- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
NG Kerk drentel agter politieke bewind
deur Andries Beyers van Lyttelton skryf:
2012-02-06 22:08
Die reaksie van enkele van die nuwe SA establishment se napraters soos dr. André Bartlett, prof. Piet Naudé en dr. André van Niekerk op genl. Johan van der Merwe se memorandum aan die NG Kerk oor die Belhar-geskrif was te wagte.
Hul kritiek op Van der Merwe se memorandum, soos ook ene ds. Gerber van die NG Kerk se reaksie daarop, het een ding gemeen: Nie een van hulle probeer self om die feitelike stellings in die generaal se memorandum te bevraagteken nie.
Hulle verlaat hul op algemene aanklagte dat hy sou teruggryp na die verlede; of dat hy nie volledig is nie.
Van Niekerk bevestig prakties selfs dat Belhar ’n politieke motief gehad het wat hyself dan sou ondersteun. En Gerber se powere verweer is die wonderlikheid van Belhar en diegene wat dit opgestel het. Siestog!
En wat het toe geword van die NGK se toegewing toe hulle Belhar aanvaar het dat daardie lidmate wat dit nie wil onderskryf nie, dit nie hoef te doen nie? Die NGK-woordvoerders se nuwe rigting is nou: Jy kan Belhar aanvaar of nie. Maar net daardie lidmate wat Belhar aanvaar, mag oor Belhar praat.
Jy kan wel Belhar verwerp, maar jy mag dit net nie sê nie.
Ná al die aanvalle op hom bly Van der Merwe se stelling staan: Belhar was ’n instrument in die hande van revolusionêre.
En nou is dieselfde Belhar my kerk se belydenisskrif! Belhar is niks anders as ’n ANC struggle-pamflet nie.
Die NG Kerk se aanvaarding van Belhar is ’n poging om polities aanvaarbaar te wees, presies net soos wat die teenstanders van die vorige bedeling die NG Kerk se aanvaarding van apartheid veroordeel het as ’n poging om toe polities korrek te wees.
Die NG Kerk drentel maar agter die politieke bewind aan!
Ek hoop die generaal se optrede beteken ’n nuwe begin vir Afrikaners om te eis dat ons geskiedenis in die regte perspektief beoordeel word.