Goeie musiek, die langpad
2012-02-25 06:00
Joshua Grierson met sy rasperstem, leerskoene en kitaar laat folk, blues, rock en alternatiewe country nuwe lewe kry. Celinda Groenewald het by dié sanger gaan uitvind wat sy sewe wonders tussen liedjies skryf en optredes is.
1 ’n Lang pad
“Met my toer-rooster wat by die week voller raak, bestee ek meer en meer tyd op die N1 tussen Kaapstad en Johannesburg.
“Baie soos ons eie mini-Roete 66 van Amerika, voel dit asof die N1 vir ewig uitstrek en ’n mens kan nie help om by elke klein padstal te wil stop vir plaaslik gekookte konfyt of by die slaghuis vir vars biltong nie. Dis ook die ideale
geleentheid om al die musiekalbums wat ek so lank afgeskeep het, van voor tot agter deur te luister!”
2 ’n Mark
“The Biscuit Mill in Kaapstad en Neighbourgoods in Johannesburg is dié perfek ontwerpte moderne vlooimarkte wat als van rou en organiese sjokolade tot die beste tuisgemaakte pesto’s en brood bied.
“Dis die beste manier om ’n Saterdag van laatoggend tot vroegmiddag deur te bring, met die ideale mengsel van hip mense en watertand-lekkernye.”
3 ’n Watergat
“My gunsteling-watergat moet &Union in Breestraat, Kaapstad, wees.
“Sy reeks bier sorg vir elke smaakvoorkeur denkbaar en skop alle kompetisie uit. Én hul prego-rol is absoluut ’n moet-hê. Buiten daarvoor het hulle ook elke Woensdagaand tussen 20:00 en 21:00 ’n kunstenaar of band.
“Ek het al self verskeie kere daar opgetree en is mal daaroor.”
4 ’ n Koffieplek
“Ek kan steeds geen beter plek kry om die swart gif, wat beter bekend staan as koffie, te drink as by Vida E Caffè in Kloofstraat, Kaapstad, nie.
“Die atmosfeer en altyd vriendelike diens kan enige frons op sy kop keer.”
5 ’n Musiekwinkel
“Het jy al ooit by ’n plek ingestap waar jy onmiddellik wou intrek?
“Dis hoe ek gevoel het toe ek Mabu Vinyl in Rheedestraat, Kaapstad, ontdek het.
“Spandeer ’n dag om na treffers uit die ou dae te luister of koop van die baie plaaslike kunstenaars se musiek wat hulle heelhartig ondersteun.”
6 ’n Fees
“Laas jaar het ek vir die eerste keer by die Splashy Fen-musiekfees in die beeldskone Underberg in KwaZulu-Natal gespeel.
“Vyf dae met niks anders nie as goeie musiek, pragtige mense en die heuwels wat eb en vloei teen ’n ongelooflike lug met wolke wat opdoem en snags ’n see van konstellasies.
“Dis my soort detoks!”
7 ’n Perfekte aand
“Jou Maandagaand moet só lyk: Gryp om 19:00 ’n smaaklike hamburger by Royale Eatery in Langstraat, Kaapstad. “Sluk dit om 21:00 af met ’n ’50’s dinerstyle-melkskommel. Stap boontoe na The Waiting Room en kyk na van die beste plaaslike musiek wat jy kan koop!”
- Luister na Joshua se musiek: www.youtube.com/user/MrJoshuaGrierson of besoek sy aanhangersblad www.reverbnation.com/joshuagrierson.

Die beeldskone Underberg waar die Drakensberg ’n perfekte agtergrond vir die Splashy Fen-musiekfees is.