliesprogram kies
Gaan die eise wat die gewigsverliesprogram maak versigtig na – gesonde gewigsverlies is 0,5?kg tot 1?kg per week. As die program belowe jy gaan meer as dit per week verloor, is dit nie gesond nie.
Vermy die program as dit die gebruik van pille, inspuitings en ander mengsels vereis.
Vermy die program as dit geen oefening aanbeveel nie.
’n Gesonde program moet kos van al die voedselgroepe insluit – as jy ’n hele voedselgroep moet uitsny (soos koolhidrate) of as jy net een soort kos mag eet (soos koolsop), is dit nie ’n goeie idee nie.
Vind uit wie die program ontwikkel het. Net dieetkundiges is gekwalifiseer om raad te gee oor eetplanne. As dit deur ’n verpleegster, sielkundige, “dieet-dokter” of homeopaat geskep is, is dit moontlik dat dit nie ’n gesonde, gebalanseerde plan is nie.
– Inligting verskaf deur geregistreerde dieetkundige Lila Bruk (lilabruk@yahoo.com).