- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Seniors begelei 1stejaars deur proses
deur M. Muller van Centurion skryf:
2012-02-07 22:37
In Beeld van 4 Februarie is daar drie briewe na aanleiding van Tim du Plessis se rubriek van 3 Februarie wat na ontgroeningspraktyke by universiteite verwys het.
Daar word onder meer melding gemaak van “vernederende praktyke” wat by die universiteite toegepas word.
Ek wonder tog of dié briefskrywers volledig ingelig is oor die ontvangs- en bekendstellingsprogramme (O&B) wat ontgroening op die meeste kampusse vervang het. Het ons skrywers begrip vir die uitdagings van duisende eerstejaars?
Jongmense uit verskillende gemeenskappe en leefwêrelde moet inpas in ’n omgewing waar geriewe gedeel moet word. Hulle moet ook hul weg vind op universiteitskampusse wat enorm is in vergelyking met die meeste van ons skole – veral plattelandse skole.
Wie kan dié eerstejaars die beste deur die proses begelei? Natuurlik die seniors wat self die pad geloop het en presies weet wat die uitdagings, vrese en oplossings is.
In vergelyking met vroeër jare word die huiskomitees vandag baie goed opgelei en toegerus vir die rol wat hulle moet vertolk. Hulle deurloop van hul verkiesing af etlike kursusse/programme en werksessies om hulle behoorlik toe te rus.
Kom ons toon begrip vir die verantwoordelikheid wat universiteite het om duisende nuwelinge op kampusse te ontvang en hulle binne twee weke voor te berei vir die omgewing waarin hulle die volgende paar jaar gaan funksioneer. Hoe gouer hulle inskakel, hoe gouer kan hulle op hul studies fokus.