- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Bybel uitgedink deur slim mense wat ander wil beheer
deur Net ’n sterflike mens skryf:
2011-12-30 21:03
Net ’n sterflike mens skryf:
Al die briewe in Beeld oor die Christelike geloof en veral die aanval op homoseksualiteit het my nou na die pen laat gryp.
Ek het in ’n Christelike omgewing grootgeword – huis, laerskool, hoërskool, universiteit– en die Bybel elke dag bestudeer. Bybelkunde was een van my vakke op universiteit en ek het God se Woord deeglik bestudeer.
Toe kry ek my eie Damaskus-ervaring. Ek glo nie meer nie.
Ek kom agter dat alles om my sterf, nie net mense nie. Ek onthou dat al my troeteldiere sterf, die groot, statige boom wat my stamvader 100 jaar gelede geplant het, het al die gees gegee, al die plante op die plaas vergaan eenvoudig net, die groot klippe verbrokkel sommer net. Alles om my sterf.
Ek onthou Jesus is juis gebore om die mensdom te red van die erfsonde, naamlik die ewige dood omdat die eerste mense teen God se wil opgetree het.
My gesonde, logiese verstand sê vir my maar dit kan mos nie waar wees nie, want alles op aarde sterf, selfs edelgesteentes, metale, klippe, miertjies, berge, pragtige plante en blomme, ag, sommer alles wat geskape is, vergaan en sterf.
Ek vra myself af watter sonde die hele aarde en heelal gepleeg het dat alles daarop uiteindelik sterf?
Is God dan nie almagtig genoeg om alles te skep sonder die erfsonde nie? Hoekom moet hy mens word, sterf en dan opstaan? Ek wil weet hoe een mens, Jesus, wat tog ook as mens sondig is, al sê Christene hy is sonder sonde gebore, vir ’n ander sondige mens kan sterf? As hy geen sonde het nie is hy mos nie ’n mens nie.
Waarvoor wil enigiemand ewig lewe? Wat is die doel daarvan? My gevolgtrekking is dat die hele Nuwe Testament maar net ’n opgemaakte storie is wat deur magsugtige mense uitgedink is om mag oor die hele skepping te verkry.
Al die stryery oor die Bybel is sommer net ’n nuttelose oefening van mense wat aan iets glo wat ander mense uitgedink het om ander mense te beheer.
Wie wil nou ewig lewe?
Tog glo ek dat die Bybel die beste morele waardes verkondig en ek rig my hele lewe daarvolgens. Maar ek glo nie in die mite van God se seun wat opgestaan het sodat ek ewig kan lewe nie.
Die Bybel is die beste opvoedkundige boek wat ooit deur slim mense, en nie deur die Heilige Gees nie, geskryf is.