Verbruikersforum

2012-02-05 21:40

Verbruikers kan hul klagtes nou elektronies by Tot u diens indien. Stuur ’n e-pos na totudiens@beeld.com of ’n faks stuur na 086 693 5146.  
 
Stukkende yskas laat Russells koud

Me. Joey van der Merwe het by Russells, East Rand Mall, ’n bloutjie geloop.

“Ek het so twee jaar gelede ’n yskas by Russells gekoop. Dit moes al sewe keer herstel word. Met die laaste herstelwerk was dit vir meer as ’n maand weg. Hulle het aan die einde van verlede jaar gesê hulle sal die yskas vervang, maar dit het nog nie gebeur nie.

“Elke keer het hulle bloot ’n ander storie.”

Tot U Diens het Van der Merwe se klagte onder Russells se aandag gebring. Sy moes ’n geringe inbetaling maak en kon ’n ander yskas by Russells kies. Sy sê sy is nou tevrede.

Ek stuur iemand wat dit kan doen ...

Me. Lenie Naudé het haar misnoeë met Telkom aan ons te kenne gegee.

“My telefoon is al vir ’n paar weke buite werking. Ek het dit drie keer aangemeld voordat ’n tegnikus uiteindelik kom vasstel het wat fout is.

“Hy kon nie die herstelwerk self doen nie, maar het gesê iemand sal binne enkele dae die werk kom doen. Die dae stap aan en steeds het ek nie die gebruik van my telefoon nie.”

Ons het Telkom gevra om moeite van Naudé se klagte te maak. Haar telefoon is nou herstel.

Me. Lena Swanepoel het ook haar klagte oor Telkom na ons verwys.

“Ons Telkom-lyn het opgehou werk en ons het dit twee keer by hulle aangemeld sonder dat ons reaksie gekry het.

“Hierna het ons persoonlik die probleem by ons plaaslike Telkom-winkel aangemeld.

“Die personeel was baie hulpvaardig en ons het later ’n SMS ontvang wat bevestig die klagte is ingedien. Verder as dit het die saak nie gevorder nie.

“Nog ’n besoek aan Telkom het ook niks bereik nie.”

Tot U Diens het ook Swanepoel se klagte na Telkom gestuur.

Haar telefoon is herstel.

2de TV gee ook ná paar dae probleme

Mnr. Jaco Olivier was nie gelukkig met die diens van HiFi Corporation, Boksburg, nie.

“Ek het ’n TV by HiFi Corporation gekoop. By die huis het ek probleme met die TV en die afstandbeheerder ondervind. HiFi Corporation het die TV omgeruil.

“Vir ’n paar dae het dit goed gegaan met die nuwe TV en toe het dit ook begin probleme gee.

“Aangesien ’n bietjie tyd al verloop het, wou hulle die TV herstel, maar ek het aangedring hulle moet my geld teruggee. HiFi Corporation wil dit nie doen nie.”

Ons het HiFi Corporation bedag gemaak op Olivier se klagte. Hulle het aangebied om die TV om te ruil of om hom krediet ter waarde van die TV te gee. Olivier sê hy is nou gelukkig.

Probeer al maande, maar kontrak blý


Me. Liezl Kruger het by Tot U Diens kom aanklop met haar klagte oor Vodacom.

“Ek probeer al vir maande ’n internetkontrak by Vodacom kanselleer.

“Ek het Vodacom se winkels by Cresta en Brightwater Commons besoek waar hul personeel probeer het om die kontrak te beëindig. Hulle kon nie daarin slaag nie.

“Intussen is ek van een persoon na die volgende gestuur sonder dat die probleem suksesvol opgelos word.

“Een het selfs al gesê die kontrak is beëindig, maar Vodacom se debietorder het die maand daarna soos gewoonlik deurgegaan. Ek weet nie meer watter kant toe nie.”

Tot U Diens het Vodacom gevra om ondersoek in te stel. Kruger se kontrak is nou be­eindig.

Mnr. Christo van Wyk het ook by Vodacom klei getrap.

“Ek het destyds ’n DStv-pakket deur Vodacom bekom. Weerlig het my TV uitgeslaan en ek het die DStv vir iemand anders gegee om te gebruik. Die persoon sou die rekening op hul naam laat oorplaas.”

Van Wyk het aanvaar die oorplasing was suksesvol.

“Ek het verlede Julie agtergekom my DStv-rekening by Vodacom is nog aktief.

“Ek het hulle gevra om dit onmiddellik te staak, maar hulle het nog tot Oktober die debiet­order verhaal.

