- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Skrumreëls steeds selektief toegepas
deur Foot Up & Fed Up van Northcliff skryf:
2012-02-10 22:03
Die berig van Jóhann Thormählen in Beeld van 7 Februarie het betrekking.
Rugbyskeidsregters wat die reëls rondom die skrum selektief toepas, is lankal ’n groot klip in my skoen.
In bogenoemde berig word na Os du Randt verwys wat meen dat blasers vanjaar groter klem gaan plaas op aspekte soos voorrye wat reg moet inslaan, hul koppe nie vroeg teen mekaar moet laat raak nie en nie mag inslaan voor die skeidsregter se roep nie.
Volgens Os gaan daar ook meer klem val daarop dat reguit geskrum moet word, reg gebind moet word, dat hande nie op die grond gedruk mag word nie en nog ’n paar ander. Dít glo alles om skrumwerk meer mede-
dingend te maak.
Ek het die eerste wedstryde tussen die universiteitspanne mooi dopgehou om te kyk of die groter klem van die blasers op hierdie aspekte die skrums werklik meer mededingend maak.
Wat ek gesien het, is dat straf konsekwent uitgedeel word wanneer bogenoemde reëls oortree word, maar by die meeste skrums niks kom van mededingendheid nie, want die skrumskakel gooi die bal telkens blatant skeef by die skrum in, soms onder sy slotte se voete, en die blasers straf dit nie!
Ek verstaan hierdie selektiewe toepassing van die reëls glad nie. By lynstane word balle wat net effens skeef ingegooi word nie oorgesien nie, maar by die skrums is dit geen probleem vir die blasers nie.
’n Mens sien ook deesdae baie selde dat ’n vaskop gehaak word.
Hoe moet die arme haker dit nou ook regkry om ’n opposisiebal te haak wat totaal buite sy bereik skeef ingegooi word? Wat is die doel van ’n skrum as die span wat die bal ingooi bykans seker daarvan is dat hulle die bal gaan wen weens die skewe ingooi?