- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
NG Kerk se teenkanting ironies
deur Ferdie Muller
2011-11-24 10:48
Die nuwe wetsontwerp deur die ANC van 22 November
is natuurlik baie hartseer.
Ek vind die NG Kerk se Algemene Sinodale
Moderatuur se verklaring daaroor egter
uiters interessant om ten minste die volgende redes:
1) Hulle praat oor die "inhoud en gees van die
Grondwet" wat die hoogste prioriteit behoort te wees;
2) Die Wet is deur die Parlement afgedwing en daarop gerig
om monde te snoer;
3) 'n Groot veldtog word ondersteun om hierdie wet met
alles tot hulle beskikking teen te staan.
My eerlike vraag is dit: 5 maande gelede het dit openbare
kennis geword dat 'n regter ten tye van die Tukkies verhoor wat proff. Le Roux,
Muller, Human en Cas Vos van die NG Kerk teen my begin het, kategories verklaar
het dat NG professore en predikante nie meer hoef te glo dat Jesus letterlik
uit die graf opgestaan het nie.
Verskeie gewone Christene het sedertdien kontak
gemaak en kon gewoon nie verstaan hoe dit moontlik is dat 'n regter so iets kon
besluit nie, terwyl die "inhoud en gees" van die NG belydenis en die
2003 ASK verklaring oor Jesus se opstanding spesifiek die historiese en
letterlike opstanding van Jesus bely.
Ek kan verkeerd wees, maar in een sin,
sou mens kon aanvoer dat 'n "nuwe wet" tydens die verhoor forseer is
om monde te snoer. In alle billikheid sou mens kon vra: Is die Grondwet van
Suid Afrika meer belangrik as die belydenis en kernidentiteit van die NG Kerk?
Moet Christene deelneem aan 'n veldtog om die Grondwet te beskerm, maar wanneer
dit by die kernidentiteit en belydenis oor Jesus se opstanding kom, moet ons
maar aanvaar dat die inhoud en gees van die NG belydenis en 2003 ASK verklaring
nie meer die "hoogste prioriteit" hoef te wees nie?
Ek sê dit alles
met 'n sagte stem, omdat ek weet dat ook ek destyds foute begaan het wat ek
bely het.
Die vrae oor die regter se uitlatings en die radikale implikasies
daarvan vir die NG Kerk word myns insiens egter onder die mat gevee.
Ons moet
vorentoe gaan en die verlede met rus laat, maar as die besluite van gister en
vandag die Grondwet (of 'n kernbelydenis van die NG Kerk) onherroeplik
verander, moet mens dalk met respek, liefde en nederig by die NG Kerk se ASM
hoor of dit in orde is om ook hieroor op te staan...