- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Dié sonder vrede debatteer oor Belhar
deur J. van Deventer van Pretoria skryf:
2012-02-10 22:03
Neels Jackson se rubriek “Was apartheid rêrig verkeerd?” van 8 Februarie het betrekking.
Nadat Neels bogenoemde vraag gevra het, het hy dadelik die belydenis van Belhar ingesleep en verkry die vraag ’n godsdienstige ondertoon.
Die vraag is nou vanuit watter standpunt moet Neels se vraag oor apartheid beantwoord word? Indien die vraag vanuit ’n staatkundige oogpunt beantwoord word, sal jy een antwoord kry, maar indien die vraag uit ’n Bybelse perspektief beantwoord word, sal die antwoord anders wees.
Uit die rubriek is dit duidelik dat die skrywer die vraag beantwoord uit ’n staatkundige en humanitêre agtergrond waarin die Bybel nie ’n rol speel nie. Wêreldwyd sal die antwoord en redes van die skrywer as korrek of baie naby aan korrek geklassifiseer word as die vraag vanuit ’n staatsleer-oogpunt gevra en beantwoord word.
Die Bybel wat ek lees, verwys egter nêrens na apartheid, kommunisme, sosialisme, kapitalisme, diktature of enige ander vorm van politieke beheer nie. Die Bybel gee slegs riglyne oor hoe elke persoon die situasie waarin hy verkeer moet hanteer.
Almal wat betrokke was by apartheid, ongeag watter kant daarvan hy hom bevind het, moet hom dus die vraag afvra of hy die situasie hanteer het soos die Bybel voorskryf.
As die antwoord “nee” is, moet hy net vergifnis vra. Al hierdie bagasie waaroor daar nou geskryf word, is dan nie nodig om saam te dra nie.
Dit blyk egter dat dié wat nie vrede het nie aanhou debatteer oor apartheid en Belhar en allerhande dinge doen om hul skuldgevoel reg te stel.
Kom ons staak alle debatte oor Belhar en laat ons almal teruggaan na die Woord van God, want dit is genoeg.