Dié palmboom stoot muur nie sommer om
2012-01-28 06:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op

Le Roux Roelofse van Kaapstad skryf:
Ernst, ons het ’n palmboom by ons huis in Welgemoed, Bellville, en ons wonder of dit moontlik is dat die boom ons skeidingsmuur met die bure kan omstoot.
Ons is uiteraard bekommerd dat dit wel die geval kan wees en het tot dusver strydige advies gekry oor of die palmboom die oorsaak van die barste in die muur kan wees. Die muur, bygesê, is nie baie goed gebou nie.
Jou kanariepalm (Phoenix canariensis) is ongelooflik mooi.
Die plant het ’n bywortelstelsel en as hy tot nou toe nie probleme gegee het nie, sal dit nie gebeur nie. Die boom se stam het reeds sy maksimum dikte bereik en sy wortels (’n bywortelstelsel) behoort nie skade aan te rig nie. Hul wortels is maar, soos aalwyne s’n, net vingerdikte.
Die wortelbal kan effens druk op die muur uitoefen, maar nie soos ’n wildevy nie.
Sakkie Corgas skryf:
My vriend se vyeboom toon groot probleme. Die vrugte is waarskynlik mooi groot as gevolg van die baie reën.
Die voëls stel feitlik glad nie belang in die vrugte nie en pik nie eens deur die skil nie.
Die blommetjies binne-in is verdroog en verskrompel en klein larwes beweeg daarin rond. Die boom self is pragtig en vertoon gesond; met geen tekens aan die blare dat dit siek is nie.
Kan jy help, want ons sal volgende jaar graag weer heerlike vye wil eet.
Die vye is moontlik besmet met ’n vrugtevlieg, ’n plaag wat volgens prof. Jan Giliomee redelik onlangs in ons land ingevoer is en nou groot probleme veroorsaak. Prof. Giliomee, van die departement insektekunde aan die Universiteit van Stellenbosch, sê: “Volgens gepubliseerde inligting het daar die afgelope 12 jaar 13 nuwe insekplae die land ingekom.
Die drie wat ons in die Wes-Kaap die meeste gaan pla, is die Mediterreense swart vyevlieg, wat sy eiers in baie jong vye lê. Die larwes (maaiers), wat soos vrugtevlieglarwes lyk, tonnel in die vye in en laat hulle afval. Dit lyk of hulle met die gewone vrugtevliegmiddels, soos Lebaycid, beheer kan word as die vye vroeg gespuit word.
“Die ander twee is die wollerige witvlieg van sitrus en die granaatwitvlieg. Eersgenoemde sit aan die onderkant van die blare en skei ’n wollerige was, asook taai heuningdou, af en is veral lastig op lemmetjiebome.
“Laasgenoemde val nie net granate aan nie, maar ook olienhout en verskeie ander bome en struike.
“Die witvlieë kan beheer word deur ’n mengsel van twee teelepels Sunlight Liquid en twee teelepels koeksoda in vyf liter water twee keer (sowat tien dae ná mekaar) te spuit.
“Sommige van die ongewenste nuwe plae het waarskynlik die land binnegekom deurdat mense wat oorsee gereis het besmette plantmateriaal saamgebring het.”