Hoedspruit, ’n paradys
2012-01-28 06:00
Tussen die majestueuse kranse van die Abel Erasmus-pas deur sou ’n mens nie kon dink dat die wêreld se naasgrootste canyon (naas die Grand Canyon in Amerika), die Blyderivier-canyon, daaragter skuil nie.
Verlaat Johannesburg dus voor 12:00 as jy die volle glorie hiervan wil ervaar en rustig wil ry om die boosaardige gate in die pad te mis wat jou soos ’n boef om elke draai bekruip. Die rit het my ses uur geneem.
Maar wat wag, is watervalle, mango-boorde, eeue oue bome, die nimmereindigende bekoring van die bos, die intieme ervaring met ’n wilde dier wat jou hart dieper as diep raak – alles in en om dié nederige dorpie.
Volgens oorlewering het een van die dorp se pioniers ná ’n tog oor die berg sy hoed afgehaal en glo in ’n rivier hier gegooi en gesê: “Dís waar ek gaan bly.” Die dorp is toe Hoedspruit genoem.
Daar is talle kuierplekkies in Hoedspruit waar jy staaltjies, die jongste nuus en aanbevelings oor kuierplekke te hore sal kom.
Maar dis ’n aardige gedagte om te dink dat ons skaars drie weke gelede ’n glasie geklink het op reën wat die warm Hoedspruit-gebied gelawe het. En geen druppel nie – totdat ons sewe dae later saam met die reën weer in die pad geval het – 300 km aaneen.
Nou worstel mens en dier hier onder die gevolge van die hewige vloede. Sommige lodges moes hul deure tydelik sluit. Maar dis des te meer rede om hulle ná die drama met ’n kapitaalinspuiting van toerisme te steun.
Die bos bly pragtig. Hoedspruit lê in die hart hiervan, tussen twee van ons land se groot juwele, die Krugerwildtuin en die Blyderiviercanyon, aan die voet van die Drakensberge tussen die twee riviere wat nou soveel amok gemaak het.
Maar dis ook die Olifants- en Blyderivier wat sorg dat met tropiese vrugte geboer kan word en die gebied groen en dig bebos is. En behalwe vir die renosterstropery wat die gebied hard tref, is daar min of geen misdaad.
Hoedspruit is ideaal vir ’n wegbreek – die eens stillerige bosdorpie wat nou uit sy nate bars met deli’s en restaurante. Perfek as basis om die groter gebied met sy spesiale mense te ontdek.
Die Hlokomela-gemeenskapsprojek het met ’n kruietuin-inisiatief begin wat werk verskaf en so ook kruie aan die plaaslike lodges, hotelle en restaurante verskaf; die Rhino Revolution is onlangs gestig wat saam met Protrack aktief besig is om inisiatiewe uit te brei wat saam met die gemeenskap vir die behoud van ons renosters baklei; en Brian Jones van die Moholoholo-rehabilitasiesentrum veg om die oorlewing van bedreigde spesies.
En as jy die bos vroegoggend wil verken, gaan jy die verhouding tussen mens en dier hier beleef en beslis jou hart op ’n mak jagluiperd, seekoei of aasvoël verloor.
Hoedspruit-wenke
- Bespreek jou verblyf, maar moenie te veel wildritte (van sowat vier uur elk) voor die tyd bespreek en betaal nie. Dit kan uitputtend raak. As jy nie ’n te vol program het nie, kan jy langer vertoef by plekke waarvan jy baie hou.
- Die tolpaaie is goed, maar die pad, veral ná Lydenburg, is vol gate. Besoek die omgewing liefs met ’n 4x4-voertuig.
- Verwag om tot R80 by die ingang van ’n reservaat te betaal en sorg dat jy kontant hiervoor het. Die spoedgrens binne reservate is 30km/uur en word streng gemonitor.
Doen-dinge
- As jy geskenke huis toe wil neem, besoek die Bombyx Mori-syplaas buite Hoedspruit op die 24° South Country Estate – die enigste kommersiële sywurmplaas in die land (015 795 5564). Hier word ook syprodukte soos beddegoed en serpe verkoop, maar die sy word ook in poeiervorm in bad- en kosmetiese produkte saam met essensiële olies van byvoorbeeld die maroela- en krematartboom gebruik.
