Pols: 'n Spyskaart vir resessie-romanse
2012-02-08 22:50
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Kraakvars voorgereg met doopsouse
Hoemoes en tzatziki met vars groente
’n Mediterreense begin vir die aand – doop ’n kraakvars wortel in tuisgemaakte hoemoes en bied daardie spesiale persoon ’n happie aan. Maak die doopsouse die dag voor die tyd of as die tyd knyp, koop klaarbereide hoemoes en tzatziki in die supermark. (Dié van Mediterranean Delicacies is heerlik en kos sowat R16 per houertjie.)
Probeer tog jou eie maak – dis mos lekker om met jou eie vernuf te spog!
Vir die hoemoes:
1 blik (200 g) kekerertjies, gedreineer en afgespoel
Die sap van ’n sappige suurlemoen
2 knoffelhuisies
7,5 ml komyn
Sout
100 ml tahini (sesamsaad-
pasta), opsioneel
ongeveer 100 ml water
Vir die tzatziki:
175 g ongegeurde jogurt
½ medium komkommer, gerasper
1 knoffelhuisie, baie fyn gekap
Die sap en skil van een suurlemoen
2,5 ml suurlemoenpeper
2,5 ml sout
Om voor te sit: Babawortels, babatamaties, selderystokkies, geel- en rooisoetrissies, komkommerrepies.
- Maak die hoemoes: Plaas die kekerertjies (hou ’n paar eenkant vir garnering), suurlemoensap, knoffel, komyn, sout, tahini en die helfte van die water in ’n voedselverwerker. Verpulp tot glad. Proe en geur met nog sout, komyn en/of suurlemoensap indien nodig. As dit te dik is, voeg nog water by. Verpulp weer. Skep die hoemoes in ’n bakkie en verkoel tot benodig.
- Maak die tzatziki: Meng die jogurt, komkommer, knoffel, suurlemoensap en -skil, suurlemoenpeper en sout. Proe en geur met nog sout en peper indien nodig. Skep in ’n bakkie en verkoel tot benodig.
- Om voor te sit: Plaas die bakkies doopsouse op ’n opdienbord en rangskik die groente daarom. Jy kan ook pita-brood saam met die souse voorsit, maar moet jou nie ooreet nie, want die aand is nog lank...
- Geldsake: Die tahini is nogal duur, maar jy kan dit weglaat. Die bestanddele vir die voorgereg het ongeveer R130 gekos.

Foto’s: Gerrie Janse van Vuuren
Spaghettigereg vir lekker saam smul
Hoenderfrikkadelle en spaghetti
As kind was niks vir my meer romanties as die toneel uit die Disney-fliek waar Lady en haar Tramp by kerslig aan ’n lekker bord frikkadelle-en-spaghetti smul nie.
Dié frikkadelle met hoendermaalvleis is begrotingvriendelik. Sit dit met liefde voor, smul aan die spaghetti en ontmoet in die middel...
Vir die frikkadelle:
500 g hoendermaalvleis
1 ui, fyngekap
1 knoffelhuisie, fyngekap
½ pakkie tamatiepasta
5 ml komyn
5 ml koljander
4 takkies vars tiemie
1 eier
500 ml broodkrummels
sout en peper na smaak
Olie, vir vlakbraai
Vir die tamatiesous:
750 ml tamatiepuree (passata)
sout en peper
15 ml suiker
’n hand vol vars basielkruid, grofgekap
Om voor te sit: ’n pakkie spaghetti, al dente gaargemaak, vars pecorino- of parmesaankaas, fyngerasper
- Meng al die bestanddele vir die frikkadelle in ’n mengbak. Maak frikkadelle so groot soos gholfballe (strooi meel oor jou hande of maak jou hande nat om dié proses makliker te maak).
- Verhit die olie in ’n pan. Braai ’n klein bietjie van die frikkadelmengsel tot gaar en proe. Pas die geurmiddels aan indien nodig.
- Braai die frikkadelle in sarsies tot goudbruin buite-om. Skep uit en hou eenkant (dit hoef nie deurgaar te wees nie).
- Braai die res van die uie in ’n bietjie olyfolie in ’n mediumgroot kastrol tot glasig. Voeg die tamatiepuree by en laat prut totdat dit begin verdik. Sprinkel die suiker oor en geur ook met sout en peper. Roer die vars basielkruid by.
- Plaas die frikkadelle in die tamatiesous en laat prut oor lae hitte vir sowat 15 minute totdat die frikkadelle gaar is.
- Om voor te sit: Draai die spaghetti om ’n vurk en skep in opdienborde. Skep ’n groot lepel van die frikkadel-en-tamatiesous oor die pasta en garneer met die gerasperde kaas en vars basielkruid.
- Geldsake: Ek het uie, eiers, olie en die speserye reeds in my kas gehad, en dus het dié hoofgereg (genoeg vir môre se middagete) R90 gekos.

Nagereg: Brandewyn-sjokoladetruffels
Daardie truffels agter die glasvenster in die sjokolade-winkel lyk tog te deftig én spog met ’n deftige prys.
Maak eerder jou eie.
Dis makliker as wat jy dink en jou geliefde sal dié smelt-in-jou-mond-happies uit jou hand eet. Die resep maak ongeveer 20 truffels.
150 ml dubbelroom
’n klontjie ongesoute botter
150 g donker sjokolade (ek het Cadbury’s se Albany gebruik), in blokkies gebreek
’n knypie seesout
brandewyn na smaak (probeer ook whisky of likeur)
kakao
amandels, fyngekap
klapper
- Plaas die room in ’n klein kastrol en verhit oor medium hitte totdat klein borreltjies vorm (dit moenie kook nie). Klits die botter by.
- Verwyder van die hitte en giet dit oor die sjokoladeblokkies. Roer totdat die sjokolade gesmelt het.
- As die room te veel afgekoel het en daar is nog klonte sjokolade, sit dit vir ’n paar sekondes in die mikrogolf en roer dan goed.
- Roer die sout by en ’n bietjie brandewyn – proe en voeg nog by indien verkies. Roer tot heeltemal glad.
- Giet die sjokolade in ’n bakkie, bedek en verkoel oornag of minstens vir twee uur tot gestol. Sowat 30 minute voordat jy die truffels wil maak, haal die bak uit die yskas sodat die sjokolade kamertemperatuur kan bereik.
- Gebruik twee teelepels en rol sjokoladeballetjies. Rol dit in kakao, neute of klapper en plaas in mini-kolwyntjiepapiertjies. Bêre in die yskas tot benodig.
– Aangepas van ’n resep deur Jamie Oliver.
- Geldsake: Die bestanddele vir die truffels het R70 gekos (ek het reeds die brandewyn in my kas gehad).
In totaal het die bestanddele vir dié romantiese driegangmaaltyd net R290 gekos en élke gereg bevat ’n spesiale bestanddeel: liefde.

Smelt-in-jou-mond-truffels