- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Onderwysstaking: Die leerling is nogmaals die lydende party
deur Dr. E. Liversage van Ladysmith
2010-08-10 22:25
In die slotparagraaf van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) se Nuusflits met die opskrif “Salaris onderhandelings (sic): oorweldigende ‘Nee’; staking gaan voort” word veroordelend verwys na “sekere skoolhoofde wat aandui dat hul personeel lede nie sal deelneem nie”.
As dié sin beteken dat sekere skoolhoofde, sonder om hul personeel te raadpleeg, of selfs ná raadpleging, hul wens ignoreer om te staak, is sulke gedrag ondemokraties en verwerplik.
As dié skoolhoofde egter hul personeel se wens om nie te staak nie bloot oordra, is daar om die volgende redes geen fout met só ’n standpunt nie:
Ongeag die unie se standpunt is dit juis individue se demokratiese reg om te besluit of hulle meedoen of nie.
Een dag se staking op 10 Augustus sal die betrokke minister totaal “koud laat”. (Met verwysing na ’n vorige “dom” ministeriële uitspraak).
Nagenoeg 23 000 van die 26 000 skole in Suid-Afrika word as nie-funksioneel beskou, doodgewoon omdat die werketiek van skoolhoofde en onderwysers in daardie skole hoegenaamd nie die professie waardig is nie.
Hierdie meerderheid onderwysers behoort deur die bank ’n salarisverlaging of selfs ontslag te aanvaar.
Daar is SAOU-lede wat nie hul weg oopsien om met diesulkes geassosieer te word of om saam met hulle te staak vir ’n salarisverhoging van meer as 8%, wat reeds toegestaan is nie.
Die ouerstem teen nog ontwrigting ná die uitgerekte vyfweek-wintervakansie moenie geringgeskat word nie.
Slegs grootskaalse ontwrigting deur voortdurende staking en intimidasie sal die minister tot verdere noemenswaardige toegewings dwing.
In só ’n geval sal die leerlinge, wat dit weens ’n mislukte en reeds verwerpte onderwysstelsel reeds is, nogmaals die lydende partye wees – totaal in stryd met art. 28(2) van die Grondwet.