Flaminkblomme benodig vog, hitte
2012-02-04 06:00

André Greyling skryf: Dankie vir die inligting oor anthuriums, maar nou ontlok dit weer verdere vrae. Ek het ook orgideë en gebruik rotswol. Kan ek dit nie met kompos meng en dan dit as plantmedium gebruik nie? Ek het vier verskillende kleure jong anthuriums en hulle staan bymekaar. Sal die kleure dieselfde bly soos hulle ouer word of sal die kleure vermeng? Wat is die beste mengsel vir grond vir anthuriums? Wat is die beste tyd om hulle oor te plant? Hoe gereeld en wat is die beste voeding?
André, jy kan gerus rotswol gebruik en die vier kleure sal onderskeibaar bly ten spyte daarvan dat hulle bymekaar groei. Die beste is om potplantgrond te koop met ’n hoë veeninhoud – dus ’n ligte medium en dus geskik vir anthuriums. Die beste tyd is altyd in die winter. Hulle reageer goed op organiese voeding en verkies ’n vogtige omgewing. Die temperatuur moet verkieslik bo 18?°C wees.
Anthuriums is afkomstig van woude in Suid-Amerika.
André du Plessis van Modimolle skryf: Ernst, in ’n artikel reageer jy op ’n vraag oor avokadobome wat nie vrugte dra nie. Reeds so vroeg as 1965 het ek spykers in die stamme van twee avokadobome in Pretoria ingeslaan wat dieselfde probleem getoon het. Die volgende seisoen was albei bome vol avokadopere. Met my trek na Kokanje in Modimolle in 2009 het ek ’n avokadoboom geërf met dieselfde probleem en weer die spykers nadergetrek. Die boom is nou vol klein avokadopere.
Ek vermoed dat albei gevalle iets met ’n voedingstekort te make gehad het. Ek kon steeds geen verklaring vir hierdie behandeling kry nie – maar dit het nietemin goed gewerk!
Patsy Grobler skryf: Ernst, ons het op ’n redelike hoë ouderdom besluit om na Southdowns, net langs die Irene-plaas, te trek en vir ons daar ’n regte klein plaashuis te bou. Die beleid daar is om slegs inheemse plante en bome te gebruik.
Verlede winter is die gebied swaar deur swartryp getref en dit is ’n hele paar grade kouer waar ons nou woon. As jy met die volgende vrae kan help sal ek baie bly wees: Weet jy van ’n populier wat nie sy blare verloor nie?
Die tuin is ongeveer 15 m x 17 m groot en totaal boomloos. Weens ons jare sal ons uiteraard ’n paar bome en struike wil plant wat vinnig groei.
Ek is baie lief vir ’n mooi tuin, maar wil aanbeweeg na groen en selfonderhoudend met struike wat die kleur gee. Enige aanbeveling sal ek opreg waardeer. Ek wil graag alles self beplan.
Patsy, alle populierbome is bladwisselend. Rypbestande bome wat ek aanbeveel is die vaderlandswilger (Combretum erytrophyllum), witstinkhout (Celtis africana), wildeperske (Kiggelaria africana), olienhout (Olea europaea subsp. africana), kasuur (Pittosporum viridiflorum) en kiepersol (Cussonia paniculata). Die basboom (Dais cotinifolia) is kleurryk teen Kersfees en rypbestand.
Die blinkblaar-wag-’n-bietjie (Ziziphus mucronata) is ook ’n mooi boom.
Kleurryke struike sluit in die notsung (Halleria lucida), blinkblaar (Rhamnus prinoides), watersalie (Tetradenia riparia), syselbos (Plumbago auriculata), wildesalie (Buddleja salviifolia), hoesbos (Buddleja glomerata), treursalie (Buddleja auriculata), waterberg-heuningklokkiebos (Freylinia tropica), wildedagga (Leonotis leonorus), wildevlier (Nuxia congesta) en Septemberbos (Polygala myrtifolia).