My vermoede is dat die kontrak ná die eerste 24 maande na ’n maandelikse kontrak moes oorslaan en hulle my dus hoogstens vir nog een maand kon aanspreeklik hou, maar Vodacom wil niks daarvan hoor nie.”

Ons het ook Van Wyk se klagte onder Vodacom se aandag gebring.

Hulle sê hy het nooit soos die kontrak stipuleer skriftelik kennis gegee nie. Die kontrak is beëindig en Vodacom het as gebaar van welwillendheid twee maande se uitstaande premies afgeskryf.

Het glo self ‘nie oplettend bestuur’

“Geskok” het haar misnoeë oor ’n voorval by die Woodlands Mall, Pretoria, aan Tot U Diens te kenne gegee.

“Ek het by die Woodlands Mall inkopies gedoen.

“Ek het agter ’n ander motor gewag om by die kaartjiemasjien uit te kom. Toe dit my beurt is, het ek vorentoe gery, ’n raps te naby aan die randsteen.

“Die volgende oomblik het my band regs voor gebars. Ek het ’n staalkas wat bo-op die randsteen gemonteer is, raak gery.”

Geskok was nie beïndruk met die situasie nie en het ’n eis teen die winkelsentrum ingedien.

“Ek het nie ’n eis by my eie versekeraars ingedien nie. Woodlands het die saak met Chartis Suid-Afrika, hul versekeraars, opgeneem en die eis is afgekeur.

“Ek het self met Chartis kontak gemaak, maar hulle wil niks van my klagte weet nie.”

Ons het Chartis gevra om kommentaar te lewer. Hulle sê Woodlands het wel die saak na hulle verwys.

Aangesien Geskok nie oplettend bestuur het nie, is die eis afgekeur.

Voorts sê hulle ’n vrywaring van verantwoordelikheid word duidelik by die kaartjiemasjien vertoon.

Dus staan Chartis by hul besluit om nie die eis te betaal nie.

Kry boete nie binne die 32 dae betaal


Mnr. Erick Minnie het met die Wet op die Administratiewe Beregting van Verkeersmisdrywe (Aarto) koppe gestamp.

“Ek het verlede Oktober ’n boete in ’n padversperring gekry. Die boete was vir R500 of R250 mits ek dit binne 32 dae betaal.

“Ek het die boete dieselfde aand probeer betaal, maar volgens die stelsel was die verwysingsnommer foutief.

“Ná verskeie pogings kon ek nie die betaling gemaak kry nie.”

Minnie het ook ’n soektog met sy ID-nommer gedoen en steeds binne die 32 dag-tydperk ’n antwoord ontvang dat hy nie enige boetes teen sy naam het nie.

“Ek het gedink dis die einde van die saak, maar omtrent twee maande nadat ek die boete gekry het, het dit ewe skielik op die stelsel verskyn. Die bedrag wat ek skuld, is nou R560. Ek is nie bereid om die hoër bedrag te betaal nie.”

Ons het Minnie se klagte na Aarto verwys.

Hulle het hom gevra om ’n vertoë op die amptelike dokumentasie aan hulle te rig. Minnie het dit gedoen en die boete is teruggetrek.

Klagte van die week

Mnr. Frederick Greeff het by Tot U Diens kom aanklop met ’n klagte oor Nirvana Plumbing & Maintenance.

“Gedurende November 2010 het Nirvana Plumbing & Maintenance ’n kwotasie vir die herstel van ’n lekkasie aan my dak en die installering van drie dakwaaiers aan my verskaf. Die werk is vroeg daardie Desember voltooi.

“Hul werk dra ’n vyf-jaar-waarborg, maar die dak het enkele dae nadat hulle daar was weer begin lek. Nirvana het die dak weer kom herstel. Dit het egter weer gelek en hulle het nogmaals kom regmaak.

Dié proses het homself telkemale herhaal, met die skade wat net erger en erger word. Later het water bo-op die plafon opgedam en Nirvana het onderneem om die plafon op hul onkoste te vervang.

“Die dak het egter steeds gelek en ons het Nirvana gevra om ons geld terug te gee. Hulle het daartoe ingestem, maar dié betaling is nooit gemaak nie. Voorts reageer hulle nie meer op ons navrae nie.”

Ons het Nirvana Plumbing & Maintenance gevra om kommentaar te lewer. Hulle sê die herstelwerk is uitgekontrakteer aan ’n derde party en hulle sal Greeff met graagte terugbetaal sodra hulle die geld van die derde party teruggekry het. Hulle wag nog vir die geld.

Andersins, sê Nirvana, is hulle bereid om reëlings te tref om die herstelwerk van die dak voort te sit, maar Greeff weier hulle toegang tot sy perseel.

