Die brief van E.
Foley “Afrikaanses dink mos hulle is beter” (Beeld, 27 Januarie)
en Beeld se hoofberig op 2 Februarie het my aan die dink
gesit.
Lord Charles Somerset het al in die vroeë 1800’s besluit Afrikaans
moet onderdruk word en Presbiteriaanse predikante ingevoer om Hollandse
(Afrikaanse) kerke te verengels. Onder hulle was egter ook die Murrays, wat
later ’n belangrike rol in die Afrikaanse kerke gespeel het.
Alles was net Engels tot die stigting van die Vrystaat en
Transvaal. Ná die Anglo-Boereoorlog was dit weer terug na Engels!
So het dit gebly tot selfs in die 1900’s toe my ma-hulle ’n bordjie
om die nek moes dra wat lui “I may not speak Dutch” as hulle op die skoolterrein
sou durf Afrikaans praat tot met genl. Hertzog, Langenhoven, ensovoorts, in die
1920’s. Die verarmde Afrikaners het ná die Anglo-Boereoorlog na verskroeide
plase teruggekeer. Deur harde werk het hulle hul uit armoede verlos.
Nog ’n goeie voorbeeld is dat die Afrikanerboere by Kakamas self
met die hand kanale gegrawe het om lande te besproei. Nog ’n voorbeeld dat ons
mense hulself met harde werk en integriteit uit armoede gewerk het!
Mnr. Foley, ons is nie beter as enigiemand nie, ons is net
trots op ons taal en voorgeslagte wat met harde werk hulself uit uiters moeilike
omstandighede gewerk het.
Nou kom die regering met ’n ander slenter om Afrikaans met
wetgewing te ondermyn.
Dit is maar net ’n taal wat miljoene mense in die land
praat en liefhet. Dit sal nie ondergaan nie, soos bewys deur vele pogings in die
verlede om dit te ondermyn.