- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
‘Tree aan’ bring grenstyd terug
deur Francois du Toit van Montanapark skryf
2011-06-13 23:42
Deon Opperman se musiekopvoering Tree aan is in die kol en aan te beveel vir elke Suid-Afrikaner wat deel was van die nasionale dienspligstelsel. Vir my het dit weer (pynlike) herinnerings uit die 1970’s opgediep.
My vrees vir telegramme en geregistreerde pos met oproepinstruksies, die trane en knop in die keel op Benoni se stasie by ons vertrek grens toe met leë beloftes dat ek sou terugkom, wetende dat ek geen beheer daaroor het nie; my eerste huweliksherdenking op die grens; die retoriek van die Rooi Gevaar.
Een van die pynlike herinnerings was die skok en afgryse in die vroeë oggendure van 31 Mei 1976 op die kaplyn in Ovambo toe my vriend Hannes Lombaard langs my geskiet is. Sy gehuil en gesmeek om hulp terwyl ons desperaat probeer het om radioverbinding met die basis te kry en die trane van verligting toe die Puma-helikopter by dagbreek land om hom af te voer ...
Ná die kampe was daar nie sprake van berading nie en nagmerries het my dekades lank geteister. Trane het vrylik gevloei toe die name van die soldate wat in die Bosoorlog gesneuwel het op die verhoog geprojekteer is.