- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Waar’s my Beeld as die voëls sing?
deur Willie van Tonder van Potch skryf:
2012-02-09 22:38
Die soetste fluitliedjie kom uit die keel van die lewerik.
Vroegaand kom hy uit. Hop-hop op die gras rond, pik hier, pik daar, vlieg blitssnel op, hoog na die huisdak se nok, sprei die stert en sambreel die vlerke?. . . en pronk die mooiste pronk.
Die versekering dat sy liefdespronk hoogs suksesvol was, basuin hy luidkeels uit.
Uit die diepste slaap wek die melodie van die lewerik my en vervul my met vrede en geluk.
Ek staan op, skakel die ketel aan en dartel singend by die voordeur uit.
Ek lig my oë se kyk na die ooste, strek my arms in verwelkoming uit na die opkomende son.
Dan steek ek my hand uit. . . en my lewe, die dag, die son, die ure, en alles breek flenters. En die stilte van die tydlose ewige verdoemenis daal op my neer.
En met willose, trae, flou pogings sleep ek my moeë lyf sukkelend huis toe.
“Wat is fout?” vra my vrou.
Hoe uiter ek dit? My son, my skyn, my lewe, my wil, en my wees is nie daar nie. . . My Beeld is nie in die posbus nie!