Verbruikersforum
2010-03-21 22:11
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Maande lank wag sy op wasser
Me. Jacoba van Staden het haar klagte oor Early Bird na ons gebring.
“Ek het sedert 1986 ’n kontrak met Early Bird. My skottelgoedwasser is in 2008 en weer in 2009 deur hulle herstel.
Ná die eerste poging het dit steeds nie die wassiklus voltooi nie. Die tweede keer het hul tegnikus die masjien se motor uitgebrand.
“Hierna is hulle met die wasser weg en moes ons talle verskonings hoor waarom die masjien ná maande nog nie herstel is nie.
Hulle het onder meer gesê die wasser is te oud; hulle kan nie onderdele daarvoor kry nie. As dit so is, waarom word die masjien nie van die polis verwyder nie?”
Tot u diens het Van Staden se klagte na Early Bird verwys. Hulle het vasgestel wat die fout aan Van Staden se skottelgoedwasser is en het dit herstel.
Dokumente bly weg oor boedel
Mnr. Rupert Carter het by Tot u diens aangeklop met sy klagte oor Motormark.
“Ek het ses maande gelede ’n kar by Motormark gekoop, maar ons moes wag vir die registrasiepapiere aangesien dit ’n private persoon se motor was wat op hul vloer vertoon is.”
Volgens Carter het die verkoopsman aan hom gesê die papiere sal binne minder as ’n week beskikbaar wees.
“Ek het baie werk aan die motor laat doen en dis al deur die padwaardigheidstoets ook, maar die papiere het nooit gekom nie.”
Ons het met Motormark kontak gemaak en hulle gevra om aandag aan Carter se klagte te gee. Hulle het verduidelik dat die motor uit ’n boedel gekom het en dat dit bygedra het tot die oponthoud.
Carter het intussen die papierwerk van die motor gekry en sê hy sal weer sake met Motormark doen.
Datum haakplek in mediese eis
Me. Erna Dreyer was ongelukkig met die diens van Liberty- mediese fonds.
“Ek moes vir ’n prosedure gaan by die hospitaal. Ek het voor die tyd goedkeuring by die mediese fonds gekry.
Liberty het toe vir die grootste deel van die koste betaal, maar ’n bedrag van net meer as R1 000 was nog uitstaande.
Hulle het aangedui ek word nie vir dié koste gedek nie, maar sover my kennis strek, het ek dekking hiervoor ook.”
In opvolgende korrespondensie het Liberty Dreyer laat weet daar is ’n foutiewe datum vir die prosedure aan hulle gegee. Sy het die eis weer na hulle gestuur met die korrekte inligting, maar steeds is dit afgekeur.
“Ek het nog verskeie kere navraag gedoen en elke keer sê hulle iemand gaan my terugbel of dat die eis binne ’n week of twee betaal sal word.
Niks het nog gebeur nie en ek moet aanhoudend verskonings by die dokter maak vir die agterstallige betaling.”
Ons het Liberty gevra om Dreyer se klagte te ondersoek. Hulle het bevestig dat die eis aanvanklik afgekeur is weens ’n foutiewe datum op die dokumentasie.
Liberty het al die nodige inligting nagegaan en die eis is nou afgehandel.
Bly gebreek, al herstel ADT dit
Regter C.F. Eloff het by ons kom kla oor ADT.
“Ons het ’n alarmstelsel deur ADT laat installeer. Kort daarna het die stelsel begin probleme gee. ADT het twee keer aan die alarm kom werk, maar weer het dit sonder rede afgegaan.
Een van die kontakpunte by ons skuifdeur is vervang en omtrent ’n week lank was die alarm heeltemal buite werking.”
Later is nog ’n kontakpunt vervang en ’n bewegingverklikker het ook probleme gegee.
“Die laaste keer dat ek hulle gevra het om te kom ondersoek instel na ’n probleem kon hulle dit nie doen nie aangesien hul rekenaars buite werking was.”
Tot u diens het ADT gevra om aandag aan Eloff se klagte te gee. Hulle het sy huis besoek en al die probleme met sy alarmstelsel opgelos.
iBurst se R199 word toe R1 194
Mnr. Marius Botha het ’n bloutjie by iBurst geloop .
“Ek het ’n kontrak by iBurst waarop ek elke maand 40 Mb kan aflaai. As ek meer bandwydte nodig het, kan ek dit per Mb aankoop. Ek het egter besluit om oor te skakel na die 1 Gb-pakket. Hiervoor moes ek R199 per maand betaal.”
