Harde werk, die moeite werd...
2012-01-20 22:26
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Dit was skemer toe ek op Wolwedans in Namibië stilhou. Die naam het my jare gelede al getrek, veral omdat dit in ’n meer onbekende deel van Namibië geleë is. Geen brosjure of toergids kan jou voorberei op die vista wat jou daar oorrompel nie. Feit is: jy moet bitterlik hard werk om Wolwedans se sjarme te geniet, want die roete tot daar is nie vir sissies nie.
Dit geld eintlik die meeste van Namibië se toeriste-aantreklikhede. Nes die land, val sy rowwe skoonheid nie in jou skoot nie. Jy moet op ver paaie ry, sonblok 30 op elke sensitiewe deel van jou liggaam smeer en die sand uit jou kamera se lens blaas as jy sy hart wil ontdek.
Wolwedans is geleë in ’n natuurbewaringsgebied waar wild teen die berge en koppe uitgestippel is. Waar die gras geler as songebrande margarien is en vriendelikheid deel van die ervaring vorm.
Die eerste kilometer na die lodge sal jou na Johannesburg se slaggate laat verlang. Boeta! Dis klipperig en rateltaai. Maar die res van die 25 km is viertrek-vriendelik en maak op vir die eerste kilometer se bande-vretende ruheid.
’n Gemsbok staan tien treë van my viertrekvoertuig. “Change batteries,” waarsku my kamera, gehoorsaam aan Murphy’s Law. Nuwe batterye in. Verkeerd om in. “Change batteries!” snawel die kamera. En ta staan asof Michelangelo hom uit die gras gebeitel het. ’n Minuut se dramatiese gevroetel later en die gemsbok poseer steeds vir ’n foto wat dadelik ’n screensaver word. “Klik!” En asof op bevel sak die reuse-horings.
WOLWEDANS GOOI ARMS OOP
En dan gooi Wolwedans en sy bewaringsgebied sy arms vir jou oop.
Sebras, jakkalse, blesbokke en springbokke bondel in die spatsels koelte saam en wag geduldig dat jy foto’s neem.
Die kampe is geleë tussen reuse-rotsblokke wat soos dobbelstene oor die grasvlaktes uitgesprei lê. Daar is water. En dis nie ’n lugspieëling nie!
Net so indrukwekkend is die Duwisib-kasteel in die Maltahöhe-distrik. Dit het aan ’n ene Baron von Wolf behoort, terwyl ’n mens nou hoeka die Wolwedans-kultuur ontgin!
Hierdie kiertsregop klipkasteel het as model gedien vir die gebou waarin die roman Verklikker afgespeel het. Mure so dik soos die deeg wat jou ouma geknie het as sy boerebrode bak, beskerm die binnehof en die vertrekke van die buitewêreld.
Die ironie is dat Hansheinrich von Wolf hierdie kasteel spesiaal vir sy bruid, Jayta, laat bou het, net om dit ná 5 jaar te verlaat. Die aantreklike man het in 1904 in die Duitse Schutztruppe geveg en in die proses die Maltahöhe-distrik ontdek.
Hansheinrich en sy vrou besluit toe dat hulle op die plaas Duwisib wil bly waar die kasteel ’n jaar lank gestalte gekry het.
Die “baron” en “barones”, soos die inwoners respekvol na hulle verwys het, het met Australiese en Britse perde geteel wat ook uiteindelik hul ondergang sou beteken. Hulle het nog 55 000 ha grond bygekoop waarop hulle vriende in styl onthaal het. Cracker-Jack en Benito was twee van hul hingste wat die Namib se wilde perde uit die veiligheid van hul stalle bekyk het.
Maar die Von Wolfs se geluk was van korte duur. In 1914 vertrek die paartjie Duitsland toe om nog perde te gaan koop en beland midde-in die Eerste Wêreldoorlog. Hansheinrich het summier by die Duitse magte aangesluit, maar het in Frankryk gesneuwel in 1916.
Jayta het hierna hartgebroke in München agtergebly, weer getrou en nooit teruggekeer na haar nou verlate woestynkasteel nie.
Die gebou, wat destyds gewemel het van lyfknegte, huishoudsters en sjefs, het ’n onbelemmerde uitsig op die Namibiese hinterland waar kameeldoringbome poele koelte oor die dorheid gooi.
Vandag is dit ’n toeristebestemming waar mense onbelemmerde toegang tot die antieke meubels en vertrekke het.
Dit voel omtrent of die baron oor jou skouer tuur as jy aan sy beroemde slaapkamerkas peuter waarvan die sleutelgat so diep weggesteek is, dat ’n toergids jou moet wys hoe om dit oop te sluit.
KASTEEL VAN ’N ANDER AARD
Nóg ’n kasteel, alhoewel van ’n meer moderne aard, is die Le Mirage-gebou wat tussen Wolwedans en Sossusvlei langs die pad lok met sy uittand-torinkies wat lyk nes die kastele in tradisionele skaakstelle.
Wat weer hier tref, is die geel gras wat agter die lodge teen die berge uitgolf.
Dit is asof iemand ’n klomp skaak-kastele van ’n speelbord bymekaargemaak het en hier in die middel van die woestyn kom neersit het.
Trotseer jy die son wat die parkeerterrein looi, kom jy op ’n reuse-swembad af wat deur die geboue gekoester word.
Palmbome troon op elke hoek uit oor die water.
Een van die unieke bekoringe van die lodge is die slaapkamer onder die sterre. Heel bo op die gebou kan verliefde paartjies ’n matras onder die sterre neersit en aan die maan probeer vat terwyl hulle gereedmaak om te slaap.
Daar is selfs kragpunte vir bedlampies langs die bed, gebou van stene, met storte en badkamers ’n klipgooi ver in die opelug.
Van hier af lei alle paaie na Sossusvlei waar dooie boomstompe soos gevriesde ballerinas poseer teen rooi sandduine en spierwit opgedroogde modder.
Sossus is en bly een van die mooiste en mees asemrowende toeriste-aantreklikhede in Namibië.
Verblyf
- Wolwedans: 00 264 61 230 616 www.wolwedans.com
- Duwisib: 00 264 61 224 900 www.nwr.com.na
- Le Mirage: 00 264 63 683 019 www.leadinglodges.com
- Sossusvlei Lodge: 021 930 4564 www.sossusvleilodge.com

Baron Von Wolf het die Duwisib-kasteel spesiaal vir sy bruid Jayta, laat bou, net om dit ná 5 jaar te verlaat. Foto’s: Leon van Nierop

By die Le Mirage-kasteel is daar die lafenins van ’n swembad in die woestyn.

’n Springbok loer onder die skadu van ’n eensame boom uit.