Goeie kos en ’n goeie daad
2012-01-20 22:26
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
William Cawood, ’n geesdriftige, hiperbedrywige onderwyser van Kampsbaai, bring sy vriende en gaste met ’n doel na Cabbages and Condoms in Bangkok. Dis een van die mees ongewone restaurante in die wêreld, ’n konsep-eetplek soos g’n ander nie.
Cawood voel ’n affiniteit met Thailand. Dis te verstane, want hy het ’n paar jaar gelede in dié eksotiese land skoolgehou. Hy ken die land verby die gewone toeristeplesiere – waarvan daar vele is. Hy ken ook die mense en die Boeddhistiese kultuur van medemenslikheid. Hierdie restaurant eggo dit op ’n funky manier.
Cabbages and Condoms is ’n toeriste-bestemming wat ’n onvergeetlike effek het. Dit bedien uithalergeregte wat ’n gepriemde gewete onderskraag. Jy loop uit hierdie eetplek uit dalk effe van ’n beter mens, met iets van ’n menslike kalmte in jou ingebed lank ná die vrolikheid van daardie Een-aand-in-Bangkok. Goeie kos en gawe gedagtes.
Dié eksotiese paradys anker jou vir ’n aand van voortreflike, tipiese Thai-kos.
’n Systraatjie uit die woeligste sakegebied van Sukhumvit lei jou ’n ander wêreld binne. Dink aan Alice en haar wonderland. Verby die naambord met sy astrante naam teatraal soos ’n raam bo-oor die paadjie, kies jy net een koers: die weelderige tuin binne.
Omring deur palms, bome wat skynbaar eindeloos die hemel inskiet. Oral orgideë. Struike is oral met glimmende, tingelingende liggies versier. Dis nie soseer sprokiesagtig nie as vrolike feestigheid. Delikate sproeiers en waaiers blaas wasems van mistigheid oor die versamelde eters en gaste, almal alte tuis aan die lang tafels met hul rooi-en-wit gingangdoeke. Die aangewende mis bring ligte lafenis in die tropiese atmosfeer, maar ook ’n verlore-in-eden-romantiek.
Stasies en dienspunte is diskreet van hout, en die verskillende ruimtes (plek vir private onthale, konferensies) loop gemaklik en informeel een in die ander. In ’n kroeg op die boonste vlak sit ’n klomp gevestigdes en drink Singha-bier.
Maar ons wil onder tussen die ruigtes kuier.
Oral tussen die plante staan komieklike figure uitgedos in kostuums wat van kleurvolle kondome gemaak is. Lampe, sien jy later, het skerms van kondome. Dis laf en tog ook betekenisvol in die absurditeit van die naam vasgevang.
“Ons kos is gewaarborg om jou nie swanger te maak nie,” lees die spyskaart. En pleks van mentjies met die rekening, kry jy ’n kondoom. (Die banaliteit laat jou kiertsregop sit.)
MAN MET ’N MISSIE
Om tot hier te reis, om Cabbages and Condoms te besoek, hier te eet, is ’n soort pelgrimstog wat nodig is. Vir wat die plek verteenwoordig, en hoe die passie en fokus van enkeles ’n enorme sosiale verskil kan maak. (Dis een van die motiewe wat Cawood aanspoor om mense hierheen te lei.)
Die gedagte het sy wortels in die 1970’s toe Thailand ’n geheel ander gemeenskap gehad het wat vasgevang was in ’n spiraal van armoede tesame met onbeplande gesinsaanwas. En toe in die 1980’s begin MIV/vigs ook sy kop uitsteek.
’n Man met ’n missie, is die enigste manier om Mechai Viravaidya te beskryf. Hy het ’n dramatiese en dinamiese rol gespeel om sy mense by te staan en te help – van sy stigting in 1974 van die Population and Community Development Association (PDA) om die lot van armes in die platteland aan te pak tot vandag se merkwaardige algemene bewustheid van seksbeskerming en geboortebeperking onder die Thai-mense.
Vandag is die PDA een van die wêreld se mees bewonderde nie-regeringsorganisasies met 12 000 vrywillige werkers en mobiele mediese eenhede wat meer as 10 000 dorpies, ’n derde van die land, dien. Die land se aanwas het van 3,2% tot 1% gedaal. In 2007 het die PDA $1 miljoen van die Gates-stigting vir sy werk ontvang.