Botha se probleme het toe begin. In plaas daarvan dat hy R199 betaal, is hy een maand vir R1?194 gevra en ’n ander maand vir R298.
“Ek het telefonies en per e-pos navraag gedoen en ek is gesê die probleem sal binne vier tot sewe dae opgelos word, maar tot dusver het nog niks gebeur nie.”
Tot u diens het Botha se klagte na iBurst verwys. Hulle het sy besonderhede nagegaan en die geld wat hy te veel betaal het, aan hom teruggegee.
Elke keer eers ’n ‘bakleiery’
Me. H. du Toit het by Tot u diens kom kla oor die diens van Cell C.
“Ek het ’n kontrak by Cell C uitgeneem en gedurende die eerste jaar het ek verskeie probleme met die pakket beleef. Dis gewoonlik ná ’n bakleiery uitgesorteer.”
Haar selfoon is gesteel, maar Cell C wou nie daarvoor uitbetaal nie aangesien die SIM-kaart wat daarin gebruik is nie die een was wat saam met die kontrak verkoop is nie.
Du Toit het dit só aanvaar, maar wou ’n SIM-kaart-uitruiling doen.
“Hulle het gesê ek moet ’n betaling doen vir die uitruiling, wat ek gedoen het.
“Ek het die bewys van betaling aan hulle gefaks, maar niks verder het gebeur nie.
“Verskeie navrae later is die uitruiling steeds nie gedoen nie.”
Ons het Cell C gevra om aandag aan Du Toit se klagte te gee.
Hulle het die SIM-kaart-uitruiling intussen gedoen.
Klagte van die week: Standard Bank stel fout reg
Me. C.J. Swanepoel het by Tot u diens kom kla oor die diens van Standard Bank.
“Ek doen gereeld tjekbetalings by my naaste kitsbank om my kredietkaartskuld te vereffen. Toe ek onlangs ’n tjek só wou inbetaal, kon ek by twee kitsbanke nie regkom nie.
Een masjien het nie papier gehad het nie en die ander een was nie aanlyn nie. By ’n derde masjien kon ek nie ’n depositostrokie bekom nie.
Aangesien ek ’n gekruisde tjek gebruik het en nie gou weer by ’n kitsbank kon uitkom nie, het ek ná ’n rukkie se wag by die masjien besluit om die transaksie in elk geval af te handel.”
’n Paar weke later het Swanepoel se bankstate aangedui die tjek is uitbetaal, maar nie as krediet op haar kredietkaart nie.
Kort hierna het Standard Bank opgehou om state na Swanepoel te stuur.
Ná navrae kon sy dit regkry om weer haar bankstate te kry, maar die betrokke betaling was steeds nie in haar kredietkaartrekening nie.
Standard Bank sê daar was ’n probleem met die betrokke kitsbank en dat meer as een betaling vir dieselfde bedrag hier gedoen is.
Swanepoel se betaling is in ’n verkeerde rekening gedoen.
Hulle het die fout nou reggestel en haar met R400 gekrediteer om haar te vergoed vir haar ongerief.
Pluimpies:
Me. Hannetjie Pretorius van Heidelberg was baie beïndruk met die diens van Photo & Beyond.
“Ons het ’n nuwe internettoestel gekoop, maar toe ons by die huis kom, gevind een van die nodige kabels om die toestel te gebruik is nie in die boks nie.
“Ons het by die naaste winkelsentrum gaan soek na ’n rekenaarwinkel om die kabel te bekom, maar daar was nie so ’n winkel nie.
“Moeg en voetseer het ons skuins voor Photo & Beyond gestaan.
“Die vroue binne het gesien ons is moedeloos en gevra of hulle ons kan help. Ons het ons probleem verduidelik en hulle het dadelik geweet wat ons soek. Hulle het ons die kabel aangebied, maar ook ’n ander produk wat sou werk. Sulke vroue maak inkopies ’n plesier.”
Mnr. Gerhard van Aswegen het ’n pluimpie vir House & Home in Witbank.
“Ons het ’n taamlike duur sitkamerstel by House & Home gekoop. Ons wou nie wag vir die aflewering nie en het besluit om dit self huis toe te vervoer.
“Daar aangekom, sien ons toe daar is skade aan die stel. Die skade is by House & Home aangemeld en die verkoopsman het gereël dat ’n nuwe stel by ons afgelewer word – en dit sonder dat hy self eers die skade gesien het.
“Baie dankie aan die personeel van House & Home.”