- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Loneboek sing 'n ander deuntjie
deur Petro Hansen
2011-11-23 12:09
Vandag is maandeinde, betaaldag op die plaas en my loneboek
op my lessenaar val na vroeëre jare oop, my oog vang name van werkers op ons
plaas wat nie meer hier met ons is nie... van hulle is oorlede en van hulle
afgetree en op pensioen. John, Kleinbooi, Big man en Fanie...
Ek begin dink aan
ons werkers, ons plaas se mense en besef
‘n loneboek sing ‘n ander deuntjie.
Ek dink aan Maria wat in my huis werk,
dit klink so eenvoudig, maar as ek moet begin vertel waar haar toewyding begin
en eindig sal hierdie strorie nie einde kry nie.
Ek sien haar elke oggend vroeg
die plaaspad aangestap kom van haar huis af werk toe, elke dag betyds vol lus
en ywer. My regterhand wat my drie
kinders help grootmaak het toe ek as jong ma verward nie geweet het watter kant
toe nie. Sy het met haar kalmte en
natuurlike aardse moederskap my bygestaan in die grootmaak-proses.
Sy het gehelp
het om die eerste happie pap te voer, by hulle gesit en speel, hulle
partykeer “gepeppa” as ‘n moeë ma net gou agteroor wil sit en ‘n koppie tee
wil drink. Agter besige klein beentjies aangehardloop op die plaas om seker
te maak hulle trap nie op ‘n slang, stamp hulle voet teen ‘n klip of kry seer
nie.
Ek sal baie keer aan haar dink en dan word my hart swaar as ek besef hoe hierdie mens haar lewe
vir my en my gesin opoffer... dit is haar lewe om vir ons te werk... ek sal
baie keer as ek haar laat middag by haar huisie gaan aflaai dink ek wens ek het
genoeg geld gehad om vir haar ‘n “mansion” te bou genoeg bakstene gehad om vir
haar ‘n monument op te rig. Met Kersfees om die draai sien ek al uit na haar
vrolike “Happy!” , “Happy!” as ek haar Kersgeskenke, jaarbonus en pasellas vir
haar gee.
Dan is daar John wie se glimlag jy omtrent kon hoor, elke
oggend se “môre nonnie Petro!” was ‘n vriendelike geluid, ‘n geluid wat my dag
ook met ‘n glimlag laat begin het. John was ons voorman, hy het vir baie jare by ons
gewerk nes sy pa en oupa voor hom. Oor geslagte gekom en was al deel van die
geskiedenis en vooruitgang op die stuk grond. Het baie respek afgedwing in die
manier waarop hy sy take uitgevoer het, pligsgetrou, als altyd na die beste van
sy vermoë. Die plaas het vir hom saak gemaak.
Fanie was ons beeswagter, hy't presies geweet hoeveel beeste
daar was, hy het elke dag die warm bosveld-son getrotseer, deur graskampe
gestap om hulle te soek en te tel, seker te maak almal is hier en gesond.
Selfs in die reëntyd het hy die nat turfgrond met “gumbootse” aangedurf en
pligsgetrou die beeste gekontroleer.
Fanie op wie 'n mens kon staatmaak en kon
vertrou en kon weet as hy nie aan die voordeur kom klop met slegte nuus dat ‘n
bees gevrek het nie die res altyd goeie nuus was.
Kleinbooi was ook al deel van die klip en sand op die plaas,
sy vrou het by my skoonma-hulle gewerk. Haar dogters het ook hier gewerk en kinders help grootmaak. Kleinbooi was stil en op sy plek. Ordentlik,
het aan die ZZC behoort - sy maandeinde-geld is direk in sy gesinsbenodigdhede ingeploeg en nie in die bier by die
Settlers Hotel nie. Kleinbooi wat die
oggend spesiaal vroeg werk toe gekom het toe my seun sy eerste skooldag moes
aanpak en hy hom by die agterdeur ingewag het om vir klein“Babalela” te sê hy moet mooi loop en
mooi skoolgaan.
Ek maak die loneboek toe saam met die lewens van al hierdie mense, spesiale
mense, gelyke mense in my oë vir wie ek respek het. Die alledaagse artikels in
die koerante van haatspraak en apartheid is op die plaas nie relevant nie.. dit
bestaan nie.
Ek wonder of Malema dit ooit sal weet.. of hy sal weet dat daar ‘n
plek is waar wit en swart vir mekaar omgee en waar die klanke van die deuntjies
wat hy sing nie tot hier gehoor kan word nie.