Dit het alles te doen, het Mechai Viravaidya aangevoer, met ’n kondoom. En dís waar die eetplek in die 1980’s sy naam gekry het. “In elke tuintjie sien jy kool. Op die markte. Dis die mees algemene gesig in ons landskap. As ons kondome dieselfde sigbaarheid kan gee, sal ons ver vorder,” het hy eens gesê.
Die gedagte om ’n kos-en-kuierplek Cabbages and Condoms te noem was so eksentriek dat dit onmiddellik aandag getrek het. Maar dit sou nie gewerk het as die plek en die kos nie ook van die beste sou wees nie, het “Mnr. Kondoom” destyds volgehou. (In Thailand het die mense toe van kondome as “mechais” begin gepraat.)
Vandag is daar verskeie gelyknamige restaurante in verskillende oorde in Thailand, maar hierdie een in Bangkok, die eerste, bly die vlagskip.
Soos byna elke dag in Bangkok, is daar nie veel verandering in die weer nie. Die vroegaand is soel, soos hulle dit in die boeke noem. Die vroeë donkerte verseker dat die liggies blink wat aan die takke swaai. Op ’n verhogie, omring deur struike, sit ’n musikant kruisbeen en speel sy sitar. Klingelende snaarklanke weerkaats saggies tussen luidsprekers in die bome. Daar’s ’n gemoedelikheid onder al die gaste.
APTYTLIKE GEURE
Thai-kos, sal dié wat weet jou vertel, is van die gaafste juis omdat dit in vele gevalle so eenvoudig is, met die klem op geure. Maar daar is altyd ook verblydende verrassings en talle variasies.
Ons bestel meing kham, een van die tipiese Thai-happies. Dit verstom met sy eenvoud en aptytlikheid. Op blaartjies van die wilde betelboom (Piper sarmentosum), bekend as cha pu, word fyn-fyn kapseltjie klapper, uie, gemmer en droë krewels bedien, ’n fraai sousie bo-oor.
Slaai kom in die vorm van yum ma khue yaw. Dis gebraaide inheemse eiervrug met krewels en gemaalde hoender, eweneens met ’n verruklike sous. ’n Bord van die klassieke khao phad nam prick long reua bring ’n pragtige rysdis met fyn vark, sout-eier en ingelegde knoffel. (Laasgenoemde alleen is die reis werd.)
Soos enige plek en by enige maal (van ontbyt tot aand) is vars vrugte die plesierigste van tafelervarings: pol la mai tam ru doo karn kom as presies gesnyde blokkies waatlemoen, pynappel, mango en papaja.
Voordat ons op die tuk-tuk spring hotel toe en die verspot goedkoop rekening betaal en ons kondoom-pasellas inpak, maak almal ’n draai deur die paradys met ’n doel waaraan Cawood ons voorgestel het: ’n wandeling deur ’n tropiese woud.
In die winkeltjie wil jy die aandenkings koop: handgemaakte sakke, lekker boekies. Alle inkomste, soos dié van die eetplek, gaan aan die PDA en sy liefdadigheid.
Mechai Viravaidya het jare gelede met hierdie plek ’n nuwe ruimte van genoegdoening en welsyn geskep. Hoe lekker om hier uit te stap.
Werd om te weet
- Neffens die Cabbages and Condoms Restaurant in Bangkok is daar ’n kliniek waar seksvoorligting gegee word en mans selfs ’n gratis vasektomie kan laat doen.
- Lees meer oor die Population and Community Development Association by www.pda.or.th/restaurant/about.asp.
- Thailand se koskultuur en kookkuns is een van die oudstes en fundamenteelste. Essensieel gaan dit in die Boeddhistiese filosofie om suiwerheid van die eet-ervaring. Met ander woorde varsheid, onopgesmuktheid en presiesheid is sentraal. Dít beteken nie dat geur- en tekstuurkombinasies agterweë bly nie.

Cabbages and Condoms se feestelike atmosfeer. Foto’s: Melvyn Minnaar

Vars vrugte is die plesierigste van tafelervarings.