Greeff sê hy het met Nirvana sake gedoen en dit was hul keuse om ’n derde party te betrek; enige ekstra onkostes is dus vir hul rekening.

Hy sê verder dat hy nog nooit Nirvana toegang tot sy perseel geweier het nie.

Greeff en Nirvana Plumbing kon nie tot ’n vergelyk kom oor hoe om die saak op te los nie.

Pluimpies

Me. Joey Swanton het ’n pluimpie vir die personeellede van Pick n Pay, Mall@Reds, Centurion.

“Dis ’n plesier om by Pick n Pay, Mall@Reds, inkopies te doen. Die personeel is altyd vriendelik en bereid om te help. ’n Groot dankie aan Sharleen vir al die moeite wat sy al vir my gedoen het.”

Me. J. Binneman is vol lof vir die diens van Polmed en die personeellede van die Garden City-hospitaal.

“Ek het ’n operasie ondergaan en moes inligting by Polmed kry. Hul kliëntediens-personeel was puik en het my gou gehelp. Voorts wil ek Elza Kotze en drs. Engelbrecht, Viljoen en Norton by Garden City bedank vir hul aandeel in die operasie.”

Me. Retha Cronje was baie beïndruk met die diens van House & Home, Kollonade.

“Ek het ’n drukkoker by House & Home gekoop, maar toe ek dit gebruik het, het ek probleme daarmee ondervind.

Ek het dit na die winkel teruggevat en hulle gewys dit werk nie soos dit moet nie. Petra, die bestuurder, het sonder enige argumente die drukkoker omgeruil vir ’n nuwe een. Ek is opreg dankbaar vir die goeie diens.”

Mnr. James Keyter het ’n pluimpie vir Daihatsu, Wonderwaters.

“Toe ek toebehore vir my voertuig wou bekom, het Daihatsu, Wonderwaters, baie moeite gedoen om dit vir my te bekom én te installeer.”

Wenke wat werk

Suid-Afrikaanse wetgewing maak voorsiening vir die beskerming van ’n persoon se regte in die geval van oproerige bure.

Om suksesvol in die hof te wees in ’n saak teen ’n buurman wat baie geraas maak, moet bewys kan word dat iemand se gesondheid of lewenskwaliteit geskend is.

Faktore wat gewoonlik oorweeg word, is die soort lawaai, of dit aanhoudend is, waar dit voorkom en die tyd van die dag waarop dit gewoonlik voorkom.

Daar is nie ’n vasgestelde maatstaf nie en dus word elke geval op sy eie meriete oorweeg.

Die wet maak voorsiening vir die invloed wat die geraas op ’n billike persoon sal hê en of hy of sy van die genot van sy of haar eiendom ontneem word.

Derhalwe is die billike persoon ook iemand wat nie oorgevoelig is nie.


Binne Beeld

Weer
Lotto
Ksd: 10-18°C Mostly sunny. Mild. Pta: 6-20°C Sunny. Refreshingly cool.
Jhb: 2-17°C Sunny. Cool. Bfn: 1-15°C Sunny. Quite Cool.
Dbn: 14-20°C Mostly sunny. Cool. PE: 13-19°C A few showers. More sun than clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

VOLKSWAGEN

Polo 1.8T GTi 5-dr
2007
R 169,995.00

OPEL

Corsa Lite 1.4i 3-dr MY00
2006
R 56,800.00

CHEVROLET

Utility 1.4 Base MY12 PU
2012
R 119,900.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Chobe Marina Lodge

Spend 2 nights on the banks of the banks of the Chobe river at Chobe Marina Lodge from R6717 per person sharing. Includes return flights, taxes, transfers and accommodation. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Avengers nou beskikbaar

Marvel Avengers-aksiekarakters nou beskikbaar vanaf R189,95. Koop dit nou.

Toshiba-tabletrekenaar AT-100

Bespaar R1 000 op dié fantastiese tabletrekenaar. Nou slegs R2 999,95. Koop dit nou.

Massiewe speletjie-uitverkoping

Kry tot 65% afslag op speletjies. Alle voorraad moet verkoop word. Terwyl voorraad hou. Koop dit nou.

Meng & Pas

Meng en pas twee albums vir die prys vir R149. Nuwe albums het so pas ingekom. Koop dit nou.

Moet-lees-boeke vir tieners

Die gewildste boeke vir tieners en jong volwassenes. Hunger Games, The Flappers & meer. Koop dit nou.

7'' gobii LCD e-leser met kleur

Nou slegs R899

Sluit in e-boek geskenkbewys ter waarde van R160, swart omslag en USB muur laaier. Aanbod eindig 27 Mei 2012. Koop nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...
Daar is vars stories op ons tuisblad. Kliek hier om hulle te lees.