Pols: Vroue in mag kan hul man staan!
2012-02-06 22:08
Die vraag oor of vroue in magsposisies ánders optree as mans, of werklik ánders behandel word, word opnuut aangeroer deur die biografiese rolprent oor die lewe van Margaret Thatcher, The Iron Lady, berig Riëtte Grobler.
‘Ek sal nie sterf terwyl ek ’n teekoppie was nie. ’n Mens se lewe moet sáákmaak.”
So sê ’n vasberade, jong Margaret Thatcher (as jong vrou vertolk deur Alexandra Roach) in ’n toneel uit The Iron Lady wanneer haar aanstaande man, Denis, haar om haar hand vra.
Die rolprent open Vrydag in Suid-Afrika en deur die oë van regisseur Phyllida Lloyd en skrywer Abi Morgan kry kykers ’n blik op die lewe van Brittanje se eerste vrouepremier.
Thatcher is 86 en ly aan demensie, in die rolprent én die werklikheid. Dit is vanuit dié invalshoek wat die verhaal, deels feit, deels fiksie, ontvou.
Verward en steeds treurend oor die dood van haar man onthou die bejaarde Thatcher (Meryl Streep) grepe van haar politieke loopbaan en huislewe.
Vroue en sukses
Dit is dié benadering wat talle resensente, soos The New York Times se A.O. Scott, laat wonder het of ’n soortgelyke biografiese rolprent oor ’n manspolitikus so vertel sou word. Veral terwyl die politikus steeds leef.
“Dit lyk vir my of me. Lloyd en me. Morgan probeer om hul brood aan albei kante te botter deur hul heldin te vier as ’n feministiese pionier, terwyl hulle ook die tragiek uitbeeld van hoe tragies onvervuld sy moes wees volgens die standaarde van vroulike prestasies.”
Uit feministiese kringe word daar egter beweer dat enige uitbeelding van die voormalige premier as feminis, ’n skreiende skande is.
Thatcher is tydens haar bewind deur feministe geminag omdat sy haar nié voluit vir die “vrouesaak” beywer het nie.
Maar Natasha Walter, ’n skrywer en vroueregtestryder, het in The Guardian gesê dat hoewel sy Thatcher se beleide en besluite allermins goedkeur, daar nie ontken kan word hoe baie sy vir vroue gedoen het nie.
In haar boek The New Feminism, wat 13?jaar gelede gepubliseer is, skryf Walter: “ Vroue wat kla dat Thatcher nie ’n feminis was nie, mis ’n wesenlike punt: Sy het vroulike sukses genormaliseer. Sy het gewys dat hoewel vroulike en manlike mag verskillende tale praat, ander tradisies het, ander maniere het om glansryk of goor te wees, hulle ewe sterk en ewe geldig is.”
Yster en fluweel
Die rolprentmakers maak die manlike ongemak met Thatcher se standvastigheid en leierskap baie duidelik. Haar blou snyerspakkies en handsak staan in sterk kontras met die swart pakke van die mans in haar kabinet.
Maar sy weifel nooit en dis juis haar onwrikbaarheid wat aan haar die bynaam Die Ystervrou verleen het.
Julia Baird skryf in Time dat die blote konsep “ystervrou”, ’n baie basiese ongemak met vroue in mag openbaar.
“[Die persepsie is dat hulle] anders móét wees as ander vroue om sukses te behaal. Net soos ’n ander groot cliché: Die ystervuis in die fluweelhandskoen,” skryf Baird.
“Dit is deel van ons Westerse tradisie om vrouepolitici te probeer mak maak, hulle neerhalend te behandel of ons oor hulle te verwonder. Hul gesag en magsuitoefening word te dikwels uitgebeeld as iets verrassend, minderwaardig of streng. Gehardheid en beslistheid, word aangevoer, kom nie natuurlik vir vroue nie.”
Me. Helen Zille, Wes-Kaapse premier en leier van die DA, stem ook nie met dié uitbeelding van vroue in magsposisies saam nie.
“Thatcher was ’n baanbreker-politikus in die Westerse politiek, veral ten opsigte van haar sosio-ekonomiese beleidsrigting.
“Maar sy het in eie reg tot die leierskorps van die Tories en premierskap toegetree sonder om te hamer op haar geslag of om haar identiteit as politikus daarop te grond,” meen Zille.
“Sy het gewys dat met harde werk, vrymoedigheid en ’n doelbewustheid, ’n vrou die hoogste vlakke van regering kan bereik.”
Waagmoed en opdringerigheid
Dit is egter ironies dat Thatcher in 1950 beskryf is as “een van die beste vrouekandidate” wat een verkiesingskandidaat nóg teëgekom het, maar dat sy, toe sy ’n vrou en ma geword het, as “opdringerig”, eerder as “waagmoedig” beskryf is, merk Amanda Foreman in Mail Online op. Haar posisie het boonop opofferings geverg.
Hoewel daar in die rolprent grepe van ’n gelukkige gesinslewe is, wys dit ook hoe die jong Thatcher van die huis wegry werk toe terwyl haar kinders haar huilend in die straat vra om nié te gaan nie.
Die enigste werklike verskil tussen mans en vroue, meen Zille, is juis die feit dat vroue kinders baar.
“Dit het groot gevolge. Jy wil jou kind borsvoed. Jy wil ’n band met jou kind vorm; jy wil sy eerste woorde en eerste treetjies meemaak. Jou hart skeur dikwels van pyn as jy iets moet mis weens ’n werkverpligting. Maar jy kan dit definitief nie regkry as jou man nie bereid is om sy kant te bring of gesinsverantwoordelikhede van enige aard te deel nie,” sê sy.
“Ek is gelukkig met so ’n man getroud. Dit is die enigste rede waarom ons saam kinders kon grootmaak en twee loopbane kon volg.”
Op die vraag oor hoe sý die uitdagings hanteer om haar posisie as DA-leier, ma en eggenoot te balanseer, sê sy: “As my gesin my nodig het, kom hulle altyd eerste. Hulle weet dit. As hulle bel, beantwoord ek die oproep in enige vergadering of situasie. My seuns is twee onafhanklike jong mans wat hul lewens bou. My man is altyd druk besig. Ons verkies dit so.
“Jy kan nie álles hê nie. Iets moet prysgegee word,” voeg Zille by.
“Met ons was dit ons sosiale lewe ons het bitter min gaan fliek of uiteet. Maar ons het as familie saamgegroei en geeneen van ons is spyt nie.”
Daar kan net bespiegel word oor wat die Ystervrou sou sê as sy dié rolprent oor haar lewe sou sien. Maar ’n mens wonder of sy, soos Streep haar by tye uitbeeld, sou spyt wees oor wat sy as vrou en ma bereik het.