- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Dié kriteria ewe belangrik om gelykheid vir almal te verseker
deur Kobus Wessels van Moreletapark
2009-11-18 22:39
Dit blyk dat kapt. Renate Barnard nie tot superintendent in die polisie bevorder is nie omdat daar ’n oorverteenwoordiging van wit vroue op daardie salarisvlak is.
Pleks van die pos te vul en ’n diens aan die publiek te lewer is daardie pos vakant gelaat. Só het die polisie volgens sr.supt. Ramathoka gepoog om gehoor te gee aan die wet op billike indiensneming.
Dit wil lyk of hy en die polisie art. 9 van die Grondwet vergeet het wat ge-lyke genieting van alle regte en vryhede aan almal in die land waarborg.
Die vraag is nou hoe gelyke geleenthede aan almal in die land ten beste deur die polisie bevorder kan word.
Deur die pos vakant te laat en geen diens te lewer nie, of deur die pos te vul deur ’n hoogs bekwame wit vrou en wel ’n diens te lewer?
Is die polisie en ander owerheidsinstellings wat dieselfde argument volg en poste eerder vakant laat as om hul verteenwoordigendheidsprofiel te beduiwel nie besig om art. 9 van die Grondwet te ondermyn nie?
Regstellende aksie en diversiteitsbestuur het tog ten doel om die land en owerheidsinstellings te transformeer.
Die einddoel van transformasie is tog sekerlik om aan almal, veral die armes, gelyke geleenthede en voordele te verseker.
Dit sal ’n tragedie wees indien die land se vaardigheidstekort in veral die aangewese groepe as rede gebruik word om arm mense van owerheidsdienste en -beskerming uit te sluit.
Die wet op billike indiensneming is ondergeskik aan art. 9 van die Grondwet.
Verteenwoordiging is nie die deurslaggewende kriterium vir die suksesvolle toepassing van die wet nie. Kriteria soos billikheid, geregtigheid, meriete en diversiteit is ewe belangrik om gelykheid vir almal te verseker.