- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Só onthou ek Barend J. Toerien
deur Herman Toerien
2009-09-07 09:09
In 1977 wag Barend Toerien op die JF Kennedy-lughawe op sy neef, prof. Jan Toerien wat ‘n kongres kom toespreek het. Barend was onbewus daarvan dat Jan, my pa, op die vliegtuig ‘n hartaanval gekry het en dat hy reeds oorlede was toe die ambulans by die Jamaika-hospitaal aangekom het. Onverrigter sake keer hy huiswaarts waar hy die nuus uit Suid-Afrika kry.
Twee jaar later is Barend, wat van sy eerste vrou Maria geskei is, en my ma, Johanna, getroud. So het dit gebeur dat ek ‘n paar weke op hul plasie buite Kerhonksen, sowat 160 kilometer noord van New York deurgebring het. In Suid-Afrika het hulle saam die plasie Eldorado buite Onrus gekoop, en so het ek ook die voorreg geniet om een aand in Jan Rabie se huis van sy beroemde seewierjellie te eet.
Hoewel hulle ook later geskei is, het Barend end-uit goed vir my ma gebly, en gereeld gebel om te hoor hoe dit met haar gaan.
Barend het ‘n paar jaar gelede as hoofouteur die Toerien-stamregister voltooi. Dit is ‘n monumentale werk wat dekades geneem het.
Toerien sterf dieselfde jaar as wat die ander mees bekende Toerien-digter, Jepete Toerien, se 150ste geboorteherdenking gedenk word. Jepete word deur die meeste bronne beskou as die skrywer van minstens die eerste strofes van My Sarie Marais. Toerien het onlangs op ‘n rype ouderdom, ná die afsterwe van Elisabeth Eybers, die doyen van Afrikaanse skrywers geword. Hoewel Barend miskien nie tot die werklike groottes gereken sal word nie, is dit goed dat hy darem ‘n rukkie dié doyen-status kon geniet.
Onder Barend se mees bekende familielede tel die oupa, pa en seun-kombinasie, Frank, Heine en Blake Toerien, onderskeidelik assistent-redakteur van die Groot Afrikaanse woordeboek, skrywer van onder meer Tussen treine en die Mielieblaarklub, en Blake as blyspelskrywer en musikant.
Onder sy Vrystaatse familie tel wyle Herman Toerien, jare lank onderwyser en orrelis op Hertzogville, en SC wat biologie-inspektrise in die Noord-Vrystaat was.
Heel toevallig is die gediggie wat ek oor onder meer Barend geskryf het, vroeër vanjaar op Die Burger se gedigteblog geplaas. Ek weet Jan Rabie het in sy boek, ‘n Boek vir Onrus, ‘n paar keer na Barend en Eldorado verwys, maar of Barend ooit in ‘n erkende digter se skryfwerk opgeneem is weet ek nie.
April 20, 2009
Woordmeesters van Onrus word min
Onrus se geil skrywersgrond spruit geil
die Afrikaanse woordkuns uit
Van Jan Rabie se lig-ligte styl
tot Uys Krige se woordebuit
Hier het Breyten sandspore getrap,
Barend Toerien die weer kom drink
hul knaende siel Onrus betrap
om nog woordeskat te bedink
Die wind is in hul goue woorde,
die son skyn lig op hul woorde
die woorde slaan die see se orkes
en die melkhout breek die storms bes
Hul woorde vertel van oertydse strandloper
Die honger magies by Herrie se Baai
as die wegbly perlemoen grootman besoper
oor die volgende kosdinge laat raai
Wind en weergebrei dié woordmeesters
wat weerlig uit die woorde kon wurg,
maar ook soos ‘n stil waterblommetjiestroom
vir die siende oog met woord lewend kon wek.
Herman Toerien