Jy kan dit nie miskyk nie. Die helderrooi
kaartjies getooi met silwer hartjies of wit teddiebere en iewers bo-op staan in
swierige letters geskryf “I luv u”.
Dis daardie tyd van die jaar dat die Valentynskaartjies winkelrakke
vol staan.
Praat met enigiemand en hulle sal jou vertel hoe daar op skool
kaartjies by die klas afgelewer is, watter spesiale kaartjie hulle gekry het of
hoe hul beste maatjie meer Valentynskaartjies gekry het as hulle. Jip, jou
gewildheid is gemeet aan daardie stukkie helderkleurige karton.
Maar vandag is dinge anders. Liefde word virtueel met ’n SMS of op
Facebook verklaar en daar is selfs e-kaartjies (e-cards) vir daardie persoon wat ’n tikkie meer moeite
doen.
TRADISIONELE KAARTJIES
Beteken dit mense koop nie meer tradisionele groetekaartjies
nie?
Die antwoord, veral op Valentynsdag, is: NEE!
“Die Valentynseisoen is vir ons ’n baie belangrike tyd, dit het
selfs Moedersdag verbygesteek in gewildheid,” sê Lindi Engelbrecht, assistent-
produk- en bemarkingsbestuurder vir ge-
skenkwinkelgroep, Cardies, wat reeds
in Januarie hul Valentynskaartjies uitgepak het.
“Wanneer liefde in die lug is, wil jy jou boodskap oordra en ’n
kaartjie bly die gewildste manier om dit te doen. Dit gee jou die kans om jou
liefde te verklaar sonder dat jou tong knoop.
“Valentynsdag se verbruikersbasis groei jaarliks soos wat selfs
jonger generasies ontdek hoe lekker dit is om ’n kaartjie te gee,” sê
Engelbrecht.
Tog erken sy dat die digitale era ’n impak op die
groetekaartjiemark gehad het, maar sy sê dit het nie fisiese kaartjies vervang
nie.
“Groetekaartjies vervul nog hul rol vandag. Dit versterk
verhoudings en by Cardies het ons gevind die Suid-Afrikaanse mark is baie
vers-georiënteerd. Die bewoording van die kaartjie is baie belangrik en mense
sal ure in die winkel deurbring om die regte kaartjie te kies.”
E-KAARTJIES
Anina Venter, ’n direkteur by die web-maatskappy Nedoweb. com in
Somerset-Wes, stem saam dat tradisionele kaartjies nie op pad uit is nie.
“Hoewel e-kaartjies, SMS’e en Facebook gewild is om boodskappe mee
te stuur, gaan kaartjies nog lank met ons wees,” sê sy.
“Daar is mense wat glo om winkel toe te gaan en die regte kaartjie
vir die geleentheid uit te soek, is die persoonlikste ding wat hulle kan
doen.”
Dit terwyl die nuwe elektroniese kaartjies weer ander voordele
inhou.
“E-kaartjies is gewild onder die jonger generasie (16 tot 35 jaar).
Vir hulle is dit makliker, goedkoper en meer omgewingsvriendelik as die
tradisionele kaartjies. Hulle kan ook hul e-kaartjie verpersoonlik.”
En dan word die kaartjie onmiddellik gestuur en ontvang – ’n
kitsroete vir ’n kitsgenerasie.
Engelbrecht sê ook die ouer generasie is meer geneig om kaartjies
te gee, maar dat die jonger generasie tog die belangrikheid daarvan besef.
“Vir die jonger geslag is hoe die kaartjie lyk belangriker. Hulle
sal iets koop met ’n modieuse kunswerk op en die ontwerp van die kaartjie moet
pas by die persoon wat dit ontvang.”
KAARTJIES AL EEUE OUD
Maar of jy nou ’n tradisionele kaartjie verkies of vir jou geliefde
’n e-kaartjie gaan stuur, dié gebruik is al vir eeue deel van die
Valentynsdagtradisie.
Volgens motioncards.com het mense in die Middeleeue hul
liefdesboodskappe vir mekaar gesing en in die 1400’s het die eerste geskrewe
boodskappe verskyn.
Die oudste Valentynskaartjie is juis in daardie eeu gemaak en kan
vandag in die Britse Museum gesien word. Valentynsboodskappe op papier is oor
die hele Europa gebruik, maar was veral in Brittanje gewild.
In die 1800’s het fabrieke begin om “kaartjies” te vervaardig.
Dit was swart-en-wit prentjies wat deur die fabriekswerkers geverf
is.
Esther Howland, ’n Amerikaanse skilder van die 1850’s, was een van
die eerste mense om Valentynskaartjies in daardie land te druk en te verkoop.