- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Ai, om kleurblind te kan bly ná gr. 3...
deur Brenda Marais
2009-11-26 22:27
Ek het hierdie volgende verhaal ’n paar jaar gelede gehoor. Dis iets wat telkens ongevraagd en onwillekeurig deur my gedagtes herroep word.
Die gr. 1-seuntjie vertel sy ma elke dag ná skool opgewonde hoe lekker hy en sy maatjie Simon pouses speel en hoe hy gereeld sy toebroodjies met Simon deel.
Ná ’n paar maande vra sy ma hom uit nuuskierigheid: “Seuna, is Simon wit of swart?” Die seun het so ’n rukkie skewe kop gestaan en dink en toe oplaas geantwoord: “Jislaaik, Mamma, ek weet eintlik nie. Ek sal môre kyk en Mamma sê!”
En ek kry weer eens hoendervleis wanneer ek daaraan dink.
Is hierdie kind se onskuld nie wonderlik nie? So verblydend dat hy verby die kleur van sy medemens kyk?
Ek moet vandag ongelukkig by hierdie mooi staaltjie ook ’n wrang smakie byvoeg.
Ek het ondervind (en doen steeds) dat my twee seuns elkeen van gr. 3 nie meer kleurblind is nie. Tot en met hierdie ouderdom het hulle nie tussen kleur onderskei nie. Ek het hulle immers só grootgemaak.
Maar skielik het hulle die kleurverskil begin sien. En dit het my bekommer. Maar ná ’n ruk het ek die groter prentjie daaragter begin sien.
Hulle was nie deur ander wit kinders beïnvloed om hul denke te verander nie. Hulle het self ondervind dat hul eie waardes verskil van hul swart medeleerlinge. Hulle het self opgemerk hoe die swart kinders onnodig luidrugtig in die klaskamers is, hoe vernielsugtig hulle soms is en hoe swart kinders die wit kinders boelie.
Laasgenoemde sien ek elke dag op die rugbyveld waar ek smiddae sit en wag op die seuns. Hoewel ek dan ook sien dat die geboelie ook deur wit kinders gedoen word – is dit in die minderheid.
Steeds moedig ek my kinders aan om verby die kleur van hul velle te kyk, dat hulle almal spesiaal is en almal deur die Here geskape is.
Maar hier waar ek sit en die brief skryf, wil my hart breek – omdat my kinders se onskuld verdwyn het nadat hulle kleure begin eien en herken het.