- Jou besoek is nie volledig as jy nie vir ’n bootrit op die Blydedam was nie. Dit is ook die enigste manier om een van die wêreld se min tufa-watervalle te siene te kry – Kadishi. Dié soort waterval word gevorm wanneer water oor dolomietklip vloei en die kalsium daarin geabsorbeer word.
- Die mos wat op die oppervlak groei, gebruik weer die koolstofdioksied tydens fotosintese. Dit laat die kalsium oor miljoene jare in harde tufa-lae neerslaan wat nie deur die water weggevreet word nie. Die boot vaar ook deur die “kraamsaal” waar die seekoeie jaarliks geboorte gee. ’n Bootrit kos R100 persoon en kan deur die Blyde-canyon-avontuursentrum bespreek word. Hulle neem slegs kontant.
- Die skakel www.kwathabeng.co.za/limpopo-marulaneng-hoedspruit-activities.html gee jou ’n volledige oorsig van wat jy alles hier kan doen.
Gaan soek regte kremetart
As jy hoor van die bekende groot krematartboom, maak seker jy ry na die regte een waarna jy soek.
Die krematartboom op pad Phalaborwa toe, en dan in die rigting van Tzaneen, is ’n ver ent uit Hoedspruit. Daar gekom, is daar nie eens water te koop nie – net ’n leer om vinnig op en af teen die boom te klim. Die snaaksste deel van dié uitstappie was die naam van die hotel op pad – Fawlty Towers.
Die ander krematartboom waarvan jy sal hoor, is die enorme meneer in Hoedspruit wat ’n paar jaar gelede omgeval het. Daar kry jy darem die Upside Down-restaurant – ’n oulike plekkie wat verskillende soorte pannekoek bedien.
Die boom waarna ons eintlik op soek was, is nog verby Tzaneen – The Sunland Big Baobab in Modjadjiskloof, met sy bekende boomkroeg – die moeite werd om te besoek.
Verblyf: sakpas tot luuks
- Trackers: As jy ’n klein karretjie het, gaan dié pad ’n kopseer wees, veral as jy die aand êrens elders wil gaan kuier. Die huisies lê hoog teen die Klein Drakensberg, net buite Hoedspruit, met ’n pragtige uitsig oor die Laeveld en vallei teen die Blyderivier-canyon. Selfsorghuisies kos R230 per persoon per nag. Dit is eenvoudig, maar het alles wat jy nodig het, soos beddegoed en handdoeke, ’n stort, ’n waaier, yskas, braaigeriewe en privaatheid. Dit is naby gewilde aktiwiteite en na genoeg aan die dorp.
Skakel: 082 494 4266.
- Moholoholo Forest Camp:
Hier moet jy sommer langer bly totdat al die diere in jou hart inkruip.
Dit kos R 1?460 per persoon per nag en sluit ’n besoek aan hul diere-rehabilitasiesentrum plus drie etes in.
Ape en bokke baljaar mak om jou houthuis in die bos, toegerus met ’n luukse bad en stort, waaier en romantiese muskietnette oor ’n groot bed.
Etes word in die lodge en boma bedien.
Skakel: 015 795 5236.
- Royal Legend Safari Lodge op Timbavati:
Vir dié luukse en eksklusiewe ervaring sal jy R3?500 per persoon opdok. Dit sluit natuurlik ’n spesiale verwelkoming, al die etes en wildritte en ’n weelderige chalet in. Hulle het ook ’n private spa. Die ontspanningsgebied het ’n kroeg en swembad teenaan ’n verligte watergat wat deur olifante en bokke besoek word. Die hotel teiken hoofsaaklik oorsese gaste, maar dit sal interessant wees om te sien watter benadering gevolg gaan word sedert die Status-hotelgroep dit onlangs oorgeneem het.
Skakel: 011 729 6700.
Besoek www.hoedspruit.co.za om jou vakansie hier te beplan.

Vars mango’s, lietsjies en makadamianeute word oral langs die pad verkoop. Foto’s: Samarie Smith

Die Blyderivier-canyon is asemrowend mooi met majestueuse kranse en welige groen bosse teen die hellings.

’n Groot ou kremetartboom op pad na Tzaneen. Ongelukkig was hier geen kroeg soos mense vertel het nie. Maak seker jy ry na die regte boom toe!