- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Bybel moet in konteks verstaan word
deur Deon van Pretoria
2012-01-02 21:04
Ek vind die briewedebat tussen die konserwatiewe Christene wat alles wat in die Bybel staan 100% glo en die moderne Christene wat alles wetenskaplik wil bewys baie interessant.
Albei partye het goeie punte om hul manier van geloof te verduidelik, maar ek verkies die moderner kant wat boeke soos dié van die gnostiese geskrifte sal lees om die Christendom beter te verstaan.
Hoekom, as ons dit dan doen, word ons as ongelowiges deur sekere konserwatiewe Christene uitgewys?
Met verloop van tyd is daar al bewys dat die “ou kerk” nie altyd die volle waarheid vertel het nie.
Die Bybel is saamgestel deur die mens; elkeen met sy eie opinie en baie keer met verskuilde agendas.
Kyk net hoe stry die kerkleiers oor die Belhar-belydenis.
Dit laat my met die vraag of die huidige boeke dan die korrekte boeke is en of dit daar geplaas is om ’n sekere doel te dien in die tyd wat dit saamgestel is.
Kom ons verstaan die Bybel in die konteks van die tyd waarin dit geskryf is.
Ons moet onthou dat die mens van so 2 000 jaar gelede nie wetenskap sou verstaan het soos ons nie.
Gaan dit regtig saak maak of ek die Bybel uit ’n meer wetenskaplike manier benader en gebeure anders verstaan?
God is mos ’n regverdige God volgens die Bybel, of is hy nie?