- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
ANC knou nasiebou
deur Danie van Pretoria
2010-10-25 10:30
Ek reageer graag op die artikel "ANC vra verlof tot appèl teen lied-verbod".
Dit is betreurenswaardig dat die regerende party hulle in vandag se tyd en era vereenselwig met die lied “dubul’ iBhunu” (skiet die boer)”, wat volgens hulle deel vorm deel van die “geskiedenis van die ANC se stryd vir vryheid”.
Dit is onsensitief, ondeurdag, moedswillig en definitief nie in belang van nasiebou in Suid-Afrika nie. Hoe kan die regerende party hulle verbind met die sing van dié woorde “skiet die boer” en in dieselfde asem landsburgers die onderneming gee dat hulle misdaad in Suid-Afrika, waaronder plaasmoorde op boere wat 'n ernstige probleem is, wil bekamp.
Plekname wat volgens die ANC nie in lyn is met die nuwe Suid-Afrika nie en onsensitief teenoor mense wat gely het onder apartheid, word daagliks verander.
Dit nieteenstaande die feit dat dit ook deel vorm van die geskiedenis van 'n deel van die Suid-Afrikaanse bevolking.
Die dubbelstandaarde wat deur die regerende party uitgeoefen word, lei net tot wantroue in hul vermoë om op te tree in die belang van almal in Suid-Afrika.
Dit is duidelik dat hulle net in eie belang optree sonder om te dink aan die gevolge daarvan vir ander groepe in Suid-Afrika.
Ek sou graag wou sien of 'n ANC-leier soos voormalige president Nelson Mandela, bereid sou wees om saam met die hanswors Julius Malema op 'n verhoog te staan en die “Vryheidslied” uit volle bors sal sing.
Ek kan byna geld daarop sit dat hy dit nie sal doen nie.
Dit sal vir hom 'n verleentheid wees. Ek het egter vertrou in die regstelsel en dat geregtigheid sal seëvier tydens die appèl.