Denkende man se jaagderduiwel
2012-02-09 06:00
Tik die soekterm “M5” op enige motor-webwerf in en jy sal ’n paar bladsye se gevloek, geraas en virtuele snoekkoppe gooi aantref.
Jip, die BMW-manne is heilig oor hul M3’s en M5’s en duld nie veel ander menings nie.
Daarom was dit met groot afwagting dat BMW se sesde geslag M5 pas in die land aangekom het. Want sien, anders as sy gewilde voorganger (waarvan die meeste modelle ooit verkoop is – ’n handige 20 548) draf die nuweling met ’n kleiner enjin rond.
’n Kleiner enjin, vir BMW se glanspop-breker?
Inderdaad. Maar dis ook nie al nie. Behalwe dat BMW die ou 5 liter-V10 met ’n kompakter 4,4 liter-V8 geruil het, fluit die nuwe oond ook met twee turbo-aanjaers in sy keel.
Dis die eerste keer in die vervaardiger se M-geskiedenis van verrigtingsmotors wat hy van geforseerde aanjaging gebruik maak. Onthou, sy vorige V10 was juis twee jaar ná mekaar aangewys as die enjin van die jaar vanweë sy skoon, elementêre kragopwekking teen duiselingwekkende toere.
Die ou enjin se rooilyn was by 8 000 r/min. Daar was vyf liter se verplasing en tien silinders om in gelid te galop. Suiwer ingenieurswese, het die Beemer-manne gekoor.
Maar nou is daar ’n kompakte V8, met twee turbo’s.
Toemaar, sake is darem nog nie so droewig soos ’n leë Coke-blikkie wat op ’n Sondagmiddag in die straat af rol nie. Daai V8 lewer meer krag en wringkrag as die ou enjin, en hy’s so 30% suiniger met verbruik.
Waar die ou V10 ’n handige 373 kW agterwiele toe gepomp het, woel die V8 so 412 kW los. Maar ’n turbo gaan oor wringkrag, dit wat jou vorentoe laat skiet as jy vet gee. En hier boerboel-blaf die V8 met 680 Nm, teenoor die ou 520 Nm.
Dis ’n massiewe verskil. En jy voel dit op die pad. Daar’s steeds ’n sewegang- outomatiese DSG-ratkas en ’n elektroniese sluitewenaar op die agteras om al daardie krag in toom – en bruikbaar – te hou. En ja, jou ratkas het drie verstellings wat jy met die druk van ’n skakelaar kan kies. Van ’n gemaklike, soepel oorskakel tot ’n doef! doef! van metaal op metaal soos jy van tweede, derde en opwaarts deur die ratte hamer.
Nes die ou model kan jy ook jou vering se fermheid met drie grade verstel, of, as als te tegnies raak, is daar ’n oorkoepelende verstelling in drie vlakke wat ’n rits keuses in een verstelling saamvat.
En indien jy jou M5 aan iemand anders wil leen, het BMW twee knoppies op die stuurwiel gereserveer wat, soos jou sitplek se geheuefunksies, jou persoonlike verstellings memoriseer en in werking stel as jy hom raps.
Dít nou die hardeware. Visueel gesproke is die nuwe M5 ’n bietjie minder van ’n takhaar as vantevore. Daar’s min chroom, binne en buite. Die lugskorte voor is breed en diep, maar nie so oopbek soos ’n baber (soos met die ou model) nie. Die wielboë is ook nie so wyd gemaak nie. Hy lyk werklik teruggetrokke en bedees, die nuwe M5.
Binne kry jy wel diep skottelsitplekke met Alcantara-leer wat soos fluweel voel mildelik ingespan.
Maar jy wil hom mos ry, die M5. En dis ook wat die meeste pret bied. Versnelling is soos ’n kettie – hy hou net aan en aan met vorentoe skiet.
Daar is wel ’n diep geroggel, maar jy hoor ook die gefluit van die turbo’s soos jy die lepel wegtrap.
Om die draaie voel die stuur besonder lig, amper te lig na my smaak. Die petrolpedaal is redelik sensitief en die turbo’s se krag is so onmiddellik dat jy nie te gou op die versneller moet klim nie.
Vir ’n amperse tweeton-voertuig reageer hy soos ’n buisraam-buks met ’n GTI-enjin, en jy kan gou die agterent laat uitgly as jy nie jou vastrapstelsels geaktiveer het nie.
Daar is wel skakelspane agter die stuur, maar die DSG-’kas is so goed en flink ek het dit nooit werklik nodig gevind nie.
In slotsom, die nuwe M5 is die denkende man se jaagderduiwel. Minder Bakkies Botha en meer Thierry Dussatoir. Minder Jonah Lomu en meer Danie Gerber.
Ja, nog steeds spiere by die tonne, maar dié slag gebruik hy dit slim.
- Prys: R1 145 500.

Die nuwe M5 sal net in sedan-weergawe te koop wees. Die ou model se stasiewa het net 1 000 eenhede verkoop wêreldwyd. Foto’s: QUICPIC

Vir ’n amperse tweeton-ryding voel die M5 se stuur nogal lig. Slegs ’n outomatiese ratkas is te kry, maar Amerikaners sal ’n sesgang handrat opsioneel kan kies.

Weg is die 5 liter-V10, en terug is die X5 M se 4,4 liter-biturbo. Die nuwe ling neem 4.4 sekondes om by ’n 100 km/h uit te kom...