- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Moenie te gou praat nie
deur WNF du Plessis
2011-10-31 15:51
Ek verwys na Christo Buchner se artikel, "Haaie se agt het te veel
spiere" van Saterdag 29 Oktober 2011.
'n Mens moet versigtig wees met sportvoorspellings, dit kan baie vinnig opgevolg word met 'n ongemaklike rooi gesig.
Ek verstaan goed toe Buchner (en baie ander Suid-Afrikaners in die land) die twee spanne op papier gesien het en die afleiding gemaak het dat die
Sharks te veel skietgoed het vir die Leeuspan.
Die Sharks met 12 Springbokke
in hul span en die Leeus met net 2, kan lei tot sulke uitlatings.
Maar jy maak 'n baie groot fout (veral as dit kom by rugby) om 'n wenner in
so 'n stryd voor die afskop te bepaal. Volgens my beskeie mening is daar drie dinge wat die Leeus laat
wen het Saterdag.
Eerstens speel hierdie span nog
die hele jaar saam.
Van die Superreeks tot en met die Curriebeker-finaal.
'n
Span wat goed gekonfyt is en nie spelers aan die Springbok-Wêreldbeker-groep
of Drienasie-reeks afgestaan het nie.
Tweedens was die hele Curriebeker-veldtog meer as net 'n spanpoging. Die spelers, hul vrouens en meisies,
kinders, bestuur en die administrateurs het saam 'n familieband gebou.
Enige
unie wat sukses wil behaal moet daardie familiekultuur tot stand bring. Iets
wat die WP, Blou Bulle, Cheetahs en Sharks al jare gelede by hul unies geskep
het.
En ek hoor mnr. Kevin De Klerk en John Mitchell is aan die spits (of
die vaders) van hierdie Leeu-familie. En laaste maar nie die minste, is
hierdie sogenaamde "spierlose" spelers baie talentvol.
Die Leeu-voorry het die
Sharks/Springbok-voorry ordentlik op hul neuse laat kyk. Die Leeu-slotpaar
het baie goed vertoon in die lynstane en selfs van die Sharks se lynstaan-balle
gesteel.
Minnie was soos 'n ene Heinrich Brüssow en Josh Strauss is beslis Bok-materiaal. Die Leeus se agterspelers het die ster-belaaide Sharksagterlyn
gereeld op die verkeerde voet gevang en Doppies Le Grange en Michael Killian
het gewys wat kan gebeur as jy die lyn reguit maak.
Wat gelei het tot twee prag-drieë. Dit is heerlik om te sien hoeveel diepte ons in SA rugby het. Dit was
vir my as rugbyliefhebber 'n heerlike wedstryd om te kyk. Die Sharks het goeie
rugby gespeel, maar die Leeus het net te veel spiere gehad!