Pols: ‘Maak’ ons kanker self?
2012-02-05 21:40
Wat is die verband tussen omgewingsbesoedeling en kanker? Is daar karsinogene wat ’n mens kan vermy? Dit is van die vrae wat geopper is toe ons eergister op Wêreldkankerdag weer aan die groot K herinner is.
Byna almal ken deesdae iemand of weet van ’n paar mense wat kanker het.
Dit neem toe, deels weens die bevolkingstoename op aarde en deels omdat al hoe meer mense ouer word. Soos my tant Aletta sê: Dood moet ’n oorsaak hê.
Maar wat ontstellender is, is ’n groter hoeveelheid navorsing wat verbande trek tussen omgewingsbesoedeling en kanker.
Verbande is nie dieselfde as oorsake nie en mense met verskillende agendas verskil oor metodiek en wetenskaplikheid. Vir sommige is ’n groot hoeveelheid anekdotiese getuienis genoeg, maar ander wil meer wetenskaplike bewyse hê.
Suur mynwater – en of dit kanker veroorsaak of nie – is een van die netelige onderwerpe. Dr. Carl Albrecht, hoofnavorser van Kansa, sê: “Ek soek al drie jaar lank na kankeroorsake in suur mynwater, maar ek kry geen bewyse nie.”
Maar niemand wat hoor hoe baie mense al dood is aan kanker langs die Wonderfonteinspruit en die Leeuwspruit aan die westekant van die Witwatersrand wil daar gaan woon, van daardie water drink en daardie stof van die mynhope inasem nie.
(Studente van die Harvard-universiteit het in Januarie ’n toer van die Weste kom onderneem om anekdotiese getuienis oor siekte in gemeenskappe naby myngebiede in te samel.)
Wetenskaplikes aanvaar egter wel dat tussen 10% en 20% (dit hang af wie jy vra, sê dr. Samuel Fourie, onkoloog van die Wilgers-hospitaal in Pretoria) van kankers deur mensgemaakte chemikalieë in die omgewing veroorsaak word, van bababottels tot steenkoolfabrieke.
Die probleem is dat gewone sterflinge nie weet wie om te glo nie.
As jy eers op die internet begin rondkyk, gaan jy duisende vrese, waarskuwings en dreigemente opspoor oor wat jou alles kanker kan gee. Bestraling van onder meer selfoonmaste; leukemie, veral in kinders ...
Radio-aktiewe mynstof word honderde kilometers ver van die mynhope aangetref, kwik besmet vis aan die ander kant van die aardbol en kan ernstige degeneratiewe en outo-immuunsiektes veroorsaak, en alles wat immuniteit aantas, kan kanker makliker laat posvat.
Van dié inligting word baie sensasioneel aangebied en berus op die willekeurige uitsoek van feite, ander kom van werklike wetenskaplike navorsing, soos dr. Philippa Darbre se verslag wat verlede maand in die Journal of Applied Toxicology gepubliseer is oor die teenwoordigheid van parabens in borskankerweefsel.
Parabens is preserveermiddels in die produkte in jou badkamerkassie en grimeersakkie.
Dis nogal skrikwekkend om te dink dis nie genoeg om gesond te leef nie: om nie te rook nie (30% van kankers hou verband met rook), matig te drink (10% van kankers in mans is te wyte aan alkohol; sowat twee drankies per dag word as veilig beskou), baie groente en vrugte te eet en gereeld oefening te kry.
Wie is nog veilig, en waar?
Dis nie ’n opsie om moontlike of bewese karsinogene te vermy deur te trek na waar die lug helder en die water skoon is nie. Sodra genoeg mense soontoe getrek het, begin hulle in elk geval dadelik weer mors.
Keer dit só
Leer meer oor die karsinogene in jou huis. Hoe sterker jou skoonmaakmiddels, hoe meer chemikalieë is daarin. Gebruik so spaarsamig as moontlik.
Bly weg van gifstowwe – kry ander maniere as gif om van goggas in jou huis en peste in jou tuin of jou stoor ontslae te raak.
Me. Carin Smit, toksikoloog van Roodepoort (’n uiters ongesonde omgewing, sê sy) en self ’n oorwinnaar van kanker, beveel aan dat mense hulself beskerm deur die volgende aanvullings te drink: 20?gram (2?000?mg, veel hoër as die tradisionele aanbevole dosis) gebufferde poeiervorm- vitamien C in 2?liter water opgelos, drink deur die dag; fosfatidiel-cholien (ook bekend as
lesitien), hoë dosisse van sink en ’n goeie gehalte vitamien B-aanvulling.
Fourie sê baie kankers is sinergisties (die geheeleffek is groter as die som van die afsonderlike effekte). Die risiko van iemand om kanker te kry wat byvoorbeeld rook én aan ’n moontlike kankervormende stof in die omgewing blootgestel word, skiet die hoogte in.
Dink aan die groter prentjie: Bestee jou geld waar dit nie gaan gebruik word om nog meer te mors en nog meer skade aan te rig nie. Koop organiese groente wat nie ’n groot klomp gif nodig gehad het om te groei nie; koop plaaslik sodat jy nie die vervoerkoste en gepaardgaande koolstof subsidieer nie.
Moenie e-afval soos batterye en plastiek in die asblik gooi waar dit in die vullisterrein begrawe gaan word nie. Die arseen en ander gifstowwe daarin lek mettertyd in die grondwater in.
Word ’n aktivis oor omgewingsake, op watter manier ook al by jou persoonlikheid pas. Lig jouself in.